Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Verken Genesis van die lewe

Die Barberton Makhonjwa-georoete neem jou miljoene jare terug in tyd.

Inheemse flora maak ’n besoek aan die georoete selfs nog meer besonders. Foto’s: Alita Steenkamp

’n Besonderse roete in die Laeveld is die een tussen Barberton en die Josefsdal-grenspos. Die stukkie pad, ook bekend as die Saddleback-pas, is vroeg in die 20ste eeu deur ’n mynwerker, Allen Andrews, uitgelê as ’n wapad waarmee hout na sy myn aangery is. Die pas kronkel hoog teen die Makhonjwa-gebergte uit en neem jou deur die mooiste klowe en valleie tot by die Eswatini-grenspos.

Wat van hierdie 38 km so ’n buitengewone ervaring maak, is dat hierdie stuk pad ’n goed beplande georoete is. Selfs vir die van ons wat geologiese leke is en nog nooit van rotsformasies soos bariet of lapilli gehoor het nie, is dit ’n heerlike insiggewende ontdekkingsreis – soveel inligting is in die 38 km verpak dat jou mond net wil oopval. Die inligtingsborde is deeglik beplan, met goeie grafika wat by elke stilhouplek presies verduidelik wat daar te siene is en hoe dit in die groter prentjie inpas. Die doel van die georoete is om hierdie wêreldbekende geologiese terrein ook te deel met mense sonder enige geologiese opleiding – en dit slaag beslis in sy doel.

Wenke
  • Dit kan jou enigiets van twee uur tot ’n volle dag neem om die Barberton Makhonjwa-geo­roete te ry, afhangend van die grootte van jou piekniekmandjie en jou nuuskierigheid oor al die inligting wat hier aangebied word.
  • Gidse wat dié wêreld ken, stel voor jy ry tot by Josefsdal sonder om êrens stil te hou. Dan draai jy om en neem jou tyd met die terugtog tot in Barberton. Op dié manier sal jy nie tred met tyd verloor nie en uiteindelik by alles kan uitkom.
  • Daar is piekniekplekke by drie van die besoekpunte: Greenstone, Lebombo Makhonjwa View en die Volcanic lapilli-besoekpunt. Die Lebombo-besoekpunt het ook toiletgeriewe.
  • ’n Uitstekende geïllustreerde gids oor die Georoete kan by die inligtingsburo in Barberton gekoop word.
  • Indien jy ’n kundige toergids wil hê wat jou op die toer sal vergesel, skakel Barberton Adventures by 079 180 1488.

Die Barberton Makhonjwa-georoete bestaan uit 11 besigtigingspunte, elk met inligtingsborde en uitmuntende grafika om jou miljoene jare terug te neem. Hier word jy nie net deeglik ingelig oor die geologie van die betrokke gebied nie, maar daar is ook inligting oor die natuurlewe en die geskiedenis en kultuur van die gebied. Sekere van die inligtingsborde is selfs in braille beskikbaar om vir siggestremdes die ervaring besonders te maak.

’n Mens se kop duisel wanneer jy lees dat die Barberton-groensteen, soos wat sekere van die rotse hier bekend staan, byna drie miljard jaar gelede gevorm het. Lees ’n mens meer oor die tydperk waarin dit gevorm is, die Argeïese Eon, sien jy dat dit sowat vier miljard jaar gelede begin het en 2,5 miljard jaar gelede geëindig het. Die Barberton-georoete is juis so uniek omdat die ander plekke op aarde waar rotse uit die Argeïese Eon aangetref word, baie verafgeleë is en net deur ’n handjievol geoloë besoek word. Hier sien jy dit sommer reg langs die pad!

Die Makhonjwa-berge is van die oudste gebergtes in die wêreld.

By die Dycedale Syncline en Biomats-stilhoupunt staan ’n bonkige rots reg langs die pad. Dit is verstommend om te lees dat hierdie spesifieke plek ongeveer 3,23 miljard jaar gelede op die seebodem was. In die groot rots is daar dun swart strepies, niks breër as ’n potloodstrepie nie. Volgens wetenskaplikes is die eerste tekens van primitiewe lewe op die seebodem aangetref en dit staan as mikrobiese saamgepersde lae of biomats bekend. Die biomats is dan ’n ingewikkelde gemeenskap van mikrobes wat in lae georganiseer is. Hierdie biomats was van die eerste ekosisteme op aarde. Hulle kon sonder son en suurstof oorleef. Die swart lyntjies wat op die groot rots sigbaar is, is gefossileerde biomats. Hoe wonderlik om te weet dat jy dit hier op die georoete met die blote oog kan sien. Blykbaar die enigste plek op die hele aarde. Die biomats kan jy andersins bloot net met ’n elektronmikroskoop in ’n laboratorium sien. Die kenners sê die rots propvol biomats-fossiele is so vol data gepak, ’n meestersgraadstudent sal ’n hele verhandeling daaroor kan skryf.

Nog ’n fassinerende besoekpunt is die Tidal Sandstone-stilhouplek. Geoloë, en ook die inligtingsborde, vertel dat die sandsteen wat op hierdie plek aangetref word, ’n bewys is dat die oseaan miljarde jare gelede hier geleë was. Die klip vertel dan die storie van antieke strande en getye wat in- en uitbeweeg het. Die rotse is gevorm toe die maan baie nader aan die aarde was en dit het veroorsaak dat die gety se trekkrag baie sterker was. Dit lê reg langs die grootpad en ’n mens staan verstom as jy besef hoe die geskiedenis in klip verewig is.

Die Tidal/Sandstone-stilhouplek verklap dat hierdie gebied eens op ’n tyd op die seebodem was.

Van die De Kaap Valley View-uitkykpunt het jy op ’n helder dag ’n lieflike uitsig oor die De Kaap-vallei of die Barberton-kom. Op die oorkantste berge sien jy die uitkykpunt by Kaapsehoop met sy hoë toring wat waghou oor die hele vallei. Dit is een van die mooiste stilhouplekke op die roete.

Alhoewel elkeen van die besoekpunte besonders is, is die Makhonjwa/Lebombo View-uitkykpunt regtig uniek. Van daar kan jy op ’n helder dag tot by die Lebomboberge op Mosambiek se grens sien. Jy sien ook van hier die Driekoppiesdam in die verte. Daar is ’n lieflike groot piekniekplek waar jy rustig agteroor kan sit om die skoonheid in te drink. Hier is ook voorbeelde van die rotse wat by die ander belangepunte aangetref word. Dit is dus as’t ware ’n eenstop-besoekpunt wat die hele georoete opsom.

Net voordat jy by die laaste stilhouplek kom, draai die pad na Oshoek en Badplaas regs uit. Die grondpad neem jou in die asemrowende Msauli-vallei in en vorm deel van die groter Genesis-roete (sien kassie). Die dorpie Msauli lê in die vallei en was 20 jaar gelede nog ’n bedrywige myndorp met reuse-jakarandabome, ’n laerskool en ’n swierige ontspanningsklub. Nadat die asbesmyn gesluit is, is al die personeel onttrek en het die geboue agtergebly om stadig weer deur die natuur oorgeneem te word.

Die heel laaste stilhouplek net voor Josefsdal kyk oor die pragtige Msauli-vallei uit. Hierdie punt staan as die Pillow Lavas en Msauli/Bulembo View bekend. Wanneer jy hier staan en kyk na die uitgestrekte vallei wat eindeloos ver in die blou gewelf verdwyn, besef jy opnuut hoe ’n klein spikkel jy in die groter prentjie is.

Die Makhonjwa-bergreeks
Die Barberton Makhonjwa-bergreeks is in Julie 2018 tot ’n Unesco-wêrelderfenisterrein verklaar. Sowat 40% van Barberton se bekende Groensteengordel is geleë in die bergreeks. Hierdie verklaring as wêrelderfenisterrein is danksy die uitstekende voorbeelde van afsettingsgesteentes en vulkaniese rotse wat in hierdie gebied sigbaar is. Die rotse dateer uit ’n tydperk voordat die vastelande nog bestaan het en is 3,6 miljard jaar oud en ouer. Boonop is hier voorbeelde van die wêreld se oudste vorm van lewe – sogenaamde mikrobiese lae wat volgens berekenings 3,1 miljard jaar oud is. Die biomats, soos daar kortweg daarna verwys word, is as fossiele in sekere van die rotse vasgevang en lyk soos dun potloodstrepies. Hierdie hele groot gebied staan met reg as die Genesis of Life bekend.

Meer oor:  Barberton  |  Leefstyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.