Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Visums hier nie nodig

VRAAG:

Moet ek aansoek doen vir ’n visum voordat ek na Brasilië vertrek? Michael van Rooyen, Sunnyside

Om die Donau in Boedapest, Hongarye, te sien, sal jy iewers moet oorklim. Daar is nie direkte vlugte van Suid-Afrika af nie. Foto: Jens Friis

ANTWOORD:

Nee, genadiglik nie as jy beoog om vir 30 dae of korter daar te gaan vakansie hou.

Die meeste Suid-Afrikaners land op die Guarulhos-lughawe in São Paulo en jy sal gevra word of jy ’n geelkoors-inspuiting gehad het. Onthou dat jy ’n bewys hiervan saamneem.

Ook vir Rusland, ook ’n Brics-land, het jy deesdae nie ’n visum nodig nie as jy beoog om vir 90 dae of minder daar te gaan uitspan. As jy van plan is om daar te gaan werk, studeer of sake te doen, moet jy egter steeds ’n visum hê.

Maar in Indië is ons liewe Suid-Afrikaners steeds nie welkom sonder ’n visum nie. Dit kos jou wel net R117, maar aansoek moet jy daarvoor doen.

Die papierwerk daaraan verbonde is feitlik net so omslagtig soos ’n Schengen-aansoek vir Europa. Die grootste verskil is dat jy nie mediese versekering nodig het nie – maar wil ’n mens Indië toe gaan sonder mediese versekering? Dis alombekend dat reisigers dikwels erge diarree daar kry.

Ek moet wel sê dat die agentskap in Johannesburg waar ons aansoek gedoen het vir ons Indiese visum uiters behulpsaam en vriendelik was.

VRAAG:

Is daar direkte vlugte van Suid-Afrika na Hongarye? – Bessie du Preez, Parktown

ANTWOORD:

Nee, ongelukkig nie. Gewoonlik kos ’n kaartjie vanaf Johannesburg na Boedapest om en by R13 000 tot R15 000. Jy kan onder meer via Turkye, Italië, die Midde­-Ooste, Nederland en Frankryk daarheen vlieg.

VRAAG:

Ons is op skool geleer dat “vakansie” beteken dat jy iewers heen reis en gaan uitspan, en “verlof” dat jy by die huis bly, maar nie hoef te gaan werk nie. Dit irriteer my dat mense dit deesdae sommer deurmekaar gebruik! – Iris Britz, Roodepoort

ANTWOORD:

Ja, ’n mens leer baie dinge op skool, nè?! ’n Juffrou van my het ’n kindjie daaraan dood gehad dat ’n mens sê jy gaan “kamp” as jy gaan tent opslaan iewers. Dit moes “kampeer” wees, het sy destyds gemaan, maar deesdae “kamp” almal en is dit heel aanvaarbaar.

Wat ek wel weet, is dat dit ’n seën is om te kan “reis”, maar dat dit dikwels na só ’n uitgebreide tog waarop jy baie beleef het, voel asof jy ’n “vakansie” nodig het, maar dan laat jou “verlof” dit nie toe nie!

VRAAG/OPMERKING:

Ek wil graag van hierdie kolom gebruik maak om ’n pluimpie te gee vir die uitstekende diens wat ek onlangs van die Gautrein ontvang het. Vanaf die lughawe het ek met die afklim by Sandton vergeet om my handtassie saam te vat. Deur sekuriteit het ek onmiddellik per telefoon by ene Heinrich uitgekom wat dit binne minute vir my opgespoor het. Boonop kon Heinrich Afrikaans praat. – Nicolette van der Walt, Engeland

ANTWOORD:

Welgedaan, Gautrein! Vriende uit Parys, Frankryk en Bremen, Duitsland, het ons onlangs besoek en hulle was hoogs beïndruk met ons moltrein wat skoner is as dié in Parys – en met al sy wagte veiliger is as Berlyn s’n.

Meer oor:  Jens Friis  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.