Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Voel tuis in ‘bekende’ Djakarta . . .

Moenie Indonesië se hoofstad, Jakarta, misloop as jy vakansie in Bali gaan hou nie, skryf Sam J. Basch.

Die veelkleurigheid van die ou Djakarta. Dit lyk of die kulkunstenaar heel regs sonder enige ondersteuning kruisbeen in die lug bly hang. Foto’s: Sam J. Basch

Djakarta tel beswaarlik onder die wêreld se mooi stede. Daarvoor moet jy San Francisco, Sydney of Venesië toe. Maar as jy regstreeks Bali toe vlieg sonder om eers in Djakarta rond te kyk, is jy nes daardie buitelanders wat deesdae reguit Kaapstad toe vlieg sonder om te kyk wat Johannesburg bied.

Verberg in dié hoofstad se binneste ontdek jy iets van die eksotiese, van ou seevaarders en die Speseryeilande – en ’n eeue oue verbintenis met die Kaap.

In die 17de eeu was Djakarta, toe nog Batavia genoem, die hoofsetel van die Nederlandse Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) se hoogs winsgewende speseryhandel. Vandag is dit ’n uitdyende metropolis van spieëlglastorings en snelweë tussen terracotta-gehuggies, Oosterse beleefdheid en tropiese wanorde.

Indonesië bestaan uit tienduisende eilande wat soos ’n string pêrels onderom Singapoer en Borneo lê. Djakarta nestel op die noordekant van die Java-eiland. Bali is verder oos.

Dit is asof die inwoners, klein van statuur, ongeërg leef met die aardkors onder hulle wat kantel en kook. Dis eintlik ’n gevaarlike plek: In Desember verlede jaar is meer as 400 mense dood weens ’n tsoenami toe ’n vulkaan in die Sunda-seestraat tussen Java en Sumatra uitgebars het. In dieselfde seestraat het die vulkaan Krakatoa in 1883 titanies ontplof met ’n knal wat 3 500 km ver gehoor is.

Aardbewings wat die skaal tot verby die gevaarlike 6-merk stoot, gebeur byna jaarliks hier.

Hieraan steur toeriste hulle egter weinig. Smiddae by die hotel groet die deurwag met ’n hoflike buiging, handpalms teen mekaar. As jy dan sê “terima kasih” (dankie), skep jy dadelik toegeneentheid. Laatmiddag koel jy langs die swembad af met ’n yskoue Bintang-bier, want op die ewenaar bly dit deurentyd bedompig.

As vreemdeling trek jy aandag. Veral jong mense knoop graag ’n gesprek aan, al is dit net om te hoor van waar jy kom. My antwoord, “Afrika Selatan” (Suid-Afrika), laat hulle verbaas giggel. Dan moet ek staan vir ’n selfie.

’n Taamlik oordadig versierde Oosterse restaurant met ’n spyskaart wat Nederlandse geregte insluit.
Eet hoendersosaties met ’n grondboontjiebotter- of rissiesousie by straatkafees.

Voel dadelik tuis

Dis opvallend hoeveel woorde in die taal Bahasa Indonesia ’n weerklank in Afrikaans het, soos “pisang”, maar ook “pondok” (kothuis) en selfs “kampung” (woonbuurt of dorpie). “Polisi” en “apotek” is herkenbaar, poskantoor word “kantor pos” geskryf. Loop jy per abuis deur iemand se sypaadjie-kombuis, sê beleefd: “Permisi”.

Spyskaarte bied Westerse geregte naas Oosterse disse, maar wat sommige Djakarta-restaurante anders maak, is die Nederlandse invloed. Ons lees met gemak “frikadel van grote garnalen” of “bitterballetjes” (aartappel-krokette met gespeseryde vleis en gekapte sprietuie). Vir ’n hoofgereg kies ons ’n Indonesiese gereg, “kerri van kip”, Javaanse hoenderkerrie, berei deur die Nyonya Baba – mense van Chinese oorsprong gebore op die Suidsee-eilande.

En nagereg is “pisang goreng” (gebraaide piesang), “klappertart”, “oliebollen” of “appelflappen” (pannekoek).

Eintlik eet jy heerlik en goedkoop op straat. Die kos is vars gemaak, bykans altyd gestoomde rys of eiernoedels met vleis of groente, en gevulde deegpoffertjies.

My gunsteling is hoendersosaties (“sate ayam” – uitgespreek “satei”) gebraai op ’n roostertjie en bedien met ’n grondboontjiebottersous.

Ook wanneer jy ’n e-treinkaartjie koop – en iemand jou terstond kom help – wys die woord “batal” op die skermpie: betaal. Bygesê, die aanwysings kan in verskeie tale gekies word.

Die vervoerstelsel is netjies. Benewens treine, is daar ’n uitstekende busdiens, en taxi’s en ’n “bajaj”, ’n driewiel-bromponie, is nooit ver nie. Met dié bestuurders moet jy eers onderhandel voordat jy inklim. Hierdie fout het my seker vierdubbel die normale tarief gekos. Nes tuis kan jy egter ook apps aflaai om ’n motorfiets-taxi te roep. In Djakarta se chaotiese verkeer vleg hulle sonder weifeling – of botsing – tussen die motors deur, soos dartelende visse.

Om te stap, is beswaarlik ’n opsie. Ek het blokke ver geloop om ’n straat te probeer oorsteek, maar die verkeer maak dit haas onmoontlik.

Die ingang na Passer Baroe (“Nieuwe Markt”) by ’n geskiedkundige brug oor die Ciliwung-rivier.
Die VOC se “Raad van Justitie” het hier vergader. Op die boekrak se hoeke staan die beelde Justisie en Waarheid.

Nederland van die Ooste

Ná die lewensbedreigende pad-oorstekery, bevind ek my toe eindelik op Fatahillah-plein, die kern van ou Batavia, genoem Koningin van die Ooste.

Op skool het ons geleer die VOC het in 1652 ’n halfwegstasie aan die suidpunt van Afrika gevestig. Dit was om sy skepe op hul lang seereis tussen Amsterdam en Batavia van vars voorrade te voorsien – as ’t ware ’n “padstal” vir skepe.

Speserye was die groot dryfveer vir seevaarders om die onbekende in te vaar, vertel John Keay in sy boek The Spice Route. Eeue lank reeds word speserye in kos, drank en medisyne gebruik sonder dat ’n mens werklik besef waarvandaan dit kom.

Die ontdekking dat naeltjies, kaneel en peper op ’n klompie vulkaniese eilande in die mistieke tropiese Ooste groei, het ’n koorsagtige wedloop ontketen. Veral Myristica fragans (neutmuskaat) op die verre Banda-eilande was gesog; winste van tienduisende persent is in Amsterdam gemaak.

Vandat Vasco da Gama die roete om die Kaap na Indië in 1499 “ontdek” het, was veral Portugal, Engeland en Nederland deurentyd in ’n stryd gewikkel om dié waardevolle speserye te bekom. Die inheemse bevolking is bruut geskaad: hul leiers verban of tereggestel, bloed vergiet, en duisende as slawe weggevoer.

Loop jy vandag in Djakarta, sien jy óns mense; dieselfde mense wat jy in die Bo-Kaap sien. Hul voorsate is van Indonesië en omstreke na die Kaap gebring, dikwels onder dwang. Hulle het ’n ryk kultuurbydrae gemaak: geurige kookkuns, taal, kleredrag, geestelike toewyding.

In Djakarta se ou stadshuis, vandag die geskiedenismuseum, sien ek die “gantang”-maatemmer waarmee rys afgemeet is. “Gantang” het in die Kaap gesinspeel op ’n beminde; soos Sonja Herholdt in die gewilde Jantjie van Anton Goosen sing: “Met ghantang van die Onder-Kaap”.

Die museum op Fatahillah-plein beeld veral Djakarta se omvangryke – dikwels gewelddadige – geskiedenis uit. Daar is ou wapentuig, soos die Portugese Si Jagur-kanon en selfs klipwerktuie uit die prehistoriese era.

’n Houtplaat met die datums toe die stadshuis gebou is. Regs is skilderye van die betrokke goewerneurs-generaal: Johan van Hoorn en Abraham van Riebeeck.

Jan van Riebeeck se seun

Hoewel Indonesië sedert onafhanklikwording in 1949 in vertwyfeling was oor ’n verhouding met die koloniale Nederland, word die VOC-tydperk goed uitgebeeld in skilderye, artefakte en veral oordadige meubels. Al die byskrifte is in Engels en Bahasa Indonesia. ’n Houtpaneel in die voorportaal dui aan dat goewerneur-generaal Abraham van Riebeeck die stadshuis in 1710 amptelik geopen het. Hy was die seun van Jan van Riebeeck – einste hy van die 1652-verversingspos. (Jan is op 18 Januarie 1677 in Batavia oorlede).

Naby die stadshuis was ’n fort, soortgelyk aan die kasteel in Kaapstad, wat Batavia moes beskerm. Dit bestaan nie meer nie, maar langs die ou Sunda Kelapa-hawe met sy indrukwekkende Bugis Pinisi-skoeners (tradisionele bote van Makassar) is die maritieme museum in die ou “graanpakhuizen”. Gaan eet in die VOC-restaurant en bekyk ou Batavia vanuit die wagtoring op ’n deel van die stadsmuur wat nog staan.

Hierdie deel van Batavia is mettertyd vanweë malaria deur die hoë VOC-amptenare vermy, wat hulle verder suid gaan vestig het in woongebiede soos Rijswijk, Harmonie en Weltevrede. “Weltevrede” verwoord nogal my belewenis van Djakarta – die Batavia van ouds. Terima kasih!

Weet vóór jy gaan

Suid-Afrikaners kry ’n visum by aankoms in Djakarta – gratis vir toeriste; sakelui betaal $35.

  • ’n Moderne sneltrein vanaf die Hatta Soekarno-lughawe na die middestad bespaar jou baie reistyd.
  • R1 koop ongeveer 1 000 Indonesiese roepia (Rp). Hou kleingeld (Rp2 000- of Rp5 000-note) byderhand vir taxi’s of straatkafees wat weier om groot note te aanvaar.
  • ’n Bottel wyn in restaurante is duur: tussen Rp750 000 en Rp1,2 miljoen (ja, R1 200). Eet liewer by bekostigbare straatkafees: hoendersosaties met vars vrugtesap kos Rp55 700 (R55).

Meer oor:  Bali  |  Jakarta  |  Indonesië  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.