Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Utrecht met oorgawe

As jy in Nederland ’n draai gaan maak, moet die prentjiemooi stad Utrecht op jou lys wees – veral as jy saam met kinders, én op ’n begroting, reis. Gaan verken Utrecht gerus te voet en snuffel sy juwele uit.

Het Spoorwegmuseum in Utrecht bied soveel meer as net ’n kykie na treine. Foto’s (tensyandersins vermeld):Mart-Marié du Toit
Die botaniese tuin is in die hartjie van die Utrecht Wetenskappark en is uitgelê rondom Fort Hoofddijk.Foto: Lyoné Marnewick

Om ’n gesinsvakansie te reël is nooit ’n maklike taak nie, en die probleme begin gewoonlik al wanneer ’n mens die bestemming moet kies.

As jy en jou gesin op pad is na Nederland, is Amsterdam gewoonlik die stad waarom die reisplan draai. En ja, daar kan ’n mens meer as een item op jou emmerskoplys afmerk, maar dis ook ’n stad wat wemel van mense, karre, trems en fietse – wat veral jonger kinders verbouereerd kan laat.

Utrecht, wat minder as ’n halfuur per trein van Amsterdam af is, is my aanbeveling vir gesinne op reis – met goedkoper verblyf, kindervriendelike museums en groot parke, is dit hemels.

Dis ’n universiteitsdorp dié, met ’n unieke karakter wat elkeen in die gesin se hart op die een of ander manier sal steel.

Die dorp bied naas Amsterdam die grootste aantal kulturele aktiwiteite per jaar in die land aan. Daar is iets in die dorp wat by elkeen in die gesin sal aanklank vind – of jy nou ’n Miffy-aanhanger is, versot is op treine, of daarvan hou om indrukwekkende argitektuur te bewonder terwyl jy aan ’n stroopwafel smul.

Die by-hotel, langs die ontdekkingstuin in die botaniese tuin, is in ’n gebied waar die toestande so perfek as moontlik gemaak is vir alle soorte insekte en klein diere. Foto: Lyoné Marnewick
Die pragtige loodglasvensters van Utrecht se Domkerk.

Trek jou stapskoene aan

Utrecht is gemaak vir dié wat daarvan hou om te voet te verken. Niks is regtig ver van mekaar nie en die een of twee plekke waarheen jy moet ry, is eintlik ook nie te ver nie.

Die botaniese tuin is in die hartjie van die Utrecht-wetenskappark en is uitgelê rondom Fort Hoofddijk. Die groen ruimte van nege hektaar is in 1639 uitgelê.

Die tuin bestaan uit ses kleiner tuine, waaronder die kliptuin, wat een van die grootstes in Europa is. Daar is ook ’n evolusietuin, ontdekkingstuin, tropiese kweekhuise, ’n huisie vir voëlkykers en ’n by-hotel.

Die by-hotel, langs die ontdekkingstuin, is in ’n gebied waar die toestande so perfek moontlik gemaak is vir alle soorte insekte en klein diere. Dit sluit paddas, naaldekokers, skoenlappers en bye in.

Nektarplante verskaf kos vir baie van die insekte.

Die heuning van hierdie bye kan in die tuine se winkel gekoop word.

Die Domtoring (Utrecht se kerktoring) is die hoogste toring in Nederland.

Dom-geskiedenis

Die Gotiese Domkerk, op die kerkplein, is gebou vir die biskop van Utrecht en opgedra aan St. Maarten. Dit het drie eeue geneem om die kerk met sy indrukwekkende loodglas-evangelie-vensters te bou, van 1254 tot 1520, nadat die oorspronklike kerk in 1253 afgebrand het. In 1674 het ’n tornado ’n groot deel van die kerk verwoes, en dié deel is nooit herbou nie.

Die Domplein, die oop vierkant tussen die Domkerk en die Domtoring, het die plek van die verwoeste deel van die kerk ingeneem. Indien jy op ’n Saterdagmiddag in Utrecht is, moet jy nie die 15:30-middagkonsert, wat al vir meer as 30 jaar gehou word, misloop nie.

Die Domtoring (Utrecht se kerktoring) is op 112 m die hoogste toring in Nederland. Die toring het 14 klokke wat altesame 32 t weeg.

Besoek vroegoggend die stiltes van die Domkerk en klim daarna die 465 trappies van die Domtoring (wat slegs as deel van ’n toer gedoen word). Kinders sal veral die uitsig van die hoogste uitkykpunt af geniet.

Jy kan ook flitslig in die hand die 2 000 jaar oue geskiedenis van Utrecht verken met een van die DOMunder toere.

Die Speelklokmuseum is groot pret en kinders sal die musiekinstrumente wat self speel, geniet.

Speel en leer

In Utrecht kan jy kies en keur tussen interessante museums.

Die Speelklokmuseum is groot pret en kinders sal die musiekinstrumente wat self speel, meer as geniet.

Vanuit elke hoek in die museum klink vrolike deuntjies op en ’n mens kan sommer ’n paar uur hier verwyl en nie die horlosie hoor tik nie. Van die self-spelende musiek-instrumente in die museum dateer van die 16de eeu.

Daar is baie om te sien en doen in die Speelklokmuseum.

Hier kan jy die bekende straat-orrel Arabier en die sogenaamde agtste wonder van die wêreld, die Violina, hoor.

Dis ’n interaktiewe museum wat gemik is op kinders (maar wat die ouers eintlik meer geniet).

As sussie (of mamma) ’n groot liefde vir Miffy het, is die Nijntje-museum ’n moet. Nijntje (soos die Nederlandse kinders haar ken) is die klein, wit hasie wat Dick Bruna geskep het wat kinderharte oor die wêreld heen verower het.

Miffy en haar maats neem kinders op ’n ontdekkingstog deur ’n interaktiewe museum waar hulle deur tonnels kruip, in Miffy se tuin speel, op tweewielfietsies deur Miffy se stad ry (met regte robotte), dokter-dokter speel, vir mekaar boek lees en interessante geure ruik en uitken.

Soos een ma met die uitstap laat hoor: “Hierdie is nou een museum wat ’n liefde vir museums by jou kinders sal kweek!”

Kinders sal gaande wees oor die Nijnte-museum.

Die Nijntje-museum is reg oorkant die Universiteitsmuseum Utrecht, waar kinders self wetenskaplike kan speel.

Loop ook deur die Oude Hortus, hul pragtige tuine. Daar is beeldskone wandelpaadjies.

Dit is pure plesier om langs die kanaal in Utrecht te sit en ietsie lekkers te eet.

Centraal Museum is die oudste munisipale museum in Utrecht. Jy sal nie glo dat hierdie enorme museum in 1830 in slegs vier kamers op die boonste vloer van die stadsaal van Utrecht begin is nie.

Hier sien jy inspirerende werke van onder andere Rietveld, Viktor & Rolf, Moesman en die Utrecht Caravaggisti.

Het Spoorwegmuseum bied soveel meer as net ’n kykie na treine. Hier neem ’n myn-hysbak jou terug na die tyd voor die stoomenjin uitgevind is. Jy kan ook die eerste Nederlandse stoomlokomotief, De Arend, bewonder.

By die gewilde Monsters of Steel kan jy in ’n wipwalangs treine en lokomotiewe ry. Daar is ook ’n Oosterse ouditorium waar akteurs tonele uit die bekende Orient Express uitbeeld.

Die Techlab sal self die nuuskierigste kinders se treinvrae kan beantwoord en aan die einde van jou besoek is daar ’n eksamen!

By Sea Salt Saloon sit ’n mens aan vir die allerheerlikste visgeregte.

Ek is honger, ma . . .

Utrecht is aan albei kante van twee kanale gebou – een is die bekende Oudegracht-kanaal – en die meeste van die effe skewe pakhuise reg langs die kanaal is omgeskep in restaurante, kroeë, boetiekwinkels en markies – die perfekte plek om iets te ete te gaan soek.

Plaaslike mense beveel Blauw aan as hul nommer-een-eetplek. Nederland het ’n florerende Indonesiese subkultuur en Blauw bied jou ’n tikkie van hul kultuur en spesialiseer in rijsttafels (van 15 tot 20 bakkies met verskillende geurige disse).

Tipies Nederlands – Utrecht se kanale.

’tKoffieboontje het twee winkels in Utrecht en die een op die Oudegracht is by verre die indrukwekkendste van die twee.

Dis ouderwetsekoffiewinkels met sagte stoele en banke, klein tafeltjies met lampies en ’n windpomp buite wat perfek is vir ’n Instagram-inskrywing of twee.

Hul koffie kom van Bocca af wat die baanbrekers in Nederland se spesialiteitskoffiebedryf is.

Probeer ook gerus hul wortelkoek!

Springwegstraat is een van die mooiste strate in Utrecht. Klop by Cafe Springhaver aan vir ’n plaaslike pale ale en hul romerige bitterballen. Om buite op die stoep te sit en na die mense te kyk, is heerlik.

Besoek ook die bekende visrestaurant Sea Salt Saloon. Jy hoef nie eens ver te stap nie – dié restaurant is slegs ’n paar treë van die Domkerk af. Hier kan jy net visdisse en nagereg bestel, en die verskeidenheid oesters van Ierland en Nederland is baie gewild.

Die dekor is interessant – met muurpapier op een muur wat soos visskubbe voel en op ’n ander muur soos visnet.

As jy van vars vis hou wat deur sjefs wat wéét gaargemaak is, sal jy mal wees oor Sea Salt Saloon.

’n Boot vaar luilekker op een van Utrecht se kanale.

Kom ons gaan koop!

Die wêreldbekende Breedstraat Lapjesmark is al meer as 400 jaar ’n instelling. Hier kan jy op Saterdae na hartelus die perfekte lap soek vir jou skeppings.

Die kosmark by Vredenburg sal elke gesinslid se lus bevredig. Dit word Woensdae, Vrydae en Saterdae gehou en is veral ’n goeie idee vir ’n gesin wat in ’n selfsorg-woonstel tuisgaan.

Dille & Kamille is een van my gunstelingwinkels in Nederland, en daar is ook ’n tak in Utrecht.

Hierdie winkel het ’n verskeidenheid huisware vir jou kombuis, eetkamer en badkamer en dié wat van mooi goed hou, sal meer as genoeg tyd hier kan deurbring.

Kyk na #dillekamille op Instagram as jy inspirasie benodig.

Utrecht is stad wat in jou hart in kruip en by jou bly . . . veral as jy van sy stroopwafels inpak om in jou eie kombuis te geniet!

Meer oor:  Nederland  |  Utrecht  |  Toerisme  |  Gesinsvakansie  |  Doendinge  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.