Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Twyfelfontein is sonder twyfel ’n besoek werd!

Die bekende Leeuman-rotstekening by Twyfelfontein. Gaan kyk gerus watter ander diere jy kan uitken. Foto’s: DANIELLE DANIËLS

Twyfelfontein Country Lodge in Damaraland bied heelparty opwindende aktiwiteite vir jonk en oud. Danielle Daniëls het gaan uitvind wat jy en jou kroos alles hier kan aanpak. 

Wanneer mense die naam Twyfelfontein hoor, is hulle eerste vraag gewoonlik: “Is dit regtig ’n plek of maak jy dit nou op?”

Dis regtig ’n plek, glad nie groen nie, maar daar’s wel verskeie historiese en kulturele trekpleisters.

Twyfelfontein Country Lodge is ongeveer 100 km vanaf Khorixas in die Kunene-streek (ook bekend as Damaraland) geleë. Die lodge is weggesteek tussen bergheuwels en lê teen ’n agtergrond van rooi sandsteenrotse.

Laat ek net eers bieg. Toe ek my navorsing oor hierdie omgewing doen, het dit interessant gelyk, maar in Februarie 2020 onderweg na Twyfelfontein, het ek begin twyfel.

Vroeg op ’n Saterdagoggend verlaat ek Swakopmund en vat die lang pad Twyfelfontein toe. Die weer is mooi en die paaie nie te besig nie.

Net verby Outjo in die rigting van Khorixas breek ’n swaar reën­bui los – alles is nat en lyk nog meer onbekend.

Nie lank daarna nie, steek die son sy kop uit en is ek in Khorixas. Hier vul ek die motor met brandstof en rek bene voor ek die laaste paar kilometer Twyfelfontein toe aandurf.

Ek is weer vort en kort voor lank begin ’n grondpad. Hier skop die twyfel volwaardig in. Ek is al vir meer as ses ure op die pad en om alleen ’n onbekende grondpad met ’n Toyota Corolla aan te pak, kan dalk op ’n ramp afstuur.

Dis net ek, UB40 wat oor die motor se klankstelsel blêr en die grondpad. Van voet in die hoek sit, kan ek maar vergeet. Die klippies van die gruispad skiet al hoe meer teen die bakwerk van die motor en my grootste vrees is dat die bande nie gaan hou nie. By wie klop ek aan vir hulp, want soos ek om my kyk, is daar letterlik niks behalwe rotse en sand nie.

Dis hier waar jy jouself begin vra of omdraai nie maar die beste opsie is nie.

My selfoon se GPS is aan, net om seker te maak ek ry nog in die regte rigting, maar met die sein wat kort-kort verdwyn, help dit nie veel nie. Ek volg maar die roete en lees op die borde, wat ek so nou en dan teëkom, of ek wel nog op die regte pad is.

Op hierdie grondpad moes ek ook verskeie waterdrifte oorsteek, wat bygedra het tot die onsekerheid.

So af en toe kom daar ’n 4x4 of bus verby gery wat my verseker dat ek darem wel êrens heen op pad is, maar dit neem ook nie die twyfel heeltemal weg nie, want vinnig is daar geen teken van hulle nie.

Dit begin skemer raak en ek sê vir myself: “Vanaand slaap jy in hierdie motor op die vlaktes en môreoggend word jy wakker met bobbejane wat die bande kou.”

Teen hierdie tyd is ek al in kontak met die lodge se ontvangs en mense by die huis, want by Twyfelfontein kom ek net nie uit nie.

Uiteindelik sien ek ’n aanwysingsbord na Twyfelfontein. My hart kry so ’n gevoel van blydskap, maar vinnig besef ek hier voor my is ’n rivier – modderig en vol takke – wat ek moet oorsteek.

Daar’s ons weer by die begin – die onsekerheid. Ek bring die motor tot stilstand en bekyk die storie eers goed. Ek sê vir myself daar’s geen manier dat ek deur die rivier en anderkant gaan uitkom nie, en kies toe ’n alternatiewe paadjie – ander 4x4-motors het dit uitgery omdat die rivier net te vol was. Ek ry nog so en daar loop skop die motor vas in die sand!

Ek kyk rondom my en ’n paar meter daarvandaan is ’n kampeerplek met mense wat buite sit en braai. Net daar besluit ek om die motor te sluit en tot by die kampeerplek te loop met die hoop dat iemand my sal help.

By die kampeerplek is daar ’n groep vriendelike mense wat gesellig verkeer – die meeste van hulle werk vir Twyfelfontein Country Lodge en is van diens af. Binne ’n oogwink is hulle in kontak met die lodge om my aankoms te bevestig en te reël dat my motor uit die sand gesleep word.

Uiteindelik kom ek by die lodge aan, wat ’n welkome gesig! Dis donker, maar die buiteligte gee jou ’n mooi prentjie van die gebou en omliggende rotse.

Die aktiwiteite

Die volgende oggend om 07:00 is ek gereed om die eerste aktiwiteite aan te pak. Om 08:00 verlaat ons die lodge en Jafet, ons toergids, vertel so bietjie meer van Twyfelfontein se geskiedenis.

Een van die goed wat uitstaan, is die skaarsheid van reën. “Vir ongeveer drie en ’n half jaar het dit nie in Twyfelfontein gereën nie en dis waarom dit so droog en warm hier is. Die reën wat ons hierdie afgelope paar dae gekry het, is amper soos ’n seën,” sê Jafet.

Hierdie is die aktiwiteite wat ek meegemaak het:

David Levin is in 1946 na Twyfelfontein om te gaan boer. Jy kan die bouval van sy plaashuis besoek.

Rotsgraverings en -tekeninge

’n Paar kilometer vanaf die lodge kry jy Twyfelfontein se “fontein”, ’n Unesco Wêrelderfenisgebied. Daar is ’n klein inligtingsentrum waar jy kan lees oor wat om te verwag, voordat ’n professionele gids jou neem om die erfenisgebied te verken. My gids, Elizabeth, was nie net vriendelik en geduldig nie, maar was later selfs my fotograaf!

In Namibië is daar verskeie rotsgraverings en -tekeninge, maar hier by Twyfelfontein is dit tussen 2 000 en 6 000 jaar oud.

Op hierdie uitstappie leer jy van ’n boer, David Levin, wat in 1946 hierheen gereis het. Hy was op soek na weiveld vir sy diere, maar was nie seker of die fontein se water gedurende die somer voldoende sou wees nie – dus die naam Twyfelfontein. David en sy gesin het vir ongeveer 20 jaar hier gewoon en die bouval van sy plaashuis staan vandag nog.

Soos ek en Elizabeth op die roete stap, begin ek groot rotse oplet met tekeninge van verskeie diere soos renosters, sebras, kameelperde, dierspore asook verskeie watergate. Elizabeth verduidelik dat meeste van hierdie tekening vir kommunikasie, opvoeding en sommer net vir pret gebruik was. “Die San-mense het kwarts as hul potlood gebruik en die tekeninge was deel van storievertelling.”

Op van die rotse kan jy selfs ’n seekoei, ’n rob en pikkewyn sien. “Dit gee jou ’n aanduiding van die nomadiese leefstyl van die San-mense wat na die kus gereis het op soek na sout.”

Op die rotse sien jy ook tekeninge van sirkels. “Die sirkels simboliseer water in daardie omgewing. ’n Sirkel met ’n kolletjie beteken dat water beskikbaar is, en ’n groter sirkel beteken dat daar groter watergate in die omgewing is,” vertel Elizabeth.

Die grootste trekpleister van die uitstappie is die Leeuman-rotstekening – ’n leeu met ’n verskriklike lang stert en vyf vingers aan die einde. “Hierdie leeuman was bekend as ’n sjamaan en verteenwoordig ’n mens wat in ’n leeu verander het in die geesteswêreld. Hy was ook bekend as die medisyne-man.”

Hierdie interessante rotsformasie teen die rivieroewer staan bekend as die “orrelpype”.

Besoek die Verbrande Berg en “orrelpype”

By die Verbrande Berg is nie veel om te doen nie, maar die natuurverskynsel self is tog iets wat jy wil aanskou. Hoewel jy nie tot op die berg mag loop nie, kan jy duidelik vanaf ’n afstand of selfs vanuit jou motor die swartheid van die berg sien.

Verbrande Berg is een van vele besienswaardighede in hierdie Wêrelderfenisgebied.

“Dit word die Verbrande Berg genoem, maar dit is nie deur vuur gebrand nie. Dit is inderwaarheid lawa van oeroue vulkaniese aktiwiteit wat uit die grond opgestoot het, en as gevolg van jarelange erosie nou blootgelê word. Die vulkaan is gelukkig nie meer aktief nie,” sê Jafet.

’n Kilometer vanaf die Verbrande Berg is die “orrelpype”. Hierdie massas dolomietpilare vorm deel van ’n klein rivierbedding en is ongeveer 120 miljoen jaar gelede deur soortgelyke vulkaniese aktiwiteit gevorm. Die rotse is vertikaal in lang, smal, regop formasies wat soos orrelpype lyk – dus die naam. Jy kan byna tot by hierdie rotse stap om foto’s te neem.

Leer oor die Damara-kultuur

By die Damara-museum kan jy meer oor die Damara-mense se kultuur leer. Hier vermaak stamlede graag besoekers met hul sang en danspassies.

Die Damara-museum is die eerste en enigste tradisionele Damara-projek wat daarop gemik is om hul kultuur aan die lewe te hou.

Hier leer jy meer oor die tradisionele lewe van die Damara-mense en hoe hulle hul gemeenskap ondersteun deur hier werk te skep.

Ek kon eerstehands aanskou hoe ’n ystersmit wapens en gereedskap maak, hoe tradisionele klere gemaak word, asook watter natuurlike elemente soos blare en mopanie-wurms vir medisinale gebruike aangewend kan word.

Hulle wys jou hoe die vroue juwele van volstruiseierdoppe maak en die mans tradisionele speletjies speel. Daar is selfs ’n demonstrasie van hoe hulle vuur maak met natuurlike elemente.

Om hierdie eiesoortige ervaring af te sluit, word jy bekoor met tradisionele sang en dans.

Ervaar die regte Adam en Eva

Dit is ’n vinnige rit na die Adam en Eva-rots waar ons eers rotstekeninge en ’n klein Boesmanskildery sien voordat ons die regte Adam en Eva-skildery onder oë kry.

Die tekeninge op hierdie rots is nie meer so duidelik nie – veral die Adam en Eva – maar tog kan jy sien dat dit ’n man en vrou is wat uitgebeeld word.

Die rotstekeninge en -graverings dui op die vaardighede en tegnologie wat oor verskillende periodes gebruik was.

Woestyn-olifante is een van die omgewing se groot trekpleisters. Ons het op dié koei en haar kalfies afgekom.

Geniet ’n natuurrit

Tydens ’n rit al langs die (nou droë) Aba-Huab-rivierbedding leer ek meer oor die welwitschia-plant. Dié oeroue plante is op ’n paar plekke te sien, so ook wildsbokke in die verte en verskeie rotsformasies.

Na al die dag se aktiwiteite is dit tyd om te ontspan en die sonsondergang vanaf een van die duine te bewonder.

Die hoogtepunt van hierdie natuurrit is om woestyn-olifante te sien. Die toergidse maak seker jy kry gehaltetyd saam met die olifante om soveel as moontlik foto’s van hulle te kan neem.

Dis omtrent ’n gesoek om die olifante op te spoor, maar Jafet laat ons nie in die steek nie.

Jy sien onmiddellik hoe hulle verskil van ’n olifant wat gewoond is aan groenigheid – hulle is maerder en langer as gevolg van hul dieet en het groter voete as ander Afrika-olifante.

Na ons ervaring met die olifante, stop ons by een van die duine, klim uit die voertuig en geniet die sonsondergang met peuselhappies en drankies.

  • Ek het al hierdie aktiwiteite in een dag gedoen met ’n blaaskans vir middagete, maar dit sal eintlik beter wees om dit oor ’n paar dae aan te pak. Twyfelfontein kan ongelooflik warm word, maak dus seker jy pak beskermende klere soos ’n hoed, sonbril en sonskerm in, asook genoeg drinkgoed om te verseker dat jy nie ontwater nie. Die meeste van die toere sluit gelukkig wel verversings in.
Meer oor:  Namibië  |  Aktiwiteite  |  Vakansieoord  |  Vakansiebestemming  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.