Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Tweetoringkerk het lang, ryk geskiedenis

Natasha Celliers van Pretoria skryf:

Kort voordat die inperking begin het, het ons onderweg van Knysna na Pretoria in Bloemfontein oorgeslaap. Dit was die eerste keer in jare dat ek in die Rosestad was en ons het laatmiddag ’n draai deur die Vrystaatse hoofstad gery. ’n Besoek aan Bloemfontein is uiteraard nie volledig as jy nie sy bekende Tweetoringkerk gesien het nie. Word daar nog Sondae in hierdie kerkgebou dienste gehou?

Antwoord:

Die Tweetoring in Bloemfontein dien die laaste jare nie meer as ’n aanbiddingsplek vir ’n gemeente nie, maar word gebruik as tuiste vir ’n projek wat onder meer hulpbehoewendes in die Bloemfonteinse middestad steun.

Die kerk se geskiedenis strek ver terug. Dit was die inhuldigingsplek vir die laaste twee staatspresidente van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, F.W. Reitz en M.T. Steyn, kort voordat die Vrystaat deel geword het van die Unie. Vele bekendes is ook uit die kerk begrawe, soos vader J.D. Kestell, genl. C.R. de Wet, press. J.H. Brand en einste Steyn, Emily Hobhouse en ook die eerste drie staatspresidente van die Republiek – Nico Diederichs, Jim Fouché en C.R. Swart.

Dis reeds in 1963 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en die eerste predikant was ook iemand met ’n bekende naam: Andrew Murray jr., wat toe maar 21 jaar oud was.

Die Tweetoringkerk is een van die Vrystaatse hoofstad se bekendste bakens. Die gemeente is op 30 November 1848 gestig, in dieselfde jaar as Fauresmith (11 Maart) en Smithfield (23 November).Foto: Morné van Rooyen

Die eerste kerk, die sogenaamde Ou Kerk, is in 1852 ingewy en was op dieselfde erf as die Tweetoringkerk, toe nog aan die buitewyke van Bloemfontein. Die Ou Kerk het ongepleister gebly, want die aangewese messelaar was blykbaar te lief vir die bottel gewees.

Omdat Bloemfontein flink gegroei het, moes ’n groter kerk gebou word – ook maar goed, want teen 1870 was die Ou Kerk aan’t intuimel. Dis uiteindelik in 1878 gesloop en terwyl die nuwe kerk gebou is, is eredienste gehou in ’n pakhuis by Fichardts (oorkant die straat waar die Middestadsentrum nou is).

Die argitek William Bennett Hays se plan, in die Middeleeuse Duitse styl met twee torings, sou die gemeente £33 500 uit die sak jaag. Dit was te dik vir ’n daalder en daar is besluit op ’n verwaterde ontwerp in die moderne, Romaanse styl deur die argitek Richard Wocke. Die kerk sou £17 500 kos en sitplek bied vir 810 mense.

Op 10 Mei 1878 het pres. Brand die hoeksteen gelê. Sowat 6 000 mense het die inwydingseremonie op 7 Mei 1880 bygewoon. Die nuwe kerk het sommer ver uitgetroon bo Bloemfontein se enkelverdiepinggeboutjies.

In 1935 het die westelike toring ingetuimel, waarna die ander toring om veiligheidsredes gesloop is. Die argitek Gerhard Moerdyk het gemeen die beste sou wees om ’n nuwe kerk te bou, maar dit het nie gebeur nie. Die twee torings is bloot herbou.

In 1952 is die preekstoel verwoes en die orrelpype beskadig toe boemelaars ingebreek en ’n brand gestig het.

In die 1980’s is die Tweetoringkerk deeglik gerestoureer. In die toringkamer is afgekom op ’n groot vonds van antieke nagmaalgerei en 16 Nederlandse Bybels van die 19de eeu.

Meer oor:  Jens Friis  |  Leefstyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.