Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Uit woestyn verrys die wolkekrabber

Francois Jordaan was bevoorreg om onlangs ’n kongres in Abu Dhabi, 140 km suidwes van Doebai, by te woon. Hy vertel meer.

Etihad Towers, die kongreslokaal, bestaan uit vyf blou torings waarvan die hoogtes wissel van 217 m tot 315 m, met konferensiegeriewe, hotelkamers, kantore en woonstelle.

Laat skemer oor Abu Dhabi-stad. Foto: Getty Images

Die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) is ’n federale absolute monargie aan die suidoostelike punt van die Arabiese skiereiland begrens deur die Golf van Oman, Saoedi-Arabië en die Persiese Golf.

Daar is sewe emirate, naamlik Abu Dhabi, Doebai, Ajman, Fujairah, Ras al-Khaimah, Sharjah en Umm al Quwain. In 2017 was die totale bevolking van die VAE 9,4 miljoen, waarvan sowat 10% emirati is.

Abu Dhabi het sy ontstaan te danke aan pêrel-, kameel- en dadelboerdery en visvangs. Vanaf ongeveer 1800 het pêrelduikery in die kalm waters van die Persiese Golf floreer.

Vyf faktore het bygedra tot die feitlike uitwissing van die bedryf: Die twee wêreldoorloë, die 1930’s-depressie, die Japannese uitvinding van gekweekte pêrels in 1908, die feit dat Indië ná onafhanklikheid in 1947 swaar belasting op hierdie pêrels gehef het en die ontdekking van olie in die Persiese golf in 1958 en in die woestyn in 1960.

Die indrukwekkende Emirates Palace-hotel in Abu Dhabi. Foto: Getty Images

Die besondere bote wat vir pêrelduikery gebruik is, is nog te sien in hawens langs die kus. Oliereserwes in die VAE is omtrent 98,6 biljoen vate, waarvan meer as 95% in Abu Dhabi is.

Die meeste olie is afkomstig van die Zakum-olieveld in die Persiese Golf. Produksie is ongeveer 2,9 miljoen vate per dag, genoeg vir nog 93 jaar. Daar is ook uitgebreide gasreserwes.

My eerste indrukke van Abu Dhabi was uiteraard die groot aantal wolkekrabbers van beton, staal en glas; die feit dat die stad op barre woestyn verrys het en deur woestyn omring word, die talle eilande en die byeenroep tot gebed deur gebedsroepers, vyf maal per dag.

Daar is 24 wolkekrabbers wat sonder antennamaste elk meer as 100 m hoog is en nog 16 is in aanbou – ’n wolkekrabberwoud. Die argitektuur is innoverend en interessant. Die Capital Gate-gebou, 160 m hoog, staan boonop verbasend skeef.

Die gemiddelde jaarlikse reënval in Abu Dhabi is net 75 mm. Boorgate voorsien 10% van die water. Die water is redelik brak en word net vir landboudoeleindes gebruik. Dadelbome kan die brakwater benut.

Die grootste bron van water is natuurlik ontsouting. Daar is meer as agt groot aanlegte hier en ook kleineres waarvan sommige deur sonkrag aangedryf word. Die gesamentlike kapasiteit van die ontsoutingsaanlegte is 4,31 miljoen kubieke meter per dag. Abu Dhabi is verreweg die grootste en digsbevolkte emiraat en is die tuiste van meer as 200 eilande. Dié kosmopolitaanse hoofstad van die VAE het ’n bevolking van 1,5 miljoen en lê op ’n T-vormige eiland wat strek in die Persiese Golf in. Daar is ’n aantal mensgemaakte eilande, soos Marynah, Dalma, Lulu, Nurai, Yas en Saadiyat.

Op Yas-eiland vind die Formule 1 Abu Dhabi Grand Prix jaarliks plaas. Die luukse Viceroy Abu Dhabi-hotel is gebou oor ’n gedeelte van die renbaan.

Die eiland is ook die tuiste van die skouspelagtige Ferrari World-temapark en die wêreld se vinnigste tuimeltrein met ’n topsnelheid van 240 km/h.

Op Yas-eiland vind die Formule 1 Abu Dhabi Grand Prix jaarliks plaas. Die luukse Viceroy Abu Dhabi-hotel is gebou oor ’n gedeelte van die renbaan.

Saadiyat-eiland word gekenmerk deur uitgebreide manglietwoude en ’n ryk voëllewe en is ook tuiste van die Guggenheim Abu Dhabi en die Louvre Abu Dhabi.

Dadelboerdery is al vir duisende jare ’n belangrike deel van die kultuur en oorlewing van die VAE. Daar is 44 miljoen dadelpalms van 55 spesies, met ’n jaarlikse dadelproduksie van 76 000 ton. Die VAE is een van die top-tien-dadelprodusente in die wêreld.

Die imponerende sjeik Zayed-moskee (“Sheikh Zayed Grand Mosque”) is definitief ’n besoek werd. Die majestueuse moskee het talle koepels, kolomme, kandelare en vier minarette.

Daar is plek vir 40 000 aanbidders. Sommige van die kandelare bevat miljoene Swarovsky-kristalle en ’n handgeweefde Persiese tapyt van 5 700 m² in ’n enorme bidvertrek.

Die moskee word omring deur gemanikuurde tuine. Daar is geen toegangsfooi nie.

Die stad is ook die tuiste van die sewe-ster Emirates Palace- hotel, opgerig teen ’n beweerde koste van 11,2 miljard dirham. Tradisionele Arabiese elemente is die sentrale koepel en meer as 100 kleiner koepels en die kleur van die gebou wat verskillende kleure woestynsand reflekteer.

Daar is 394 kamers, insluitende 92 suites en 22 residensiële suites, spa’s, komiteekamers, konferensiesale, ’n yslike balsaal met plek vir 2 000 gaste, winkels vir luukse goedere, restaurante, imponerende onthaalareas en ’n goue OTM in die voorportaal.

’n Besoeker neem ’n foto van die sjiek Zayed-moskee, een van die grootstes in die wêreld. Foto: Getty Images

Daar is ’n 1,3 km-lange privaat strand en marina, helikopterlandingsplekke, enorme spuitfonteine en goed versorgde tuine.

“High tea” is gewild en voorafbespreking is noodsaaklik (400 dirham vir twee). Jy kan selfs cappuccino met goudvlokkies in bestel.

Die Louvre Abu Dhabi is ’n kuns- en beskawingsmuseum, opgerig met Franse samewerking teen astronomiese koste, feitlik omring deur die waters van die Persiese Golf.

Die museum beslaan 24 000 m² met ’n uitstalruimte van 8 000 m². Kunswerke van oor die wêreld word uitgestal met ’n fokus op die oorbrugging van die gaping tussen Westerse en Oosterse kuns, onder meer Salvator Mundi van Leonardo da Vinci, die duurste skildery wat ooit verkoop is.

Voor 1970 was hierdie area ’n aktiewe strandgebied vir gebruik deur mense en skepe.

Die indrukwekkende 7 km-lange promenade lê aan die westekant van die stad met fietsrypaaie, fonteine en netjiese tuine. Sekere dele het sandstrande met die swemplekke netjies reghoekig afgebaken met boeie.

Seetemperatuur is 20°C in die winter en 28°C in die somer. Voor 1970 was hierdie area ’n aktiewe strandgebied vir gebruik deur mense en skepe.

Die opklim-afklim-bustoer laat jou die besienswaardighede van die stad sien. Daar is ook woestynsafari’s, motorbootsafari’s om die eilande te verken, die kultuurdorp, die indrukwekkende Umm al Emarat-park, die voortreflike presidensiële paleis en vele meer.

Die besoek aan Abu Dhabi was ’n wonderlike ondervinding – baie om te sien, baie om te doen.

Daar is daagliks drie Emirates-vlugte na Doebai. Doebai na Abu Dhabi per bus kos ongeveer 30 dirham of per huurmotor 300 tot 400 dirham.

Daar is daagliks een Etihad-vlug van Johannesburg na Abu Dhabi.

Meer oor:  Verenigde Arabiese Emirate (Vae)  |  Etihad Towers  |  Doebai  |  Abu Dhabi  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.