Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Tussen treine in Viëtnam

Die Reunification Express is ’n simbool van Viëtnam se herlewing ná dekades van konflik en oorlog. Iga Motylska klim op en volg die kronkelpad deur die land se geskiedenis.

’n Deel van die treinspoor in Train Street, Hanoi. Foto: Iga Motylska

My glas ystee vorm druppels in die tropiese hitte. Van my tafeltjie by die spoorwegkafee in Train Street – tot onlangs toe een van Hanoi se gewildste toerismetrekpleisters – kyk ek na die tonele wat voor my afspeel. Grys omies speel dambord, jillende kinders sigsag oor die treinspore, en bokant my kop hang vroue hul wasgoed op.

Ewe skielik weergalm ’n treintoeter tussen die geboue – soos die balletjie in die Brick Breaker-videospeletjie wat ek as kind gespeel het.

Asof ’n onsigbare vinger aan ’n ry domino’s tik, word ’n kettingaksie in werking gestel. Ewe skielik is almal in rep en roer en ’n fyn gechoreografeerde opvoering volg.

Die houttafeltjies en stoele langs die treinspore word haastig opgestapel, kinders word binnetoe geboender, tannies jaag sluimerende honde van die treinspore af.

Die ou Viëtnamese vlae en rooi papierlanterns bokant ons koppe is nou die enigste tekens van lewe.

Die “opvoering” is ’n daaglikse verskynsel in Train Street in Hanoi se Ou Kwartier, wanneer die Reunification Express stadig deur die nou stegie rammel.

Train Street is die laaste gedeelte van die trein se reis, wat 1 726 km suid van Hanoi in Ho Chi Minh-stad (HCMS) begin het en in Ga Hà Nôi, Hanoi se treinstasie, eindig.

Die inwoners reël hul lewe rondom die Reunification Express se treinrooster.

’n Tempel in Hanoi se Ou Kwartier.

Solank daar nie ’n trein op die spore is nie, is dit hul leefruimte, hul binnehof of tuin.

Tot onlangs toe was die treine net nog ’n daaglikse roetine van hul lewe. Maar met die opkoms van sosiale media en Instagram het dit in ’n gulde ekonomiese geleentheid ontaard vir ’n arm buurt toe oorsese toeriste agtergekom het ’n selfie in ’n nou stegie met ’n trein wat op jou afpyl laat jou klikke op Instagram klim. Kafeetjies langs die treinspoor het soos paddastoele opgespring.

Verlede jaar het Train Street egter ’n slagoffer van sy eie gewildheid geword, toe die Viëtnamese departement van vervoer die stegie gesluit het omdat dit ’n veiligheidsrisiko vir die inwoners en toeriste inhou. (Sien kassie hierby.)

Die toeter blêr al hoe harder en almal kloek saam agter ’n heldergeel lyn, wat die veilige ruimte afsper. Die trein klak-klak verby, ek skat die afstand tussen my en die treinwaens is ’n rapsie meer as ’n meter.

Toe die trein verby is, word alles weer netjies uitgepak, soos merkers op ’n dambord, voor-dat die spel weer van voor af begin.

Flitse van turkoois, soos die trein verby die Suid-Chinese See ry.

Op Viëtnam se geskiedenisspoor

Vyf dae later haal ek die oornagtrein op die Reunification Express, vanaf Hanoi tot Danang, sowat 800 km suid van die hoofstad.

Die Reunification Express verwys nie na een trein nie – dis ’n sambreelterm vir die hele Viëtnamese spoorwegstelsel en die treine wat deur dié nou Suidoos- Asiatiese landjie kronkel.

Viëtnam is ’n voormalige Franse kolonie – saam met Kambodja en Laos het dit deel uitgemaak van die Franse Indo-China. Die Franse het reeds in 1899 begin bou aan ’n spoorlyn wat die noorde van Viëtnam met die suide sou verbind. 37 jaar en 1 726 km later is dit voltooi.

’n Treinrit van Hanoi na die destydse Saigon (vandag Ho Chi Minh-stad) het jou in 1936 twee en ’n halwe dag geneem, ’n totaal van sowat 60 uur.

Daarna is die land dekades lank deur oorlog geteister, eers deur die Japannese in die Tweede Wêreldoorlog, daarna met die Eerste Indo-Chinese oorlog toe genl. Ho Chi Minh in 1945 Viëtnam onafhanklik van Frank­ryk verklaar het.

Wasgoed hang in die woonstelletjies rondom Train Street.

In 1954, nadat die Franse uit Viëtnam onttrek het, word Amerika Suid-Viëtnam se belangrikste militêre bondgenoot in die Viëtnamese oorlog. Die Viëtnamese verwys na die oorlog tussen die kommunistiese noorde – gelei deur Ho Chi Minh – en die kapitalistiese suide – met ondersteuning van Amerika – as “Die oorlog van verset teen Amerika”.

Kort ná die val van Saigon in 1975 breek daar sonde met die bure uit, toe Kambodja onder beheer van Pol Pot se Khmer Rouge was.

In die oorlogsjare is groot gedeeltes van Viëtnam se spoorwegstelsel vernietig.

Tydens die oorlog van twee dekades lank met Amerika was die spoorlynstelsel ’n lewenslyn vir albei kante.

Tenks, ammunisie, troepe en proviand is per trein na die gevegsfronte vervoer, wat die spoorweg ook ’n strategiese teiken vir albei kante gemaak het.

Teen 1954 – nadat die gedemilitariseerde gebied naby Hue gevestig is en al langs die 17de noordelike breedtekring geloop het – was dit onmoontlik om per trein van die noorde tot die suide van die land te reis.

15 maande ná die val van Saigon in 1975 is die land op 2 Julie 1976 herenig as die Sosialistiese Republiek van Viëtnam. Die nuwe regering het al die sekondêre treinroetes afgebreek en ’n nuwe hoofspoorweg gebou. 158 treinstasies, 1 334 brûe, 1 370 wisselaars en 27 tonnels is ook herstel. Op 31 Desember 1976 vertrek die eerste trein van die Reunification Express op sy eerste reis, ’n simbool van die herlewing en hereniging van Viëtnam.

’n Viëtnamese vrou loop verby Train Street.

’n Feesmaal vir die oog

Vandag sal ’n rit tussen Hanoi en Ho Chi Minh-stad jou ongeveer 36 uur neem, hoewel die trein se topspoed sowat 50 km/h is, net ’n rapsie vinniger as sy Franse voorganger.

My reis na die suide, ongeveer halfpad tussen Hanoi en Ho Chi Minh-stad, neem tussen 15 en 16 uur en ons kom om 12:00 in Danang aan.

Treinry in Viëtnam is een groot visuele fees. Die 15 uur op die trein gee vir ’n mens genoeg tyd om te kyk hoe die panoramas van die land by die trein se venster verby flits, amper soos ’n lang spoelfilm. Elke raampie vertel ’n ander storie.

Vissersbote dobber in die vlak water van die Suid-Chinese See.

’n Waterbuffel en sy eienaar ploeg ’n rysland ter voorbereiding van die planttyd. Plaaswerkers met keëlvormige bamboeshoede skoffel in die landerye. Kinders speel in modderige waterpoele, en piesangplantasies flits verby in ’n groen waas.

Wanneer die trein die kuslyn nader, smelt smaraggroen woudbedekte karstheuwels saam met die turkoois Suid-Chinese See. Ek kyk hoe vissermanne hul nette uitgooi in die vlak water.

Die trein kronkel verby strandmere en baaie. ’n Hoogtepunt van die treinrit is die 21 km lange Hài Vân-bergpas, wat “See van wolke” beteken. Die naam verwys na die mis van die see wat inrol, en die Annamese bergreeks – waarvan die Hài Vân-bergpas deel vorm – in ’n silwer miskleed bedek.

Soos ons verby die sonskyngeel spoorwegbuiteposte klak-klak-klak, dink ek hoe die Viëtnamese spoorlynstelsel nog altyd ’n konstante was deur Viëtnam se wispelturige politieke en sosio-ekonomiese geskiedenis.

Iga Motylska

Die eerste dwarslêer is gelê nog voordat daar geteerde paaie was, en mettertyd het die klein pondokkies langs die spore in stede ontwikkel.

Voordat ek Viëtnam toe is, het ek verskeie artikels gelees oor die verskille tussen die Viët­namese van die noorde en die suide – wat alles van werksetiek, kosvoorkeure en modesin genoem het.

Daar was verskille tussen die twee streke se inwoners wat aan verskeie geografiese en geskiedkundige faktore toegeskryf kan word – nes enige ander land ter wêreld.

Maar vir elke stereotipe en veralgemening waaroor ek gelees het, was daar ook talle uitsonderings.

So, sonder om ook te vereenvoudig, miskien is dit die maatstaf vir ’n land se hereniging en oorgang: Om vrede daarmee te maak dat sy inwoners net soveel verskille as ooreenkomste het.

  • Iga Motylska is ’n voormalige hoofredaksielid van Forbes Africa en ’n vryskut-reisjoernalis.
Só ry die trein

Bespreek jou kaartjie

Jy kan voor die tyd kaartjies koop by die Viëtnamese spoorweg se webwerf vr.com.vn, wat dit dan na jou e-pos of direk na die Ga Hà Nôi- treinstasie in Hanoi e-pos, waar jy dit afhaal. 

Plaaslik is daar talle reisagente in Hanoi se Ou Kwartier wat vir jou teen betaling kaartjies kan bespreek.

’n Eenrigtingkaartjie van Hanoi tot Ho Chi Minh-stad in ’n vierbedslaapkajuit met ’n sagte bed kos sowat R820.

Kies jou klas

Die meeste treine het vier klasse: harde sitplekke, sagte sitplekke, en dan harde en sagte slaapbanke. Daar is nie ’n groot prysverskil tussen die harde en sagte slaapbanke nie, so kies liewers die sagte slaapbanke. Daar is ses beddens in ’n “harde- slaapbank”-kajuit, en vier beddens in ’n sagte-slaapbank-kajuit. In albei is daar stapelbeddens, met ’n boonste en onderste bed.

Elke kajuit is lugverkoel en elke bed is toegerus met ’n individuele leesliggie, ’n kragpunt en beddegoed.

As jy puntenerig is oor jou privaatheid en ruimte, bespreek ’n private BBP-kajuit.

Skedule

Die roosters verskyn op die Viëtnamese spoorweg se webwerf. Vier treine vertrek daagliks in ’n noordelike en suidelike rigting, twee in die oggend en twee in die aand.

Spys en drank

Elke passasier kry ’n bottel water en jy mag jou eie kos en verversings aan boord bring. Daar is ook gratis koue water en kookwater beskikbaar in elke treinwa. Daar is ’n snoepietrollie met verversings en jy kan by die eetwa kos bestel.

Toeriste en gidse dra tot sluiting by

Tydens my besoek aan Train Street in April 2019 was dit nog in volle gang en het treine tussen die geboue deurgeskuur.

Die sogenaamde Train Cafes was ’n opbloeiende restaurantkultuur waar jy “pho” – Viëtnamese noedelsop – kon eet en ’n 333-bier kon afsluk.

Die toeriste, wat ’n broodnodige inkomste na die gedeelte van Hanoi gebring het, het egter in ’n oorlas ontaard, en Train Street is in Oktober 2019 amptelik ge-sluit.

Die minister van vervoer, Nguyên Van Thiêu, het in November 2019 gesê hy ondersteun glad nie die ondernemings wat by Train Street bedryf word nie en het die Hanoise owerhede aangesê om die inwoners van die straat so gou moontlik te verplaas, berig The VN Express.

“Die meeste mense wat in Train Street bly, is afgetrede spoorwegwerkers wat 50 jaar gelede hier huise gekry het

’n Toeris wat deur ’n trein raakgery word, is nie goeie publisiteit nie, en nou word die plaaslike inwoners ook benadeel deur van hul dekade oue wonings geskuif te word.

“Die treintoeriste was nog altyd goeie nuus, maar nou is Train Street se inwoners so bietjie vies vir hulle omdat hulle moontlik verplaas gaan word,” vertel Kobus Kotze, ’n Suid-Afrikaner wat in Hanoi werk.

“Die toeriste steur hulle nie aan veiligheidsreëls nie en plaas hulself in gevaar.

“ ’n Toeris wat deur ’n trein raakgery word, is nie goeie publisiteit nie, en nou word die plaaslike inwoners ook benadeel deur van hul dekade oue wonings geskuif te word.”

Hoewel die straat amptelik gesluit is, steur sommige “guerrilla”-gidse en toeriste hulle nie eintlik aan die nuwe reëls nie, sê Kotze.

Op TripAdvisor se besprekingsforum skryf Rich1800, wat Hanoi onlangs besoek het: “Tot ons teleurstelling wou die polisie ons nie inlaat nie. Twintig treë verder tik iemand my egter op die skouer en vra of ek steeds Train Street wil besoek, ek moes net vir ’n drankie by sy restaurant betaal.

“Ons is deur die agterdeur van ’n winkel ingesmokkel. Die drankies was billik geprys en dit was darem nie ’n slenter nie.”

Meer oor:  Viëtnam  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.