Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Voel heel tuis in diverse Portugal

Dis nader aan die huis as die res van eksieperfeksie Europa, skryf Inge Kühne.

Kleurvolle geboue in die middestad van Lissabon.

Met ons aankoms in Portugal loop ons ons vas in ’n treinstaking.

“No trains running today. Welcome to Portugal,” sê die man op die stasie toe ons navraag doen oor die trein wat veronderstel was om ons die 300 km van Faro, reg suid, tot in Lissabon te bring.

By die terminus spoeg busse die een vrag toeriste ná die ander uit, almal van hulle nes ons met treinkaartjies in die hand wat nou skielik nutteloos is.

Vasco da Gama se graf in Belém.

Ons het pas uit Spanje hier aangekom, maar die meeste van die ander reisigers keer terug van strandvakansies in die Algarve. Op foto’s lyk die Algarve idillies met weggesteekte strande, witgepleisterde vissersdorpies en unieke rotsformasies.

Faro is minder so. Dis nie die soort plek waar ’n mens sal kiés om gestrand te raak nie. Dis valerig, en afgesien van ’n Middeleeuse katedraal, is hier nie veel om te sien nie.

Die gawe mense van Portugal vergoed egter vir die tekortkominge van Faro én van Portugal se nasionale treindiens. Anders as hul bure in Spanje praat feitlik almal hier Engels. En hulle is vriendelik en behulpsaam. Nie lank nie, toe het hulle gereël vir busse om die gestrandes stuk-stuk Lissabon toe te vat.

Ons eet intussen ’n gawe bord Portugese sardyne in ’n restaurant in die ou deel van die dorp, die eerste van vele.

Die Ontdekkersmonument in Belém.

Teen laatmiddag verwelkom die allemintige Christus die Koning-standbeeld in die buitewyke van Lissabon ons met wyd gestrekte arms in die hoofstad. Dis 80 m hoog en geïnspireer deur die Christus die Verlosser-standbeeld in Rio de Janeiro. Die Portugese het dit in 1959 klaar gebou uit dankbaarheid omdat hulle die Tweede Wêreldoorlog vrygespring het (Portugal het neutraal gebly).

Die langste brug in Europa, die 12 km lange Vasco da Gama-brug, vat jou oor die Taag-rivier die stad in. Knyp maar toe jou oë as jy aan hoogtevrees ly.

Jy kan jou verkyk aan die hawe van Cascais.

“Jammer, daar is ’n staking,” sê ’n amptenaar in die kaartjieskantoor op die Sete Rios-stasie in Lissabon. Hy lyk regtig jammer daaroor en hy skryf geduldig vir ons ingewikkelde aanwysings op ’n papiertjie neer om met busse tot by ons blyplek te kom.

Ons verdwaal hopeloos en eindig in ’n taxi saam met die enigste mens in Portugal wat glad nie Engels kan praat nie. Gelukkig praat Google Maps ’n universele taal.

Ons is ná vyf dae terug huis toe sonder dat ons ooit die Portugese vervoerstelsel onder die knie gekry het. Die probleem is dat daar verskillende operateurs is vir verskillende trein- en busdienste en ons kon nooit met sekerheid bepaal watter kaartjie vir watter rymiddel geld nie. Ons het later ’n hele portefeulje van bus- en treinkaartjies gehad. Dan klim jy maar op, wys jou kaartjie en hoop vir die beste.

Gelukkig was die Portugese kondukteur wat ons met die verkeerde kaartjies op sy trein op pad na Cascais betrap het, ’n man van groot geduld en genoeg insig om te sien dat dit net ’n eerlike fout was.

Teëlwerk op ’n gebou in Cascais.

Ons bly ’n paar meter van die Ontdekkers­monument in Belém. Op die plein voor die monument lê ’n indrukwekkende marmermosaïek van ’n wêreldkaart met al die plekke aangedui waar die Portugese seevaarders aangedoen het. Dié mosaïek was ’n geskenk van Suid-Afrika as blyk van waardering dat die Portugese die suidpunt van Afrika “ontdek” het. Ná 1994 is ’n naskrif aangebring om dié stukkie ongemaklike geskiedenis in konteks te stel.

Ons betaal 5 euro elk om met ’n hysbak tot bo-op die 52 m hoë monument te gaan om Suid-Afrika se mosaïek van bo te bekyk. Dit ís indrukwekkend.

Ewe mooi is die uitsig van hier af oor die Taag, die stad en die Jerónimos-klooster oorkant die pad. In die klooster se katedraal lê Da Gama in sy graf.

Die Belém-toring is ’n fort wat in die vroeë 16de eeu gebou is om Lissabon te beskerm. Dit was ook die eerste baken van die stad wat Portugese seevaarders gesien het wanneer hulle van hul verre reise teruggekeer het.

Vir ons as Suid-Afrikaners is daar ’n soort bekendheid aan Portugal. En dit het niks te make met ons gedeelde geskiedenis of die Portugese se geneigdheid om op die ongerieflikste van dae te staak nie.

Die klimaat is matig en die mense onopgesmuk en divers. Dit voel nader aan die huis as die res van eksieperfeksie Europa, kompleet met ouer motors op die paaie en so ’n gevoel dat die verlede ’n bietjie meer roemryk was as die hede.

Van huis gepraat. Cascais is soos Kampsbaai. Mooi mense met mooi lywe wat draf langs die beeldskone kus, of mengeldrankies drink en selfies neem op die promenade, of dwaal deur oulike winkeltjies of kuier in jolige restaurante. Hier wil jy gaan sit en bly sit.

Soos oral in Portugal is Cascais se sypaadjies kunswerke. Op party plekke is die simmetriese patrone amper psigedelies.

Die geboue wat die sypaadjies omsoom, ding mee vir die aandag met hul helderkleurige of geverfde teëltjies, die een mooier as die ander.

As jy fluks is, kan jy sommer van Cascais af stap na Estoril, waar ons vir ’n paar aande gebly het. Die sigbaarste baken hier is die 100 jaar oue Casino Estoril, vandag blykbaar een van die grootste werkende casino’s in Europa. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het spioene, afgesette koninklikes en avontuurlustiges glo hier bymekaar gekom. Die casino was die inspirasie vir Ian Fleming se James Bond-roman en later die fliek, Casino Royale.

Cascais is 30 km van Lissabon, ’n vinnige treinrit van €4,50. As ek weer gaan, sal ek dit my basis maak.

Die marmermosaïek wat Suid-Afrika vir Portugal geskenk het. In die middel, waar die meeste van die mense staan, is ’n wêreldkaart met die plekke aangedui waar Portugese seevaarders aangedoen het.

Daar is gereelde busse vir die rit van 17 km tussen Cascais en Sintra, nog een van Portugal se juwele.

Die patrone op sommige sypaadjies en pleine, soos dié in Cascais, is amper psigedelies.Foto’s: Inge Kühne

Madonna het verlede jaar vir haar ’n villa van R122 miljoen in Sintra se heuwels gekoop en soontoe getrek, volgens haar onder meer om weg te kom van pres. Donald Trump se regering. Dit sal minder as Trump vat om my te oortuig om Sintra toe te trek as ek die geld gehad het.

Dis ’n vakansiedorp aan die voet van die Sintra-berge. Pragtige pastelkleurige villas en paleise is gesaai oor die bebosde heuwels en van feitlik oral in die dorpie het jy ’n pragtige uitsig. Sit gerus ’n dag opsy om tussen die winkeltjies en restaurante in Sintra se smal stegies te drentel.

Ons het Sintra te voet aangedurf. Jy moet sterk bene hê vir daardie heuwels, maar dis die moeite werd.

As jy nie sterk voel nie, of as jy die einde van jou krag bereik, is daar baie opsies, van op-en-afklim-toerbusse wat in ’n sirkelroete tussen die besienswaardighede ry tot tuk-tuk-taxi’s.

Meer oor:  Portugal  |  Toerisme  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.