Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Twaalf maande van vakansie

Om te weet wat jou vakansie-opsies vir elke maand van die jaar is, is beslis nie te versmaai nie. Ek het by Sue Garrett van die Flight Centre-reisgroep gaan aanklop om uit te vind waarheen jy wanneer moet gaan. 

JANUARIE: Maak ’n draai in Thailand.Foto: Envato

JANUARIE

Vir baie mense is Nuwejaar ’n teken om huiswaarts te keer ná ’n heerlike somervakansie. Tog is Januarie eintlik ook die ideale maand om met vakansie te gaan. Met Kersfees en Nuwejaar se chaos agter die rug, sal die meeste vakansiegangers begin terugkeer huis toe en namate vakansieplekke leegloop, maak dit plek by gewilde bestemmings soos Thailand. As jy nog nooit in Thailand was nie en nog altyd wou gaan, is dit ’n maklike bestemming om op die ingewing van die oomblik te besoek, aangesien hulle geen visums van Suid-Afrikaanse reisigers vereis nie.

Kyk of jy nie in Dubai kan stop vir die Dubai Shopping Festival nie – dit is nou as jy ’n sakgeldjie oor het ná die besige feestyd.

FEBRUARIE: Ontsnap van Suid-Afrika se hitte en mik Ysland toe, na die Blue Lagoon. Foto: Pixabay

FEBRUARIE

Die noorderlig is vir menige reisiger ’n verskynsel wat gesien moet word. Die beste tyd om dit te aanskou is tussen Oktober en Maart en daarom is Februarie die perfekte tyd om dit van jou wenslys af te merk. Met Valentynsdag wat op 14 Februarie val, is dit ’n gulde geleentheid om ’n ander tipe bestemming te besoek vir ’n romantiese wegbreek.

Ysland kan, ten spyte van die koue, baie romanties en uniek wees. Ontspan in die helende water van die Blou-strandmeer, besoek Viking-wêreld in Reykjanesbær en sien die Eyjafjallajökull-vulkaan en die Swartsand-strand. Die ysige, vars lug sal jou boonop goed doen en jou sommer ’n hupstoot gee om die res van die jaar met nuwe energie aan te pak.

MAART: As jy nie in Ierland kan uitkom vir St. Patrick- dag nie, oorweeg dan Chicago, waar die Chicagorivier grasgroen gekleur word om dié dag te vier.Foto: Pixabay

MAART

Van al die bestemmings wat jy kan besoek, is Ierland tien teen een boaan die lys vir Maartmaand. St. Patrick-dag (17 Maart) is tipies Iers en hoe dan nou anders as om dit in Ierland te vier? Behalwe vir die St. Patrick-dag-vieringe, is die keisteenbinnehof van Trinity Col-lege in Dublin en die beeldskone Cliffs of Moher ook iets om te beleef.

Chicago is ’n ander alternatief indien Ierland nie op jou wenslys is nie. Vier St. Paddy’s in die lieflike stad wanneer die Chicagorivier groen gekleur word.

Het jy geweet dat Chicago se loodgietersunie die Chicago­rivier met 18,14 kg kleursel vir St. Patrick-dag kleur? Die kleursel is eintlik oranje en verander eers tot groen wanneer dit met die water meng. Hulle het in 1962 om en by 45 kg kleursel gebruik en die rivier was ’n hele week lank groen!

APRIL:Die perfekte maand om somer in Europa te geniet.

APRIL

Aprilmaand beteken die begin van die Europese lente en die beste plek om dit ten volle te beleef is in Keukenhof, Nederland. Hier blom meer as 7 miljoen tulpe, affodille en hiasinte – ’n paradys van kleur en geur.

Dis ook in April wanneer Japan se kersiebloeisels in Kioto en Osaka blom – ’n ander beeldskone natuurverskynsel wat beslis die moeite werd is om te sien. Met dié dat April ook ’n skoolvakansie insluit, is daar dalk net kans vir ’n paar ekstra dae oorsee.

Wanneer jy jou vakansie vir die volgende jaar beplan, maak seker dat jy die vakansiedae en skoolvakansies in ag neem. Dit help jou nie net om so min as moontlik verlof in te sit nie, maar help jou ook om jou begroting te laat klop.

MEI: Griekeland is op sy mooiste in Mei.Foto: Pixabay

MEI

Meimaand is die perfekte tyd van die jaar om Griekeland te besoek. Die lieflike sonskyndae en lae reënval maak van Griekeland die ideale plek om met ’n groep vriendinne die eilande en hul strande te verken. Maak gebruik van die geleentheid om die Griekse eilande te verken terwyl die manne middel Mei die Spaanse Formule 1 Grand Prix in Barcelona bywoon.

Adrenalienverslaafdes en sportfanatici sal ook gaande wees oor die maand se reiskeuses met die FA-beker-eindstryd wat op 18 Mei in die Wembley-stadion in Londen plaasvind en die Monaco Formule Een Grand Prix wat van 23 tot 26 Mei gebeur.

JUNIE: ’n Besoek aan Brugge in België is perfek dié tyd van die jaar.Foto: iSTOCK

JUNIE

Indien jy lief is daarvoor om verskillende feeste en markte te verken, is België beslis een van die beste opsies in Juniemaand. Hier kan jy by feeste soos Sfinks, Couleur Café, Graspop, Gent, die internasionale EDM-fees en Tomorrowland van jou sorge vergeet en dans.

Die plaaslike Comrades-wedloop is ook iets om na uit te sien. Deelnemers spring op 9 Junie in Durban weg en die wedloop bied beslis ’n geleentheid vir ’n vinnige wegbreek uit die alledaagse gejaag.

Jeugdag, wat op ’n Sondag val, spoel oor tot die Maandag 17 Junie en sorg dus vir ’n heerlike langnaweek wat jy beslis tot jou voordeel kan gebruik.

JULIE: As jy ’n tennisliefhebber is, maak sommer nou al plan om volgende jaar Julie Wimbledon te gaan kyk.Foto: Pixabay

JULIE

Juliemaand gaan dalk hand aan hand met winter in Suid-Afrika, maar namate Europa dan weer warmer word, is daar vele opsies vir ’n midjaar-ontsnapping. Sportfanatici kan uitsien na die Tour de France wat op 29 Junie begin en tot 21 Julie duur. Die Duitse Formule Een Grand Prix vind van 26 tot 28 Julie plaas en Wimbledon sal tennisliefhebbers van 1 tot 14 Julie op die rand van hul stoele hou.

Italië is altyd ook ’n goeie keuse. Aangesien die skole eers op 9 Julie heropen, kan jy in Rome kuier en ’n pizzaklas saam met jou gesin bywoon. Italië is natuurlik ook bekend vir sy gelato, waarvoor baie min mense nee kan sê.

AUGUSTUS: Die La Tomatina- fees – ’n tamatiegooi-fees wat in Buñol, Spanje, plaasvind – beloof om groot pret te wees.Foto: iSTOCK

AUGUSTUS

Augustusmaand in Spanje is warm en dis juis dan wanneer dié bestemming met lang somersaande en ’n feestelike atmosfeer uit sy nate bars. Die warm weer is ook ’n gerieflike verskoning om hul heerlike, verfrissende sangria te geniet. Die La Tomatina-fees – ’n tamatie-gooi-fees wat in Buñol plaasvind – behoort ook ’n opwindende en onvergeetlike ervaring te wees. Maak jou dus op die laaste Woensdag van Augustus gereed vir ’n behoorlike mik-en-gooi-geveg.

Maak gebruik van die vakansiedag op 9 Augustus en benut die ekstra tyd om na Marokko of Portugal oor te hop.

SEPTEMBER: Besoek gerus New York dié tyd van die jaar.Foto: Pixabay

SEPTEMBER

Warm “Indiese somers” kom gereeld in Noord-Amerika, Europa en Asië voor. ’n Indiese somer in die VSA word aan warm, droë weer tydens hul herfsmaande gekenmerk. Beleef dit in New York en besoek die Rockefeller-sentrum waar jy oor die stad kan uitkyk of neem jou kiekies vanaf die Vryheidstandbeeld.

As jy nader aan die huis wil reis, is Hermanus se Walvisfees van 20 tot 24 September iets om na uit te sien. Erfenisdag is juis op 24 September.

OKTOBER: Dis nie so warm hierdie tyd van die jaar nie, so gaan ontmoet die sfinks van aangesig tot aangesig in Egipte. Foto: Pixabay

OKTOBER

Egipte is ’n baie bekende bestemming in Oktober, deels omdat dit dan nie so warm is nie. Maak die avonturier in jou wakker en vind jou pad deur die kakofonie van Kaïro voordat jy tydsaam die Tempel van Amun en die Laan van die Sfinks verken. ’n Besoek aan Egipte is ook nie ’n volwaardige besoek as jy nie op die Nylrivier vaar nie.

Indien Egipte nie jou kraal is nie, is Oktober ook ’n goeie maand om Indië te besoek. Die Diwalifees van Ligte vind op 27 Oktober plaas en is ’n onbeskryflike ervaring.

Mexiko se Dag van die Dode-fees, op 29 Oktober, is ’n ander alternatief indien Indië nie op jou wenslys is nie.

NOVEMBER: Oxfordstraat in Londen se Kersliggies word al in November aangeskakel.Foto: iSTOCK

NOVEMBER

Guy Fawkes is ’n bekende herdenkingsdag in Brittanje en word op 5 November gevier. Dit herdenk die nag wat Guy Fawkes probeer het om die parlementsgebou met koning Jakobus I daarin op te blaas. Tydens die herdenking verlig ’n kleurvolle skouspel van vuurwerke Londen se hemelruim. Herleef die gebeurtenis in Lewes, ’n dorp oos van Sussex, kompleet met vreugdevuurparades.

Novembermaand is ook die perfekte maand om Oxfordstraat in Londen rooi te verf. Die Kersfeesliggies word amptelik in dié maand aangeskakel en behalwe vir die romantiese gevoel wat jy in die straat kan ervaar, is dit ook die ideale straat waar jy ’n bietjie Kersinkopies kan doen.

In Japan sal jy natuurlik op 2 November die Wêreldbeker-rugbyeindstryd kan kyk.

DESEMBER: Gaan geniet die Kersmarkte in Duitsland. Foto: Pixabay

DESEMBER

Ons is gewoond aan somer vir Kersfees, maar ’n wit Kersfees is darem maar net iets anders. As ’n wit Kersfees een van jou droomvakansies is, is Europa een van die beste bestemmings om hierdie tyd van die jaar te besoek. Daar is min dinge wat met die welkome geure van glühwein, gemmerbrood en bratwurst kan vergelyk – iets wat jou sommer vinnig in ’n Kersluim kry.

Daar is wollerige feeshoede, Kersliggies en sneeuvlokkies – ervarings wat jy te wagte kan wees by die wintermarkte in Nuremberg en Dresden.

Meer oor:  Vakansie  |  Vakansiebestemming  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.