Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Vat ’n Micra-toer langs die Baai se ‘walvisroete’

’n Stadsmotor vir jong mense werk net so goed as ’n toerkar op ’n Saterdag – én vir ’n skemerkelkie by die see, verkieslik terwyl jy op ’n reënerige dag na walvisse soek, sê Michael Green.

Die Nissan Micra Acenta.Foto: Willemien Green
Kyk hoe mooi lyk die Acenta van agter af.Foto: Willemien Green

Moenie verbaas wees as jy met ’n Nissan Micra Acenta by ’n verkeerslig stilhou en die jong lat in die baan langs jou rev sy kar so ’n bietjie nie. Die nuwe Micra is ’n windmaker-motortjie en by ’n verkeerslig word daar ’n uitdaging aan jou gerig . . . wroem-wroem, kom ons kyk wie kan die vinnigste wegtrek. Kom ons kyk wie is eerste by die volgende verkeerslig.

Dis verspot, ja, maar hierdie Micratjie laat weer lewensvreugde deur jou liggaam pols. Van die petrolpedaal tot by jou trillende neushaartjies. Die outjie kan glo van 0 tot 100 km versnel in 12 sekondes – maar dis nou nie iets wat ’n mens in Kaapweg of William Moffet in die Baai op die proef wil stel nie.

Dan is die dingetjie boonop so mooi ook. Ek het heelwat mense betrap dat hulle die Micra van agter bewonder. Die Micra is steeds bestem vir die jonger mark, maar die nuwer sportiewe voorkoms trek nou meer aandag as voorheen.

“Ek het ’n vorige model gery. Hierdie een is baie mooier,” het ’n kuifkop-knaap my vertel, waar hy by Sherwood Gardens in Port Elizabeth se orgideëskou op sy meisie gewag het terwyl sy haar naels laat doen.

Ja, om ’n mens se naels te laat doen by die orgideëskou klink vreemd, maar kom ek verduidelik.

By die gewilde 2nd Time Around kan ’n mens vir ure rond snuffel. Foto: Willemien Green

Daar is heelwat om te sien en te doen by Sherwood Gardens. Binne die groot kwekery is daar nie net ’n winkel waar jy jou naels kan laat doen nie, maar ook ’n winkel waar jy trourokke kan koop, ’n babawinkel, ’n troeteldierwinkel,’n geskenk- en handewerkwinkel, en ’n boekwinkel. O ja, en ’n eetplek.

Elke tweede Saterdag van die maand vergader die Oos-Kaapse bonsaivereniging ook daar. Ek weet, want my vrou is gek oor bonsaiboompies – en oor orgideë.

Om by Sherwood Gardens uit te kom moet jy in Kaapweg ry weg van die see af, sê maar van die Donkin-reservaat se kant af, dan is dit so links, regs, links, regs . . . Uit Kaapweg draai jy links in Kragga Kammaweg, regs in Kabegaweg en links in Walkerrylaand, en dis hom daardie op jou regterkant – Sherwood Gardens.

Een van die nuutjies in die Micra is dat hy outomaties afsluit wanneer jy stop en jou voet van die koppelaarpedaal afhaal. Dis nou om petrol te bespaar, sien. Met die wegtrekslag sit jy net weer jou voet op die pedaal en daar gaan jy weer. Dis soos ’n partytjie-truuk. As ’n mens nie al voorheen in ’n motor gery wat dít doen nie, wil jy net almal oplaai en vir hulle jou nuwe truuk wys. Die Acenta het ook ander slim funksies wat voorheen eintlik net vir groter en luukser motors beskore was. Die ligte gaan byvoorbeeld outomaties aan en af afhangende van hoe lig of donker dit is. Dis baie nuttig as jy ’n verstrooide mensie is wat die ligte gereeld aan vergeet.

Hierdie oulike plekkie was ongelukkig toe die dag toe ons oppad Cow Corner daar verby is. Foto: Willemien Green

Die Micra is nie ’n toerkar nie, maar eerder bedoel as ’n stadsmotortjie vir rondrits tussen punt A en B. Niks keer ’n mens egter om in jou eie stad te toer nie. Met die orgideëskou agter die rug was dit dus tyd om ’n draai te gaan ry, van punt A na B, en dan al die pad tot by I.

Die plan was aanvanklik om iewers in die see te gaan swem, maar die weer wou nie saamspeel nie. Dit het skielik bewolk, winderig en koud geraak.

“Dan ry ons maar die walvisroete!” het my vrou voorgestel.

Dis nie ’n amptelike roete nie, maar partykeer sien ’n mens walvisse in die water as jy met die pad langs die see ry.

Die Farm Shoppe by Colleen Glen.Foto: Willemien Green

Om van Sherwood Gardens af daar te kom, draai jy weer in Kragga Kammaweg in en ry dan in die rigting van Sea View. Daar is heelwat om te sien langs dié pad, soos die Kragga Kamma-wildtuin, Holmeleigh Farm en Swan Lake Gardens, maar ons wou gaan rondsnuffel by 2nd
Time Around. Dit is ’n wonderlike antieke winkel waar jy enigiets van seldsame winkelpoppe tot ’n ou haarkapperstoel kan aanskaf. Daar is ook ’n handvol vet katte wat jou onderlangs bekyk.

Teen hierdie tyd het ek begin dors word en ons is voort na Cows Corner in Colleen Glen, waar daar ’n paar winkeltjies en eetplekke is. As jy nog snuistery soek, kan jy hier kom snuffel, want Save-A-Pet hou ook een keer ’n maand in die parkeerarea voor die Elephant Walk-restaurant ’n kattebakverkoping.

In die Farm Shoppe dwing die reuk van varsgebakte brood jou om een teen R18 aan te skaf.

Michael Green lyk of hy nie kan ophou brood koop in die Farm Shoppe nie. Foto: Willemien Green

Ná só ’n stuk brood – sommer net so uitmekaargeskeur – is ’n man nogal dors en gelukkig is die Three Legged Pig-kroeg net oorkant die straat. Alice Sherrington is die eienares van die Three Legged Pig. Sy vertel dat die kroeg ’n gewilde bymekaarkomplek vir motorfietsentoesiaste is. Alice vertel ook waar die kroeg, wat jare gelede ’n slaghuis was, sy naam kry. Dis ’n interessante storie wat party mense nogal kan laat bloos. Kom dus maar liewer self hierheen, sodat sy vir jou die storie oor ’n glas bier kan vertel.

Langs die kroeg is ’n Caltex-vulstasie, maar tensy jy ’n pakkie lekkers by die kiosk wil koop, hoef jy nie hier aan te doen nie. Die Micra se klein 66 kw turbo-enjin is glad nie swaar op die sous nie – glo net 5,1 liter per 100 km volgens die amptelike spesifikasies.

Ná ’n koeldrankie het ons weer in die Micra gespring en vinnig verby die leeupark in die rigting van Sea View gery. Die hele tyd het ons na die onstuimige see gekyk.

“Nee, ek dink nie ons gaan vandag ’n walvis sien nie,” het ons gekla.

’n Vorige keer toe ek, my vrou en seun omtrent op die presiese plek gery het, het ons ’n walvis gesien wat sy stert in redelike vlak water klap. Ons het stilgehou en saam-saam begin aftel: “Tien-nege-agt . . .”

Toe ons by zero kom, was dit asof dit die teken was waarop die walvis gewag het om skouspelagtig ’n ent uit die water die lug in te spring.

Binne in die kroeg Three Legged Pig. Hier bedien Alice Sherrington (links) vir Gareth Green. Foto: Willemien Green

Wow!” was die enigste woord uit drie kele uit bykans histeriese verwondering vir een van Moeder Natuur se mees grasieuse vetsakke.

In Beach View is daar ’n restaurant, Barnacles. Dis die ideale plek om op ’n sonnige dag buite te sit en oor die see te staar.’n Sonnige dag is egter nie ’n voorvereiste om by Barnacles te stop nie.

Iemand in die kar het besluit dit is tyd vir skemerkelkies. Dit was seker my seun, want hy is nou op daardie ouderdom dat enige tyd, volgens hom, ’n goeie tyd is vir skemerkelkies. Die drankies het uitspattige name, soos Southern Solution, Jungle Juice en Whale Watcher Jack. Die vriendelike Julie Meyer – ’n groot katliefhebber – het ons bedien. “Die see is vandag ’n wasmasjien,” het sy gesê.

Op ’n sonnige dag is hierdie deck by Barnacles in Beach View die ideale plek om oor die see te sit en staar in die hoop om walvisse te sien. Hierdie was nie ’n sonnige dag nie. Foto: Willemien Green
Julie Meyer met ’n paar cocktails voor die see wat volgens haar op dié dag ’n wasmasjien was.Foto: Willemien Green

Julie het ons toe oortuig om ook ietsie kleins te eet – onder andere Jalapeno-balle.

’n Mens verloor maklik tred met tyd hier, want dis ’n lekker plek, maar eindelik is ons daar weg.

Die Micra se ingeboude “vermaaksentrum” met die raakskerm spog met ’n rits letters soos: AM, FM, MP3, USB, BT, RDS, Aux, iPod en RDS. Al wat dit eintlik beteken, is dat jy die musiek van jou keuse kan luister, hetsy oor die radio, op ’n geheuestokkie of via jou foon. Met goeie musiek oor die luidsprekers het ons Seaview-weg opgery, verby Kinibaai. Iewers aan ons linkerkant is ons verby die plek waar die ou Lavender Barn was. Dit was ’n plek waar jy ietsie kon eet en daar is kunsuitstallings en troues gehou. Sowat agt jaar gelede het dit verskriklik gereën en die plek het heeltemal verdrink. Toe swem ’n bekende plaaslike driekampatleet, Alec Riddle, daar rond. Daar is foto’s wat dit kan bewys.

’n Dis met Jalapeno-balle by Barnacles. Foto: Willemien Green
Spesifikasies

Enjingrootte: 898 cc

Wringkrag: 140 nm @ 2250 rpm

Aandrywing: 4 x 2

Ratkas: 5-spoed handrat

Prys: Vanaf R 268 500

By die Grass Roof-restaurant het ons regs gedraai in Heronweg. Ons het reguit aangery tot by die T-aansluiting.

Regs is die pad Sardiniabaai toe met ’n lekker swemstrand as die weer mooi is. Links loop Sardiniabaaiweg, verby die Old Cash Store, verby verskeie plekke waar mens kan gaan perdry, oorbly of na slange gaan kyk tot by die Algoa Kart & Motorcycle Club waar ons “walvisroete” regs draai na Schoenmakerskop. Hier kan jy weer kies om regs te draai na die Sacramento-restaurant en Sacramento-staproete, of links na Port Elizabeth.

Die son het al water getrek en nie eers vier walvisse wat gelyk uit die see uit spring soos ’n gesinkroniseerde swemspan by die Olimpiese spele sou ons uitstappie kon verleng nie.

Die Micratjie moes maar aanhou op ’n drafstap verby chalets en kampeerplekke soos The Willows, verby die Noordhoek Skibootklub, verby die afdraaipad na Cape Recife en eindelik verby Humewood-gholfklub die stad in.

Só ’n uitstappie langs die Baai se nie-amptelike walvisroete kan ’n mens regtig lui maak.

Daardie aand het ek in my bed gelê en walvisse tel – nie skape nie. Ek het egter nie ver gekom nie.

Grafika
Grafika

Alec Riddle swem by die ou Lavender Barn rond na dit verspoel het. Foto: Argief
Só duik ’n walvis! Om op ’n winderige dag na dié ‘grasieuse vetsak’ te gaan soek, benodig jy dalk ’n Nissan Micra Acenta. Foto: Lloyed Edwards
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Walvisse  |  Oos-Kaap Naweek  |  Toetsbestuur  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.