Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Vaar saam op statige dame

Die Lady Stanford neem haar passasiers op ’n statige, stadige reis al langs die Kleinrivier. Ilse Zietsman vaar saam.

Vanaf die Lady Stanford se dek het jy ’n immergroen uitsig oor die rivier en sy oewers.Foto’s: Ilse Zietsman

Lady Stanford is ’n ware adellike dame. Sy vaar nie sommer net saam met die stroom nie en sy vaar ook nie opsetlik teen die stroom nie. Sy laat, by wyse van spreke, die gety draai. Dit alles doen sy statig en stadig, sodat haar passasiers rustig die bedrywighede op die oewers kan sien, hoor en inadem.

Van waar kom die dame, vra jy. Lady Stanford is ’n platdek-rivierboot wat spesiaal gebou is om op die Kleinrivier in Stanford te vaar. Sy begin haar vaart in die dorp en vaar tot by die Hermanus-riviermonding.

’n Mens ontspan op die Lady Stanford terwyl die skipper sy staaltjies deel.

Die tog is stadig en rustig, soos ’n onverstoorbare dame, sodat passasiers die natuurlike skoonheid kan waardeer. Vir my voel dit kompleet asof die Kleinrivierberge jou omvou.

Die Lady Stanford is ’n rivierboot wat jou neem al met die Kleinrivier van hierdie dorp in die binneland tot by Hermanus aan die kus. Foto:

Daar is tot 120 voëlspesies, insluitende reiers, arende, valke, ibisse, ooievaars, lepelaars, eende en ganse in die habitat rondom die rivier. In die omliggende Stanford-distrik is 250 voëlspesies al waargeneem.

As jy nie ’n wafferse voëlkyker is nie en geneig is om spottenderwys na ’n groot gros klein voëltjies as LBJ’s (little brown jobs) te verwys, kan jy daarop reken dat die skipper jou – soos vir my – uit jou verleentheid sal red.

In die rustige Stanford is daar selfs nog plek-plek stofstrate.

Op die boot is ook verskeie voëlgidse waardeur jy kan blaai, voëllyste waarop jy kan afmerk wat jy gesien het en verkykers vir daai gevogeltes wat te ver draai.

Nie net was ons skipper se kennis van voëls uiters indrukwekkend nie, maar ons kon ook nie glo hoe goed hy was om allerhande soorte voëls van ver raak te sien en uit te ken nie.

Die hoogtepunt van my riviervaart was sekerlik die visarendpaartjie.

Ons was uiters gelukkig om drie visarende – ’n broeipaar met ’n jongeling – te sien waar hulle hoog in ’n boom met ’n goeie uitsig oor die rivier gesit het. Toe ons boonop hul kenmerkende roep hoor, was ons in ekstase. Dit klink inderdaad soos “die stem van Afrika”, soos wat die roep van die visarend soms bekend staan.

Wees op die uitkyk, want daar is soms selfs otters en waterskilpaaie wat naby verby swem.

Ons skipper het nie net sy voëlkennis gedeel nie, maar ook vir die passasiers meer oor die geskiedenis van die gebied sowel as ’n paar amusante staaltjies vertel.

Moenie stroomop wees nie; bespreek ’n vaart op die Lady Stanford – jy sal nie spyt wees nie!

Weet voor jy gaan

Wanneer:

Met sonsopkoms 08:00 tot 10:00

Laatoggend 10:30 tot 12:30

Oor middagete 13:00 tot 15:00

Laatmiddag 15:30 tot 17:30

Met sonsondergang 18:00 tot die son sak

Afhangende van die seisoen kan die tye soms ietwat wissel.

Waar:

Langs die sleephelling op die hoek van Kerk- en Du Toitstraat in Stanford.

Draai regs by die eerste straat, Daneelstraat, nadat jy Stanford binnegery het. Draai links in Du Toitstraat, wat jou tot by die sleephelling sal neem.

Koste:

R225 per persoon. Anders kan mense as deel van ’n groep bespreek word. Die Lady Stanford het plek vir ’n maksimum van 26 passasiers. Om die boot vir ’n eksklusiewe vaart te bespreek, kos R3 000. Bespreking is noodsaaklik.

Piekniek:

Jy kan óf jou eie piekniekkos pak óf vooraf ’n piekniekmandjie by die Lady Stanford bestel. ’n Piekniekmandjie vir twee bevat ’n verskeidenheid brode, kase, kouevleise, slaaie, patee en nagereg en kos R395. Jy kan ook ’n pizza bestel teen R130.

As jy van Bredasdorp se kant kom, bestel jou piekniekhappies by www.tablecafe.co.za en verlustig jou daarin hoe jaloers die ander passasiers is oor waaraan jy knibbel.

Op die boot:

Voëlgidse, voëllyste, verkykers, komberse, glase, ys en ’n chemiese toilet.

Besprekings:

bookings@ladystanford.co.za of www.ladystanford.co.za.

Meer oor:  Kleinrivier. Hermanus  |  Bootreis  |  Kus  |  Rivierboot  |  Boot  |  Lady Stanford  |  Vaart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.