Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Verras jouself in KZN

Die Suidkus van KwaZulu-Natal is met goeie rede Suid-Afrika se gunsteling-vakansiebestemming, skryf Terésa Coetzee.

Stywe lyne vroegoggend op Munster.

Daar is soveel redes waarom KwaZulu-Natal ’n gunsteling- vakansiebestemming is: die kilometer op kilometer se swemstrande met louwarm water, die honderde doendinge vir elke smaak en geit, die subtropiese klimaat . . .

Dié provinsie se Suidkus is boonop onlangs deur die webblad Airbnb aangewys as ons land se gewildste vakansieplek. So, daar’s duidelik ook begeerlike vakansieverblyf beskikbaar.

Hier vind ’n mens tipiese vakansiedorpies soos Port Shepstone, Uvongo, Mar­gate, Southbroom en Port Edward waarheen duisende mense jaarliks stroom, veral vir skoolvakansies.

Marina Thorne is een van die plaaslike inwoners van Port Edward wat die Suidkus-paadjies soos die palm van haar hand ken.

Genestel tussen Southbroom en Port Edward is die klein vakansiedorpie Munster, waar ons onlangs gaan kuier het.

Munster is ver genoeg van die gewone geroesemoes in spitstye, maar naby genoeg aan winkels, restaurante en besienswaardighede. Dis ’n hanetreetjie van Glenmore se swemstrand af, waar lewensredders op hul pos is om seker te maak almal is veilig, en haainette vir Jaws weghou.

Munster is naby Port Edward, waar Silwerstrand, KwaZulu-Natal se suidelikste strandoord, ’n gewilde swem- en hengelplek is.

Die Mtamvunarivier is bevaarbaar tot anderkant die brug met die staalboog, wat KwaZulu-Natal met die Oos-Kaap verbind. Die Mtamvuna se monding is glo ideaal vir skibote.

Die uitsig wat ’n mens begroet as jy by die Leopard Rock-restaurant gaan kuier.

Waar om te bly

The Merry Crab-strandoord is een van die besbewaarde geheime van die Suidkus. By dié goedkoop, moderne selfsorgeenhede is selfs viervoetige kinders welkom.

Reeds met jou aankoms help die vriendelike personeellede om jou bagasie na die eenhede te dra. Dit word daagliks gediens en wissel in grootte vir paartjies van twee tot gesinne van ses.

Die oord kan altesaam 28 volwassenes huisves, en ’n totaal van 40 mense as daar kinders by is. Elke eenheid het sy eie braaiplek en daar is ’n gemeenskaplike swembad waar jy kan uitspan, asook ’n groot ontspanningsarea waar almal saam kan kuier en bordspeletjies speel.

Die eenhede is ten volle toegerus met linne en handdoeke, jy moet net jou eie swemhanddoek onthou.

Glenmorestrand is letterlik oorkant die pad, ’n mens moet net so oor die 100 m met ’n paadjie soontoe stap.

Die eienaars, Attie en Pamela Jacobs, verwelkom konferensiegangers en dan maak hulle kos vir die vale.

  • Vir inligting besoek themerrycrab.co.za of bel Pamela Jacobs by 083 267 9055.
Leer ken die omgewing en sy mense op jou bergfiets. Foto: Attie Jacobs

Onthou om jou fiets saam te vat

Daar is soveel wonderlike fietsryroetes aan die Suidkus dat bergfietsryers eenvoudig nie anders kan as om hul fietse saam te vat met vakansie nie.

Die Clearwater Trails is ’n bergfietspark sowat 15 km van Munster af, en die groen roete strek oor sowat 20 km se enkel- en dubbelspoorpaadjies.

Die mooiste deel van die roete is die deel wat verby die Umtamvuna-ravyn loop.

Op ’n mistige oggend lyk dit byna sur­realisties en spookagtig met groen heuwels wat afloop tot onder in die kloof.

Stappers kan van die Clearwater Trails-koffiewinkel 4 km verder na ’n uitkykpunt by die skeurvallei stap. Dis beslis ook die moeite werd.

  • Dit kos R40 per ryer en die roetes is baie duidelik gemerk en maklik om te volg.
Leopard Rock, die baie unieke rots wat oor die Oribi-ravyn hang. Foto’s: Terésa Coetzee

Die Oribi-ravyn-natuurreservaat

Die Oribi-ravyn (oftewel Lake Eland)-natuurreservaat is net so 25 km van die Indiese Oseaan-kuslyn geleë, binneland toe van Port Shepstone se kant af.

Die Umzimkulwanarivier het oor duisende jare heen ’n kloof van 24 km lank, 5 km breed en 300 meter diep uitgekerf. Die dig beboste kloof is omring deur sandsteenkranse. Die beskermde gebied van 1 917 hektaar vorm die Oribi-ravyn-natuurreservaat. Die reservaat strek oor 7 km weerskante van die pad wat in die kloof afdaal.

Daar is ’n klein ruskampie aan die rand van die afgrond. Die reservaat huisves verskeie boksoorte soos bosbokke en blouduikers, asook kameelperde en ape.

Een van die grootste aantrekkingskragte van hierdie reservaat is die 80 m lange hangbrug wat oor die kloof strek, dalk bietjie van ’n uitdaging vir mense wat aan hoogtevrees ly, maar beslis die adrenalien werd. (Die brug kan 70 ton gewig dra, so vrees nie.)

Ons het ons fietse saamgevat na die natuurreservaat en ek en my vriend Attie Jacobs het die 20 km-roete gekies, hoewel ons iewers die pad byster geraak het en eintlik so ’n bietjie verder gery het. (Dit kos R60 per ryer. Daar is enkelspoorpaadjies en gewone grondpad om van te kies.)

Sowat 230 voëlspesies, waaronder die Knysna-houtkapper, word hier aangetref en ses visspesies in die meer is aangeteken.

Hier is ook ’n piekniekarea waar jy vir die dag kan uitspan.

Viervoet-kinders is ook welkom by die Merry Crab-strandoord op Munster.

Leopard Rock

Sowat 26 km van Port Shepstone af en nie baie ver van die Lake Eland-natuurreservaat nie, vind ’n mens die afdraaibordjie vir Leopard Rock, nóg een van die groot verrassings wat KwaZulu-Natal bied.

Op die oog af lyk die restaurant en koffiewinkel maar taamlik gewoon, maar sodra jy op die stoep uitstap en die fabelagtige vallei voor jou sien uitstrek, voel dit of jy ’n ander dimensie of wêreld betree het.

As dit kom by uitsigte, kan die restaurant by Leopard Rock beslis in die ry staan saam met die mooiste in die wêreld.

Terwyl Andriëtte Norman lekker jolig oor die luidspreker sing, kan jy smul aan ’n burger of iets dergeliks.

Daar is ’n aparte uitkykpunt by ’n rots wat oor die kloof hang, dit kos ’n volle R5 om dit te besoek.

Die Wild Coast Sun

Die Wild Coast Sun net buite Port Edward in die Transkei is die poort na die legendariese Wildekus en dit bied uitsigte op ’n ongerepte stuk kuslyn bedek met woude en grasveld.

Toe ons in Munster gekuier het, het twee van die plaaslike inwoners van Port Edward, Marina en Sid Thorne, ons op ’n bergfietsavontuur gevat en hul fietsryspeelplekke vir ons gaan wys. Ons roete het basies by die Wild Coast Sun begin, van waar ons enkelspoorpaadjies na die Umtamvuna-ravyn begin ry het.

Die Wild Coast Sun is bekend vir sy 18-putjie-gholfbaan, maar bied ook hengel- en skiboot-sportsoorte en seilvaarte aan. Van hier af ry jy see se kant toe met ’n sementpaadjie. Naby die see ry jy deur die bome tot by ’n grondpad wat na die ravyn se kant toe loop. Daar is oral enkelspoorpaadjies wat jy kan vat en die wêreld verken. Dis ongelukkig nie gemerk nie.

Ons het die dag altesame sowat 40 km gery van Port Edward af, maar jy kan self besluit hoe ver jy wil ry van die Wild Coast Sun af. Almal daar sal ook vir jou kan sê in watter rigting die ravyn is.

Meer oor:  Kwazulu-Natal  |  Suidkus  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.