Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Twee ‘nerds’ tref Bethulie

Annie Olivier ontdek die geskiedkundige kant van Bethulie. 

Dié monument lyk dalk verwaarloos en leeggesteel, maar dis eintlik as gevolg van te min geld dat hy so uitgekom het.Foto’s: annie olivier

Een van die groot lekkertes in die lewe is om getroud te wees met iemand wat net so ’n groot bleeksiel is soos jy.

Enersyds beteken dit boeke is altyd deel van enige reis en dat jy nie skeef aangekyk sal word as jy ’n hele middag met jou neus agter ’n boek verdwyn nie. Toe ons onlangs besluit om na Rusland te reis, moes ek die volgende hoor: “Jy weet jy is ’n bietjie agter met jou leeswerk (oor die Russiese geskiedenis), nè? Ek gaan ’n paar boeke van die rak af haal vir jou.”

Andersyds beteken dit dat jy en Manlief dieselfde soort dinge wil doen, soos om museums en geskiedkundige plekke te besoek, graag na ou geboue kyk, altyd ’n draai maak by die dorpsbegraafplaas en julle verkneukel aan ou naam- en inligtingsborde. Kortliks: julle raak saam opgewonde oor alles wat oud is.

Op ’n onlangse besoek aan Bethulie in die Suid-Vrystaat het ons ’n dubbele dosis van hierdie soort lekkerkry beleef. Bethulie, wat sonder stilhou sowat vyf en ’n half uur uit Johannesburg is en net 20 minute vanaf die N1, is nog ware platteland.

Hier is die slaghuis se vleis ’n derde goedkoper as die stad s’n, maar twee keer so lekker, die plaaslike restaurant se kombuis sluit al om 20:00, daar is nog ’n hoekkafee wat sy sout werd is en binne 12 uur sal meer as twee mense jou na dieselfde persoon verwys vir ’n geskiedkundige toer van die dorp.

Die NG kerk in die dorp is in 1887 ingewy.
Die doringboom op dié gedenknaald is ’n simbool van Totius se woorde: “Maar tog het daardie boompie weer stadig reggekom, want oor sy wonde druppel die salf van eie gom.”
Die treinstasie waar konsentrasiekamp-slagoffers afgelaai is. Foto’s: Annie Olivier

Hy doop die dorp

Dié persoon is die ongelooflik ingeligte Trudie Venter. Ons het Trudie een middag – kort voor dit begin kapok het – by die Pellissier-museum ontmoet. Die sendeling JP Pellissier van die Paryse Sendinggenootskap het die dorp sy naam gegee – dit kom van ’n Hebreeuse woord wat huis van God of plek van aanbidding beteken.

In die Pellissier-museum is dié houer waarin lewensmiddele uit Nederland vir kampinwoners verpak is.

Pellissier was ’n skynbaar vreeslose jong man van in sy 20’s toe hy in 1833 ’n sendingstasie naby die samevloei van die Caledon- en die Oranjerivier (vandag Garieprivier) begin het. ’n Mens is verstom om te hoor die Pellissier-museum word gehuisves in die gebou wat hy self in 1835 vir hom en sy gesin gebou het – dit is een van die oudste huise noord van die Oranjerivier.

Die huis net langsaan het lank aan die akteur Patrick Mynhardt se pa behoort. In Boy from Bethulie beskryf hy sy grootwordjare daar met sy kenmerkende humor: “Perhaps because our father was the mayor, the district surgeon and the railway doctor as well as the village doctor, I seemed to have been involved with life and death from an early age.”

’n Eienaardige, naamlose herinnering

Maar dis eintlik die Anglo-Boereoorlog-geskiedenis wat ons groot belangstelling is en daaroor het Trudie al ’n boek geskryf. Ons was vroeër die oggend by sekerlik een van die eienaardigste monumente. Die sogenaamde Engelse monument is geleë aan die rand van waar die Bethulie-konsentrasiekamp se oorspronklike kerkhof was en is die enigste monument in Suid-Afrika vir kampslagoffers wat met Engelse geld opgerig is.

’n Paneel met name van dié wat in Bethulie se konsentrasiekamp dood is.
’n Pragtige ou naambord in die dorp.

Die vierkantige monument se vier panele is egter kaal. Eers dag ons die metaalplate is afgesteel, maar Trudie vertel toe dis so bedoel: “Die aanvanklike ontwerp was vir ’n monument wat twee keer so groot was om plek te maak vir al die slagoffers se name. Toe die argitek die ontwerp aan die Britte voorlê, het hulle gesê hulle het nie genoeg geld daarvoor nie, die monument moet kleiner. Daar was nie genoeg plek om die name by te voeg nie en dis net so voltooi.”

Die Bethulie-konsentrasiekamp het een van die hoogste sterftesyfers gehad – 1 734 mense het hier omgekom.

’n Bitter skraal windjie het daardie oggend oor die vlakte gewaai en ’n mens kon jou skaars indink hoe dit moes wees om in ’n tent daar te oorleef.

’n Entjie van die Engelse monument is ’n gedenknaald met ’n uitbeelding van ’n doringboompie boaan. Die granietblok met die aanhaling uit Totius se bekende gedig wat eens deel was van die gedenknaald vind ons later op die gedenkterrein buite die dorp: “Maar tog het daardie boompie weer stadig reggekom, want oor sy wonde druppel die salf van eie gom.”

Met die bou van die Gariepdam in die 1960’s moes die grafte na ’n nuwe terrein verskuif word. Daar kan ’n mens nie anders as om geroer te wees deur die vyf tot ses meter lange paneel wat aan albei kante gevul is met name van kampslagoffers nie. Veral nie wanneer jy sien dat ses lede van die Venter-gesin van die plaas Witdam naby Fauresmith hier dood is nie, of vyf Van der Vijvers van Spitzdam. Die terrein bevat ook tientalle van die oorspronklike grafstene wat behoue gebly het.

Aan die ander kant van die dorp is die treinstasie, nog met sinkplate gebou, waar die Boerevroue en hul kinders aangekom het. Die stasie is tot die laat 1960’s gebruik, maar is vandag in private besit en kan op afspraak besoek word.

’n Gang in die ou Royal-hotel.

Tyd vir koffiekoekies

Wat het ons verder gedoen? Deur die dorp gery en gedroom hoe ons eendag hier gaan kom aftree, baie gelees en lekker saam met die plaaslike mense gekuier. By die Ou Kar-restaurant het ek een aand met ’n boer oor grondonteiening gesels en met ’n onderwyseres oor die unieke uitdagings om rekenaarvaardighede vir gr. 1’s, meestal plaaswerkers se kinders, te leer.

By Sonneblom Werksmandjie kon ons ’n melktert bestel wat binne ’n uur vars vir ons gebak is, en by Die Plaaskombuis-tuisnywerheid langsaan het ek die allerheerlikste koffiekoekies gekoop.

Dié het ek alleen opgeëet, want ’n mens hoef gelukkig nie álles met Manlief te deel nie.

  • Bron: Ontdek Bethulie deur Trudie Venter. Sien ook www.bethulie.info.
  • Ry uit na die Gariepdam. Die mense van Bethulie beveel die restaurant Tjailatyd aan vir ’n lekker kuier en De Stijl vir ’n deftiger ervaring.
  • Springfontein-gedenkterreine: Daar is ’n gedenkterrein vir ongedoopte kinders en aan die ander kant van die dorp die konsentrasiekamp-gedenktuin. Laasgenoemde sal jou nie onaangeraak laat nie, maar is nie duidelik aangedui nie. Vra maar vir aanwysings.
  • Norvalspont-gedenkterrein: Die slagoffers van die Norvalspont-konsentrasiekamp word hier gedenk.
  • Daar is drie natuurreservate om Bethulie: Tussen-die-riviere-, Gariep- en die Oviston-reservaat
  • Kyk ook uit vir die Royal-hotel of “Boekhotel”; die polisiekantoor (in 1907 gebou en steeds in gebruik); die Gereformeerde kerk (in 1923 ingewy en deur Gerard Moerdyk ontwerp); en die Rooms-Katolieke kerk in die swart woonbuurt Lephoi (gebou in 1946).
Nog doendinge:
  • Ry uit na die Gariepdam. Die mense van Bethulie beveel die restaurant Tjailatyd aan vir ’n lekker kuier en De Stijl vir ’n deftiger ervaring.
  •  Springfontein-gedenkterreine: Daar is ’n gedenkterrein vir ongedoopte kinders en aan die ander kant van die dorp die konsentrasiekamp-gedenktuin. Laasgenoemde sal jou nie onaangeraak laat nie, maar is nie duidelik aangedui nie. Vra maar vir aanwysings.
  • Norvalspont-gedenkterrein: Die slagoffers van die Norvalspont-konsentrasiekamp word hier gedenk.
  • Daar is drie natuurreservate om Bethulie: Tussen-die-riviere-, Gariep- en die Oviston-reservaat
  • Kyk ook uit vir die Royal-hotel of “Boekhotel”; die polisiekantoor (in 1907 gebou en steeds in gebruik); die Gereformeerde kerk (in 1923 ingewy en deur  Gerard Moerdyk ontwerp); en die Rooms-Katolieke kerk in die swart woonbuurt Lephoi (gebou in 1946).

Meer oor:  Bethulie  |  Reis  |  Dorpie  |  Geskiedkundige
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.