Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
‘Velddrif is vis van begin af’

Lokkie van Zyl vertel die vissers se stemme is ook nou stil, skryf Maryke Roberts.

Lokkie van Zyl

Lokkie van Zyl onthou die dae toe toeriste oopmond gestaan en luister het na ’n Velddrif-dialek onder die vissers in Bokkomlaan. Neffens die grondpad langs die rivier is die drooghuisies waar harders opgehang en as bokkoms verkoop word.

Min mense verstaan die eiesoortige woordeskat van die vissersmense, veral omdat die bry-spraak so diep agter in die keel, vreemd is. Boonop gebruik hulle ander ou woorde wat bewaar gebly het omdat die dorp vir so lank van die res van die wêreld afgesonder was. Die brug oor die rivier is eers in 1950 geopen.

“Nou is Bokkomlaan stil, want die vissermanne mag nie meer in die rivier visvang nie omdat die vis van die see af inkom om hier te broei. Vis word nou van die see af aangery om in Bokkomlaan te droog,” vertel dié skrywer van die kontreiboek Velddrif se stories.

Lokkie sê: “Hulle moet van die Velddriwwers in die museum gebruik, dat die vissermanne hul nette daar sit en boet, sodat besoekers na hul stories in hul besonderse bry-spraak met die uitgerekte ui- en uu-klanke kan luister.”

“Velddrif is vis van die begin af . . .” Die Weskus was altyd die grootste verskaffer van soutvis vir die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, want die regte vis (harders) swem hier en die Kaap is te nat om soutvis te maak.

“Aan die einde van die 1700’s was daar tussen 8 000 en 12 000 slawe aan die Kaap alleen. Deel van die slawe-rantsoen was ’n sekere hoeveelheid meel en soutvis en jy kan ’n idee vorm van die hoeveelhede vis wat benodig is.”

Ook koringwêreld

Carl Stephan wat hom in 1870 teen die Bergriviermond kom vestig het, het Italianers gewerf om vir hom te werk. Hy het onder meer ’n watervervoer-onderneming besit en die Stephan-familie het ook ’n meule in die Kaap gehad.

Die Stephan-familie het met hul kotters en ook ’n stoomboot, die Firefly, tot 70 km opgevaar met die Bergrivier, en die koring opgekoop. By die riviermond is die produkte oorgelaai op groter kusvaarders. Hy het ook soutvis en koring Mauritius toe vervoer en suiker teruggebring.

Die baanbreker in hierdie handel met Mauritius was eintlik die Italianer Gaetano Viola, wat van Bokkomlaan af geseil het met sy soutvis en suiker teruggebring het. Die onderneming het begin kwyn toe ’n treinspoor in 1914 tot op die Bergrivierstasie voltooi is.

Die Italianers was nie net gewild omdat hulle so goed was met seil en bootbou nie. Hulle het die plaaslike mense ook in die 1930’s van ’n ander soort net – die Lampara- of beursnet – geleer. Die vissermanne praat van ’n seen wat afgegooi word met sinkers onderaan. Wanneer dit vol vis word, trek die net boontoe. Daarmee hoef jy nie van die wal af te vang nie en groter hoeveelhede vis kan gevang word.

Steeds kon die vissers nie meer vis verkoop nie. Daar was nie verkoelingsgeriewe nie en ook nie ’n groter mark nie. ’n Kommissie van ondersoek van die NG Kerk bevind in 1936 die gemiddelde visserman­inkomste is 30 pond per jaar, maar 17% het minder as 15 pond per jaar verdien.

’n Oorlog van vooruitgang

“Toe breek die Tweede Wêreldoorlog aan. Die Beleid van Verdonkering heers in die Kaap, so vissermanne kon nie snags uitgaan nie omdat daar geen ligte mag gewees het nie, uit vrees vir lug- of duikboot-aanvalle op die Kaap.

“Mense het hul ruite met vaalpapier toegeplak en soldate het die strate gepatrolleer om seker te maak daar is nêrens lig nie. As hulle lig gewaar, het hulle ’n klippie op jou dak gegooi.”

In die Kaap was vis skaars, maar op Velddrif was dit volop.

Lokkie lees uit haar boek ’n stukkie wat haar ma geskryf het. “Dus het elkeen wat kon, vir hom ’n lorrie aangeskaf om vis aan te ry Kaap toe. Ons het dit ook gedoen, maar toe die twee visfabrieke, AIF en Marine Products opgerig is, het ons hul blikkiesvis en vismeel na die trein geneem. Geblikte vis was nou groot in aanvraag. Dit het die nood verlig vir voldoende kosvoorraad vir die menigte Geallieerde skepe wat by die Kaap en Saldanha se hawens aangedoen het.

“Al het die Tweede Wêreldoorlog ekonomiese vooruitgang vir die Weskus gebring, het dit ons mense in twee kampe verdeel, tot binne-in families. Hier in ons ylbevolkte Weskus, so ver van alles, is ons ingesuig in twiste wat nie ons s’n was nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.