Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Vakansie in die Goudstad

Die see, bos of berge bly gewilde wegbreekplekke – maar die betonoerwoud  kan ook bekoor.  Daniëlla van Heerden het ’n aand in die Goudstad omskep in ’n kitsvakansie.

Pablo House is op die hoogste punt in Melville.

As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad,” lui die lirieke van “Die wandellied”.

Daar is egter nie altyd genoeg tyd (of petrolgeld!) om sommer net vinnig te ontsnap uit die stad nie.

Toe ek manlief dus onlangs een aand wou verras met ’n midweek-winterwegbreek vir sy verjaardag, het ek die wandelpad opsygeskuif en die teerpad gevat – bloot na ’n ander deel van die stad!

Die vereistes was dat dit nie te ver van ons eie werf in Roodepoort moet wees nie, en ’n uitsig oor die stadsliggies moet hê.

Ek het eers geloer na van Johannesburg se gewilde hotelle, van Sandton tot in Westcliff. Maar selfs die spesiale aanbiedinge was peperduur en klaarblyklik eerder gemik op toeriste wat met dollars kan betaal. Boonop verkies ons albei ’n meer ontspanne, eenvoudiger wegbreek as wat formele hotelle gewoonlik bied.

Ek het verder op die internet gesnuffel en afgekom op Pablo House, wat enkele maande gelede sy deure geopen het in Westdene (met ’n uitsig oor die Melville-koppies).

Die dekor kombineer helder en huislik.
Die ruimtes is ingerig om huislik en warm te wees. Foto’s: daniëlla van heerden

Ervaar die Melville-kultuur

Waar jy buite die gastehuis parkeer, kan jy egter nog niks van die uitsig sien nie en ek het net gehoop die foto’s was nie misleidend nie. Maar my kommer was ongegrond – sodra jy deur die voordeur stap, betree jy ’n stads­oase.

Die eienaars, Leigh en Louis Roux, het elke spasie só ingerig dat die uitsig tot sy volle reg kom.

In 2016 was die eiendom – geleë op die hoogste erf in die gebied – nog ’n vervalle ou studentehuis. Die egpaar het dit opgeraap en aan die werk gespring om hul droom werklikheid te maak.

Hulle het besluit om hul eie kop te volg en doen dinge dus in vele opsigte anders as gewone gastehuise. Só word hier byvoorbeeld nie soggens ’n kontinentale ontbyt van jogurt, spek en muffins in ’n groot eetsaal uitgepak nie.

Gaste kan eerder in ’n tuk-tuk klim en in die straat af rits vir hul spek en eiers. Louis is immers ook die eienaar van die gewilde eetplek Pablo-Eggs-Go-Bar in Melville – die naam “Pablo House” was juis ’n uitbreiding daarvan.

“Ek is dol oor brunch en Louis maak gereeld vir my en ons vriende heerlikespreads met eiers as die hoofbestanddeel,” sê Leigh.

“ ’n Vriend het grappenderwys na Louis begin verwys as Pablo Eggs-Go-Bar – ’n woordspeling op die Colombiaanse dwelmbaron Pablo Escobar. Maar toe Louis die eetplek oopmaak, het hy besluit dit sal goed dien as ’n unieke naam!”

Pablo Eggs-Go-Bar is net ’n rapsie meer as ’n kilometer van die gastehuis af, en toeriste kan via die tuk-tuk daar gaan sit en eet – of die kos kan van die restaurant af by hul kamer afgelewer word.

“As hulle in die restaurant gaan eet, ervaar hulle sommer die breër Melville-kultuur en kan hulle van die interessante inwoners van die buurt ontmoet,” verduidelik Leigh. “Ons wil hê Pablo House moet vir gaste nie net ’n oorslaapplek wees nie, maar ’n belewenis wat hierdie deel van die stad vergestalt.”

Vir die warm somermaande is daar ook ’n swembad waarin jy kan afkoel.
Geniet ’n skemerkelkie op die balkon.

’n Ontspanne vakansie-atmosfeer

Die dekor in die kamers (elk met ’n uitsig) en ontspanningsarea is ’n eklektiese mengsel van helder kleure en luukse teksture. Leigh vertel sy laat dit alles aan Louis oor.

“Hoewel ons albei van ons gunsteling- kunswerke hierheen gebring het, is hy die een met die sterk visie vir die interieur van Pablo House.

“Hy is ook gek oor plante. As ek weer sien, dra hy ’n nuwe potplant met ’n helder blom of vetplant of ’n ding hier in. Maak hy laat dit alles werk.”

Die skep van ’n ontspanne vakansie-atmosfeer was vir hulle belangrik, en daarom het hulle ’n groot kuierarea met glasvensters ingerig waar gaste die hele dag kan sit en kuier, ontspan of selfs op hul skootrekenaars werk.

Hulle noem dit Pablo Dos Manos, en dit is ook oop vir gaste en besoekers wat nie hier oorslaap nie – mits hulle vooraf bespreek.

Koffie en drankies is deurlopend beskikbaar, en sekere tye word daar ook heerlike pizzas bedien wat in die pizza-oond op die perseel gemaak word.

Terwyl jy lui aan ’n skemerkelkie teug, sien jy Sandton se stadsprofiel in die noordooste en Northcliff se watertoring wanneer jy jou kop wes draai. Die pragtige sonsondergange sal jou boonop na jou kamera laat gryp.

In die groot leefruimte kan jy ure om kuier, eet en selfs ’n bietjie werk gedoen kry as dit dan nou moet. Foto:

’n Lang kuier in Jozi

Leigh reken die Goudstad het onverdiend ’n slegte reputasie as toeristebestemming.

“Mense stop dikwels net hier om sake te doen, of toeriste slaap een aand oor op pad wildtuin toe.

“Ek dink tog dit is eindelik besig om te verander, en dat al hoe meer besoekers besef jy kan dae lank in Jozi uitspan. Hier is duisend dinge om te doen. Ons wil deel wees van die vernuwing.”

Of jy nou ’n plattelander is wat die Goudstad wil aandurf of ’n Johannesburger is wat jou tuiste deur nuwe oë wil beskou – Pablo House in Melville sal jou bekoor.

  • Pryse vanaf R1 100 per eenheid per aand (vir twee gaste) met ontbyt ingesluit. Besoek pablohouse.co.za vir meer inligting.
Meer oor:  Goudstad  |  Vakansie  |  Besoek  |  Reis  |  Kitsvakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.