Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Uit die argief: Dit lyk onmoontlik tot aan die einde

Hier is 'n foto-artikel wat in September 2015 in Volksblad gepubliseer is. Dit vertel van vier stappers, 120 km en agt dae. Pak jou rugsak en kom stap die wêreldbekende Naukluft-staproete in Namibië saam. Daar’s net g’n genade nie: Elke kilogram wat jy pak, moet jy saamdra, berig Gert Coetzee. Foto’s: Schalk Cloete, tensy anders vermeld.

VER IN DIE WÊRELD. Die Naukluft-staproete teenaan die Namib-woestyn lê ver in die wêreld. Om daar te kom moet jy soontoe wíl gaan. Van Kaapstad ry jy Vioolsdrift, Seeheim en Maltahöhe verby en draai by Bullspört links. Regs wag die Naukluft-park se hek. LInks en regs doem die gebergte se berugte hellings en dale op. Van môre af is jy ’n pakmiertjie dáár doer bo. Gaan jou sagte kantoorlyf dit hou? Gaan die hopie kos wat netjies in agt sakkies, een per dag, jou deurdra? Wat as jy oppak of beseer raak? Dan laat jy jou makkers in die steek, want in die sirkelroete is daar geen omdraai nie. In jou slaapsak op die harde grond besweer jy daardie nag jou vrese. En die vooruitsig van opwinding en avontuur, o avontuur, kry die botoon. Jy wag al lank vir dié staptog in die Naukluft-berge. Saam met die woestyn verder weswaarts is dit deel van Namibië se Namib-Naukluft-park van bykans 5 miljoen hektaar – Afrika se grootste en die wêreld se vierde grootste natuurpark, sê die Globetrotter-gids. Dié foto is op dag vyf teen die Broekskeur-bult geneem. Tsams Ost se oornagplek lê agter die helling links onder. Foto: Schalk Cloete
DAG EEN EN TWEE: Die reisgidse wat die Naukluft as “Afrika se taaiste staproete” bestempel, het toe nie gelieg nie. Dié waarheid dring deur op dag een se kamtige “maklike” stap van 14 km. Dis eindeloos. Teen Hartbreekpas leer jy klim, kruip en klouter – ’n goeie leerskool vir die res van die roete. Eers laatmiddag kom ons by Putte aan. Die einde van dag twee pak ons in ’n klofie naby Ubusis af. Opgestap, maar lus. Foto: Schalk Cloete
DAG 3 EN 4: Dag 3 bied ’n blaaskans. Vroegmiddag pak ons by Adlerhorst af. Met pompwater in ’n konka word skraps gewas. Dag 4 is ’n moordende 17 km met die Tsams-rivierkloof langs. Die klipperige terrein en skerp skerwe gee jou voete hel. Kettings help om rotse en kranse oor te steek. Laatmiddag stap ons Tsams Ost mis, maar oor die glips – en ekstra draai van 2 km – praat niemand uit nie. Die groot besluit langs die kampvuur: Tweeminuut-noedels of toppers ’n smash? Foto: Schalk Cloete
DAG 5: Vroegoggend al huil die koue bergwind by Tsams Ost. Vandag is dit Broekskeur se bult oor Valle toe. Gelukkig is ons rugsakke – aanvanklik sowat 17 kg – al effens ligter, soos jy algaande ’n pad deur jou kosvoorraad, meestal droë rantsoene, eet. Van die plato sien ons dié dag die eerste keer die Namib se duine in die verte. Foto: Schalk Cloete
DAG 8: Oor dag 6 se 16 km van die Valle na Tufa en dag 7 se 17 km van Tufa na Kapokvlakte het ons gebars. Dis waaroor die Naukluft-staproete gaan. Dan breek die laaste dag aan. Die taak is amper afgehandel. Nou onthou jy die lekker dinge, soos die beloning van ’n stukkie salami of die geswetsery oor vreemde naggeluide in die slaapskuilings. Bergsebras sweef soos geluidlose skimme ligvoets verby oor die gebroke terrein waar ons elk van sowat 120 000 treë versigtig, moeisaam afgelê het. Ons stap met veel ligter tred as aanvanklik. In my rugsak is ’n halfpakkie ProVita’s, ’n pakkie sop en ’n pakkie noedels oor. Foto: Schalk Cloete
DAAR’S WATER! Die ander stappers in ons groepie onthou hul vorige Naukluftstap ’n paar jaar gelede om die hitte en dors. Soggens maak ons waterbottels druppelgewys by die nagskerms vol. Ek dra 4 liter per dag saam, maar drink dit nooit op nie. Van dié roete sal ons die bergwind en koue nagte onthou. Hier is van die waterpoele op dag 8. Foto: Schalk Cloete
TAAK VOLTOOI: Dit lyk onmoontlik totdat jy dit gedoen het, het Madiba of iemand gesê. Hier’s ons ná agt dae terug by ons vertrekpunt. My vriend Johan Coetsee van Somerset-Wes (regs) en ek skud blad. Ons ander stapvriende was Schalk Cloete en Carel Muller, proffies by die Landboukollege Elsenburg. Carel, in sy vroeë sestigs, het vanjaar nog die Twee Oseane-ultramarathon kafgedraf. As ’n bekende hardloper was hy al op Runners’ World se voorblad. Of ’n mens die Naukluft-roete moet stap? Ja. Of ek dit weer sal stap... Foto: Carel Muller

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Staproetes  |  Namibië  |  Uit Die Argief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.