Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Ver in die ou groen Kalahari
’n Dooie kameeldoringboom is al herinnering aan die uitmergelende droogte wat vir agt jaar in die Kalahari geheers het. Foto: Anena Burger

As die volstruise heupdiep in die groen gras wegraak, die arende sommer op die grond sit en gaap en die gemsbokke so dikgevreet is dat hulle te lui is om weg te hardloop, weet jy dit gaan goed daar ver in die ou nat Kalahari.

Die Kgalagadi-oorgrenspark, in die verste hoek van die Kalahari in die Noord-Kaap, is tans so groen “dit maak eintlik jou oë seer”, sê een besoeker.

Dit is moeilik om te glo dat die park, wat ’n maand gelede nog onder ’n knellende droogte van bykans agt jaar gebuk gegaan het, nou so groen is dat jy vlietend wonder of jy jou nie dalk in KwaZulu-Natal bevind nie.

Al herinnering aan die moeilike tye is die dooie bome wat soos grafstene tussen lowergroen duine uittoring.

Ongehoorde reënval

“Dit is die eerste keer dat ek die park so groen sien en ek werk al van 1995 af hier,” sê Steven Smith, parkhoof.

Smith sê by Tweerivieren, by die ingang na die park, het daar sedert 1 Desember reeds 147 mm reën geval.

’n Rooihartebeeskoei en haar kalf skuil in die skadu van ’n boom. Foto: Anena Burger

“Ander plekke, in die noorde, het meer as 300 mm gehad. Dit is net ongelooflik en ons is so dankbaar,” sê hy met ’n groot glimlag.

Die reënval is byna ongehoord. Dit is meer as wat die park in ’n goeie jaar al ontvang het.

Tog gaan dit nog baie reën verg om die ondergrondse watervlakke te herstel.

“Die watertafels is baie diep en ons het heelwat boorgate met die droogte verloor wat eenvoudig net ingegee het.”

Dit is ook te duur om net weer boorgate te boor.

Tog is die verligting en vrolike gemoedere van die personeel tasbaar.

Almal glimlag en het ’n huppel in hul stap, want dit is wat reën en spekvet, gelukkige diere beteken – pure blydskap.

Oor Kij-Kij en Auchterlonie

Jy hoef nie eens ’n viertrekvoertuig te hê om die park nou in al sy glorie te beleef nie.

’n Gemsbok wei rustig en is glad nie met toeriste gepla wat stop om kiekies te neem nie. Foto: Anena Burger

Met ’n ligte voertuig kan jy van Tweerivieren so ver as Kij-Kij en met ’n bakdraai om na Auchterlonie en terug na Tweerivieren ’n gemaklike roete ry.

Maar ry sommer lekker vroegoggend al en pak ’n piekniekmandjie, want dit neem meer as ’n uur om 20 km af te lê.

Nie omdat die paaie sleg is nie; dit is glad nie, maar omdat daar net te veel is om te sien en te kiek.

Dit gaan stop-stop, want nes jy dink jy het nou alles by een plek gesien, wag die volgende verrassing ’n paar meter verder.

Die katsterte blom ’n sierlike pienk en uit die mikke van ’n dooie kameeldoringboom hou ’n bleeksinkvalk die vlaktes dop.

Iemand moet immers wag hou, want die lewe is nou so luilekker dat die gemsbokke nie eens roer as jy knap teen hulle stilhou om ’n foto te neem nie.

Hulle lig skaars hul koppe en staan net met bekke vol gras en kou en kou en kou.

Die Kgalagadi-oorgrenspark is so groen ná die goeie reën sedert Desember dat dit amper te goed is om te glo dat dit dieselfde park is van ’n maand gelede. Foto: Anena Burger

Samevloeiing

By Samevloeiing sit ’n arend en gaap op die grond.

Hy is glad nie gepla deur die wesens wat hom dophou of hul kameras wat aanhoudend klik nie.

’n Rooihartebeeskoei staan in die koelte van ’n boom terwyl haar kalf stertswaaiend aan haar suip.

Ook sy is min met die toeriste gepla wat opgewonde oor haar telg koer.

’n Paar treë verder steek ’n lang nek bo die gras uit.

Katsterte staan oral pienk in die blom. Foto: Anena Burger

’n Volstruismannetjie staan tussen die lang gras naby sy maat en hul span kuikens.

Die wollerige volstruisies baljaar alte lekker om hul ma se pote en pik-pik ook op die grond langs.

So goed gaan dit nou in die park dat ’n leeuwyfie en haar welpies nie eens die bokke op hol jaag as hulle na die watergat by Samevloeiing aangestap kom nie.

Sy is tog sku en versigtig en steek haar telge vir mensoë ’n bietjie langer weg.

Haar teenwoordigheid lok groot belangstelling, want die swartmaanhaarleeus van die Kalahari, die grootste leeuspesie in die land, sal altyd besoekers betower.

Besoekers sit vir ure by watergate net om ’n wyfie met welpies te kan sien.

Die veld beef met nuwe lewe en die koringvoëls sing jubelliedere en saans jag die koeëlronde geitjies al wat ’n gogga is wat om die kampligte saamdrom.

Ja, die lewe is weer goed daar ver in die ou Kalahari.

’n Volstruismannetjie staan heupdiep in die groen gras. Foto: Anena Burger
’n Volstruiswyfie en haar kuikens wei luilekker in die groen veld. Foto: Anena Burger
Waar ’n maand gelede net ’n vaal, stowwerige vlakte met kurkdroë duine gestaan het, is alles nou grasgroen. Foto: Anena Burger
Skoenlappers drom saam by waterplasse wat ná die reën oorgebly het. Foto: Anena Burger
Twee sekretarisvoëls loop deur die welige groen gras op soek na ’n lekker vet slang. Foto: Anena Burger
’n Bleeksinkvalk bespied die wêreld vanuit ’n dooie kameeldoringboom. Foto: Anena Burger
Steven Smith, parkhoof van die Kgalagadi-oorgrenspark. Foto: Anena Burger
Meer oor:  Kalahari  |  Vloede  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.