SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Reis
Van veldslae tot lekker eet

KwaZulu-Natal is ’n gewilde wegbreekplek vir Gautengers – en met soveel verskillende interessanthede, beslis ’n lekker oorweging vir ’n langnaweek of skoolvakansie.

Sononder by die Oyster Box Hotel is seker een van die mooiste plekke om te wees. En dan val jy weg aan hul kerrie!Foto’s: Clifford Roberts

Ons oornagplek vir die eerste paar dae is die selfsorg-eenhede by Brahman Hills, maar ons gebruik nie eens die ketel nie, want die lekkerbek-plekke van die Middellandse Meander is te aanloklik: ons drink varsgeroosterde koffie by Steampunk Coffee by Lionsrivier; gaan beproef die oulike glybaan by Piggly Wiggly en smul daarna aan varsgebakte plaasbrood met hoendermayonnaise in die restaurant, voordat ek badsout by The Lavender Co. gaan koop en lekker wyne gaan uitsoek by die Meander Fine Wines.

Ons moet natuurlik by Nottingham Road Brewing Co. se brouery by die Rawdons Hotel aangaan. Hulle het in 2017 al hul mondigwording gevier. Daar onder die bome proe ons en raak lekker honger vir die oulike tuisgebakte pastei-potjies wat uit die kombuis kom. En toe ek ingaan binnetoe om te vra waar die badkamer is, sien ek twee vroue proe gin. Gin? Ja, lag die gawe kêrel agter die toonbank. Hulle distilleer die afgelope twee jaar hul eie jenewer, Rawdons Gin. Daar is drie distilleerders, en in ’n oulike klein houthuisie ’n paar meter van die brouery, sien ons toe hoe die stookketel sy lieflike voggies uitspoeg.

Steampunk Coffee is beslis ’n gat in ’n muur van buite af, maar binne is dit ’n heel ander storie. Die barista, Colin Ndlovu, rooster nou ook bone.

Tyd vir smul en geskiedenis

Ons gaan eet lekker Durbanse bunny chow by die nuut opgeknapte The Windmills Kitchen – wat voorheen The Midlands Kitchen was – neffens Brahman Hills. Toe ons die motor vol petrol maak, hoor ons dat ons gratis filterkoffie in die wegneem-gedeelte kan kry.

So, met ons koffie val ons in die pad na Winterton, waar ons by Cathedral Peak Wines buite die dorp vir middagete bespreek het. Ons kuier so lekker daar en smul aan beesstert en die vlagskipwyn, Unesco 985, en hoor van al Flip Smith, die bekroonde wynmaker, en sy vrou, Caren, se planne. As jy op die stoep sit met jou glas yskoue sauvignon blanc, kyk jy oor die wingerde en in die verte is ’n dam met baie voëls, wat aan ’n private reservaat grens.

Met ses bottels wyn onder die blad, kies ons koers terug na ons verblyf op ’n plaas aan die voet van Cathkin Peak.

Roofvoëls kan van naby gesien word by die Falcon Ridge Bird of Prey Centre.

Vroegoggend is ons na Falcon Ridge vir ’n roofvoël-demonstrasie, voordat ons by Scrumpy Jacks indraai vir Marelize Stewart se legendariese heuning-kaaskoek. Sy vertel dat sy en haar man, Deon (ewe bekend vir hul heuning-onderneming), in Desember in die groter padstal ingetrek het, wat nou ook ’n lekker groot restaurant insluit.

Ons hoor by haar van San­dra se Winkel, maar sy waarsku dat jy ’n hele dag daar nodig het as jy so nostalgies is soos ek. Sandra Lemmer het vyf jaar gelede op hul plaas ’n negosiemuseum aan die linkerkant en ’n outydse plaaswinkel aan die regterkant opgerig.

Ons val weer in die pad: vier uur se slegte grondpad, met asemrowende natuurskoon in landelike gebiede, waar jy gereeld uitswaai vir slaggate, beeste, bokke of mense en ons parkeer onder die bome by die Isandlwana Lodge, ’n uur of wat anderkant Dundee.

Sandra se Winkel naby Cathkin Park bestaan uit ’n winkel en museumpie.

Dis hier waar die Britte in Januarie 1879 meer as 1 500 troepe in ’n verrassingsaanval verloor het. Ons gids is ’n afstammeling van Inkosi Sihayo, een van die groot rolspelers in die Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879. Ek kry hoendervleis toe hy die storie met soveel emosie vertel, die oorlogskrete van die 20 000 Zoeloekrygers namaak en ek daar op die vlaktes by die Isandlwana-koppie sit.

Ons smul by die lodge aan eland-spaghetti-bolognaise met ’n Durbanse jenewer, Blind Tiger, voordat ons verder gaan luister oor die Slag van Rorke’s Drift ’n paar kilometer verder. Rorke’s Drift was die tweede veldslag van agt toe Brittanje Zoeloeland wou annekseer.

Ons beweeg aanwaarts: Hluhluwe toe vir wildkyk in Suid-Afrika se oudste geproklameerde park, die Hluhluwe Imfolozi Park wat bykans 100 000 ha groot is. Ons bly in splinternuwe selfsorg rondawels by die Anew Hotel Hluhluwe & Safaris. Ná vol dae in die park, sit ons saans onder die sterre en kyk hoe die vlamme aan die donker nag lek.

Ons het die nuwe Birding in South Africa’s National Parks deur Rob Little op die lughawe gekoop, en al is Hluhluwe Imfolozi nie in die boek ingesluit nie, omdat dit nie direk onder SanParke val nie, kan ons ’n hele klomp voëls sommer daar op die stoep uitwys: mikstertbyevangers, suikerbekkies en vinke, wat raserig hul neste oor die water bou.

ISandlwana, waar die Britte in Januarie 1879 meer as 1 500 troepe in ’n verrassingsaanval verloor het.

Kies koers na Durban

Aanwaarts, Durban toe. Ons volg die kaart op ons slimfoon na Tapanga Rum buite Richardsbaai. Daar is geen borde, geen besoekersentrum en ons is nie eens seker hulle laat besoekers toe nie, maar ons besluit om te waag. Tussen die suiker- en bloekomplantasies deur, kom ons by ’n omheinde stuk grond, waar rook by ’n klein fabriek uitdraai.

Eenkant is vroue besig om jong groen boompies in ’n houtkapmasjien te voer. Gelukkig hoef ons nie lank te wonder nie, voordat die hek oopgly en ’n reuse-glimlag ons begroet.

Bongi Maduna is die pakhuisbestuurder van Soil, waar vlugtige olies gedistilleer word. Ons vra of ons by Tapanga Rum is en hy sê ons het sommer twee vlieë met een klap geslaan.

Drie uur lank wys Melissa Peters ons deur die rum-distilleerdery, laat ons hul onverouderde en verouderde rum proe en verduidelik wat hulle uniek maak: geen molasse word gebruik soos in die meeste ander rums nie, net suikerriet van hul plantasies.

Ná ons insiggewende toer en proesessie, vertel Bongi ons oor vlugtige olies: teeboom wat hulle self kweek, tesame met roosmaryn en bloekom, tot al die ander olies wat hulle van oor die wêreld heen invoer.

In Durban kuier ons in Floridaweg, waar die historiese ou Eduardiaanse en Victoriaanse geboue jou asem wegslaan. Ons drink drankies by Wilson’s Wharf om die son oor die stad te sien ondergaan, voordat ons gaan kerrie eet by die Oyster Box Hotel in Umhlanga.

Soveel heerlike herinneringe van hierdie ruie, groen provinsie met sy lieflike weer, vriendelike mense en geskiedenis!

Meer oor:  Kwazulu-Natal  |  Naweekwegbreek  |  Reis  |  Langnaweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.