Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Turkye ’n toevlug vir mens en dier
’n Groepie honde baljaar uitbundig in die Sultanahmet-park voor die Hagia Sophia in Istanbul. Foto: Eben Human

Daar is deesdae ’n direkte vlug van Turkish Airlines vanaf Kaapstad na Istanbul – ’n stad wat reeds meer as 13 miljoen besoekers jaarliks trek. Die nuwe lughawe is yslik groot, maar hy gaan oor die volgende paar jaar aansienlik uitgebrei word.

My vertrektyd was om 17:00 die Sondagmiddag vanaf Kaapstad en 11 ure later het ons om 05:00 die oggend (Turkse tyd) in Istanbul geland.

Dit was maklik om vir 45 minute met die bus tot in die hartjie van die stad na Sultanahmet te ry en ’n kort entjie te stap na die eerste blyplek.

Maar my eerste tree in Istanbul het so byna noodlottig geëindig. Ná al die waarskuwings van vriende oor die verleidelike koservaringe en die byna geruislose tremme, klim ek van die bus. Met my tweede tree blaas ’n trem sy toeter en toe moes hierdie Kapenaar spring.

Hierna het alles seepglad verloop. Van die honde en katte het jy vooraf heelwat gehoor en merk hulle sommer gou op.

So stroom duisende plaaslike inwoners en toeriste elke dag deur die byderwetse Beyoglu-buurt van Istanbul. Hier is ook kunsgalerye en musiekwinkels. Foto: Eben Human

Wagter lê in die middel van die sypaadjie en slaap, en in elke stil stegie of straatjie sluip daar ’n kat of twee. Maar hierdie honde en katte het ander maniere as ons eie troeteldiere.

Wyle Al Debbo het met sy liedjie oor die Turffontein-brakke gekla dat hulle hom uit die slaap gehou het met hul blaffery. Ons honde kan nogal aggressief wees, maar die honde van Turkye is soos die Turke self – vriendelik, stil en verdraagsaam.

Die Istanbul-mense kom ook maar so 10:00 die oggend geleidelik aan die gang. Naby die Blou Moskee speel daar vroegoggend ’n paar vriendelike honde met mekaar terwyl ek op pad was om ’n veerboot te haal. As jy soos die plaaslike inwoners die groot publieke boot gebruik, kos ’n retoerkaartjie jou maar R24.

Na 90 minute kan jy al die vierde Prins-eiland bereik. Met die afklim sien jy ’n kat in die son lê en bak langs ’n standbeeld. Hier is perdekarritte, maar dit was lekkerder om rond te stap en lank na middagete terug te keer na die stad.

Jou besoek aan Istanbul moet jy mooi beplan, want daar is sommer baie om te sien en te beleef. Die Blou Moskee, die Topkapi-paleis, Hagia Sophia, Basilika-sisterne en Grand Basaar wil al die toeriste sien. Dit alles in die omgewing van Sultanahmet.

Die genoemde plekke was almal indrukwekkend, maar vir my was ’n besoek aan die argeologiese museum en die Gesonke Paleis (Basilika-sisterne) ook hoogtepunte.

Kry maar dadelik die plaaslike kaartjie vir bus- en tremvervoer wanneer jy in Istanbul land. Met hom kan jy dan maklik na die byderwetse Beyoglu-buurt reis waar die Galata-wagtoring van die 14de eeu die trotse baken is.

Ons het na ’n kort toer deur die land teruggekeer na die Beyoglu-buurt, waar daar tyd was om ook die Pera-kunsmuseum te besoek.

Die bootvaarte in die aand op die Bosporus is baie gewild. Dit sluit gewoonlik ’n ete en vermaak in.

Kietsie het rustig bo in die boom gerus terwyl honderde toeriste verby gestroom het om die unieke rotsformasies van Kappadosië te bewonder. Foto: Eben Human

Die binnelandse vlugte is relatief goedkoop en ons het eers na Kappadosië gevlieg en Goreme as basis gebruik. Hiervandaan het ons na Izmir gevlieg en twee dae later met die trein na Selçuk gery.

Van Selçuk is jy dan goed geposisioneer vir twee groot hoogtepunte – die ruïnes van Efese en Pamukkale met sy spierwit gesteentes wat ook deur die Romeine as spa benut is.

Daar is baie opsies as jy verder in die land wil reis. Ons het met die bus van Izmir kuslangs na Ayvalik gery. Die verblyfplek was toe ’n klein boetiekhotel in ’n ou Griekse gebou van 116 jaar. Hiervandaan kon jy elke dag met ’n veerboot of bus na Cunda-eiland ry wat voor 1924 nog Griekse gebied was.

Oral waar jy reis, is jy altyd bewus van die honde en die katte. Dit was eers baie anders. Baie honde is doodgemaak en vergiftig voordat daaroor groot opstande hieroor was.

Buite kafees en winkels sien jy dikwels kos en waterbakke. Op sommige plekke wemel dit behoorlik van die katte.

Eers van 2004 was die nuwe wette in plek en het die diere groter beskerming gekry. Nou word jy kwaai gestraf as jy diere mishandel of nie kos gee nie.

Die Turkse regering maak seker dat die honde geregistreer word en jy sien hul merkers aan hul ore. Die inentings en ander behandeling vir honde en katte word deur die regering voorsien.

Buite kafees en winkels sien jy dikwels kos en waterbakke. Op sommige plekke wemel dit behoorlik van die katte.

Dit lyk nie of die honde daarvan hou om vertroetel te word nie en gee dikwels gou pad wanneer iemand aandag aan hulle gee. Dit was egter opvallend hoe rustig hulle was – amper asof hulle nou die honde-hemel in Turkye gevind het.

Vir my was ’n eerste besoek aan Turkye ’n baie positiewe ervaring en inspirerend. Jy kon elke dag uitsien na heerlike Turkse kos en dit was maklik om na ander dele van die land op binnelandse vlugte of met die trein of bus te reis.

Die Turke se bestuursvernuf was verstommend, maar dit sou ’n uitdaging wees om Istanbul met jou eie motor aan te durf. Die land se toerisme word egter baie goed gereguleer en jy voel altyd veilig – net die plek om te besoek as jou eie land jou dalk neerslagtig laat voel.

Meer oor:  Turkish Airlines  |  Istanbul  |  Turkye  |  Kaapstad  |  Reis  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.