Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Uit die argief: In spore van ontdekkingsreisigers
‘Afrika laat hom nie verstaan nie, maar Livingstone, Stanley en Butcher se verhale laat mens bietjie beter begryp’

Dié artikel van Gert Coetzee het op Maandag 27 Desember 2010 in Volksblad verskyn.

BRITTANJE se Royal Geographic Society (RGS) was betrokke by van die wêreld se grootste ontdekkingsreise en avontuurtogte – en by die ontsluiting van Afrika. Gert Coetzee se ontdekkingsreis lei hom na die RGS se tuiste in 1 Kensington Gore, Londen. 

’n BIETJIE bevestiging oor dinge ná aan die hart – soos Afrika – is nie sleg nie, selfs uit onverwagte oord. Soos van ’n paar onbekende Engelsmanne.

Hier staan een van hulle nou juis voor my. “Dr. Livingstone, neem ek aan?” maak ek kennis.

Maar Livingstone swyg. Anders as toe Henry Stanley hom in 1871 aan die wal van die Tanganjika-meer opgespoor het.

Dr. David Livingstone, sendeling-reisiger, was die “ontdekker” van die Victoria-waterval en die eerste Europeër wat Suider- en Midde-Afrika deurkruis het. Sy standbeeld staan al amper ’n dekade vasgemessel in die buitemuur van die Royal Geographic Society (gestig 1830) in Kensington, Londen. 

DIE vooraansig van die Royal Geographic Society-gebou in Kensington, Londen. Foto: Gert Coetzee

Hy tuur verby die rookdampe van Londen se rooi dubbeldekker-busse en swart taxi-“cabs”. Hy kyk ver- langend in die rigting van Afrika.

As tydelike Londenaar het my en Livingstone se pad nooit gekruis nie. Totdat ek nóú tydens ’n herbesoek die boek Blood River deur Tim Butcher ontdek. 

Butcher is in 2000 deur die Britse Daily Telegraph as dié koerant se Afrika-korrespondent aangestel, gesetel in Johannesburg. Toe hy uitvlieg na Suid-Afrika, het ’n vorige Afrika-korrespondent hom raad oor dié kontinent gegee. “In Afrika is dit net nodig om twee dinge te onthou – watter stam en hoeveel dooies.”

Met sy koms hierheen het Butcher geweet Joseph Conrad se ondervinding as die skipper van ’n stoomboot op die “magtige Kongorivier” was die grondslag vir Heart of Darkness. In sy eerste maande hier, raak Butcher meegesleur deur Afrika en veral deur die Kongo se groot verdriet. Die Kongolese burgeroorlog, wat in 1998 uitgebreek het, was toe die bloedigste ter wêreld. Dit eis sowat 1 000 slagoffers per dag sonder dat die res van die wêreld ’n oog knip. 

Ek lees Butcher se boek vasgenael. Hy ontdek ’n persoonlike skakel met die Kongo en die land se “stormagtige geskiedenis” toe hy besef “alles” is meer as ’n eeu gelede deur sy landgenoot Henry Morton Stanley begin. Soos hy was Stanley deur die Daily Telegraph na Afrika afgevaardig. 

DR. LIVINGTONE, neem ek aan? Foto: Gert Coetzee

Butcher was meegesleur deur die verhaal van sy voorganger Stanley wat in die Victoriaanse era die wêreld se bekendste joernalis geword het vanweë sy suksesvolle soektog na Livingstone. Hy skryf Stanley se gevatte klankgreep was meer onvergeetlik as enigiets wat ’n moderne beeldpoetser kan uitdink. “Stanley se ‘Dr. Livingstone, neem ek aan’ het so bekend geraak dat dit sy groter en meer betekenisvolle prestasie oorskadu het.”

Dié ander prestasie het Stanley vermag op sy volgende epiese Afrika-tog van 1874 tot 1877, toe hy die vasteland se laaste groot geografiese geheim deur sy kartering van die Kongorivier blootgelê het. Stanley en sy gevolg het ’n weg gebaan deur ’n gebied waar geen wit mens al was nie. Hy het die kom van die Kongorivier oorgesteek en só bewys die ondeurdringbare binneland kón deur stoombote rivierlangs bereik word.

Butcher skryf oor Stanley se wrede metodes. As stamme langs die rivier nie onmiddellik inskiklik was nie, is hulle geskiet en kos en voorraad afgevat. 

Ondanks omstredenheid hieroor is Stanley met sy terugkeer na Londen in 1878 soos ’n held ingewag.

In Europa het koning Leopold van België oor Stanley se avontuur gelees. Hy het die kans gesien vir die vestiging van ’n kolonie wat België as ’n wêreldmag sou vestig. 

Só word Stanley se Kongo-ekspedisie die sneller vir die “Scramble for Africa”, skryf Butcher. “Die moderne geskiedenis van Afrika – dekades van koloniale plundering en post-onafhanklikheid chaos – is ontketen deur ’n verslaggewer van die Telegraph wat sy pad met die Kongorivier langs oopgeveg het.”

Hier waar ek voor Livingstone staan, herinner dit my aan die artefakte in die British Museum wat oor die wêreld heen, insluitende Afrika, geplunder is.

Een keer het ek die gebou van die British Foreign Office in Whitehall Road, langs die Britse premierwoning, besoek. Deur een vertrek se venster van bo afgeloer op 10 Downing Street se beroemde voordeur. In ’n ander neerdrukkende vertrek het ’n raadstafel en stoele verlate in die middel gestaan het. “Van hier het die sekretaris en nog so vier amptenare oor Indië geregeer,” het ’n Britse gesant gesê. 

SKATKIS. Die Royal Geographic Society se boek Exploration Experience. Foto: Gert Coetzee

Wat my laat wonder het uit watter vertrek ’n paar vaal mannetjies oor Afrika geregeer het.

Nietemin, in 2004 pak Butcher toe sy eie epiese Afrika-tog aan met 2 000 dollar versteek in elke stewel. Hy volg Stanley se roete van 3 000 km deur die hart van Afrika om van sy “wanbegrip” oor die kontinent te gaan ontslae raak. In Blood River skryf hy gelyklopend oor Stanley se ekspedisie en sy eie reis 140 jaar later per fiets, motorfiets, uitgeholde boomkano en stoomboot.

Butcher beeld Europa, veral België, se verkragting van Afrika, veral die Kongo, uit, maar ook dié vasteland en land se eie bydrae tot verval en korrupsie. 

Oral bly ’n paar goeie mense oor, ook in Afrika. Soos die sinjaalman op ’n klein stasie wat elke dag met sy spoorwegpet op die platform sit en wag om sinjale te wissel. Maar die trein loop al jare nie meer nie. Onkruid staan welig tussen die spore.

Blood River vervang Ryszard Kapus’cin’ski se Shadow of the Sun as my geliefkoosde Afrika-boek. Toe ek klaar is, sit ek dit neer en gaan koop my eie Blood River (niks te make met Koos Kombuis se Bloedrivier nie) by Waterstone’s. 

In Blood River word terloops na die RGS verwys. Die naam lui ’n klokkie. As ek reg onthou, is dit die organisasie wat Britse Everest-ekspedisies gestuur het om die wêreld se hoogste piek te verower.

In ’n boekwinkel in Charing Cross Road speur ek dit na. Ja, die klimtog van 1953 se suksesvolle Everest-ekspedisie is onder die vaandel van die RGS aangepak. Dit lyk of die RGS vir Britse ontdekkingsreisigers na Afrika, vir Everest-spanne en vir ander ekspedisies was wat die Groote Schuur-hospitaal vir dr. Chris Barnard en die eerste hartspan was.

Ek raadpleeg my getroue Lonely Planet-gids en sien die RGS is langs die Royal Albert Hall. Minder as 2 km van waar ek tuisgaan.

DIE standbeeld van die ontdekkingsreisiger Ernest Shackleton voor die Royal Geographic Society-gebou. Foto: Gert Coetzee

Nou staan ek voor Livingstone en sy buurmanne – die standbeelde van Ernest Shackleton en Robert Scott weerskante. 

Blood River was die finale sneller vir my epiese tog hierheen.

Die RGS se Foyle Reading Room bestaan uit twee groterige vertrekke, elk so groot soos ’n klein koerant se nuuskantoor. Die een vertrek is vol reisboeke. Die ander het tafels met atlasse en ’n presiese reliëfmodel van Everest en omliggende pieke. 

Op ’n rekenaar vir besoekers lees ek die RGS bewaar meer as ’n duisend artefakte. Uit Afrika is daar ’n kompas wat deur Livingstone op sy soektog na die oorsprong van die Nyl gebruik is, asook Stanley se hoed en stewels. 

Die RGS se aanvanklike naam was die Geographical Society of London. 

Luidens die RGS-webtuiste bewaar die vereniging “beroemde name” vir die nageslag. Dié pioniers se “grensverskuiwende ekspedisies” word volledig geskets uiteengesit. 

Tans het die RGS sowat 15 000 lede in 100 lande. Een beskeie sin in Unlocking the Archives sê: “We are the learned society and professional body for geography.”

Die Foyle Reading Room is vol historiese kaarte. In een atlas met handgetekende kaarte oor Afrika, is ’n geologiese kaart van Suid-Afrika, gedateer 1947. Die land is in 199 blokke ingedeel. Blok 1 is Pretoria, blok 12 Pilanesberg, blok 53 Ventersdorp en blok 106 Schoorsteenberg (met Aberdeen in hakies).

Die straatadres van die Royal Geographic Society. Foto: Gert Coetzee

Dan diep ek ’n skat op – The Royal Geographical Society Exploration Experience, ’n boek oor die wêreld se bekendste ontdekkingsreise, wat begin by Colombus se vaart om die aarde en eindig by die deurtog oor Ant-artika. Die boek sluit afdrukke in van sketse wat Stanley op sy Afrika-reise gemaak het. In een hoofstuk oor Suider-Afrikaanse “ontdekkingstogte” word veral oor die reise van Britse sendelinge en naturaliste soos William Burchell, John Campbell, Robert Moffat (Livingstone se skoonpa, wat in Kuruman gebaseer was) en Livingstone geskryf. Oor die Groot Trek word daarop gewys dat “eksplorasie” nie die doel daarvan was nie. 

Dit is net ná 15:00, maar buite is dit donker. Ek verlang na die reuk van son. My ontdekkingstogte is onopwindender as Butcher s’n. As dit klaar is, loop my voete altyd een plek toe. 

Na die onverstaanbare kontinent waar Livingstone mense kom bekeer en Stanley mense kom skiet het. Na die land van die Suiderkruis aan die voet van dié vasteland.

Die land van hond eet hond. En van broer en suster. My voete loop Afrika toe. Altyd Afrika toe. Vasteland van melk, heuning en bloed.

En tuiste van die sinjaalman wat, pet op die kop, sit en wag vir die trein om weer te kom.

  • Afrika laat hom nie verstaan nie, maar Livingstone, Stanley en Butcher se verhale het my bietjie beter laat verstaan.
  •  Bronne: Butcher, T. 2007. Blood River. Vintage Books. Londen. www.rgs.org.za, www.unlockingthearchves.rgs.org

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Volksblad  |  Engeland  |  Uit Die Argief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.