Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Volop wild te sien in Erindi, maar jy slaap luuks

Erindi - ’n skatkis vol wild, voëls en flora - is beslis ’n plek wat jy móét besoek op jou avontuurreis in Namibië. Danielle Daniëls vertel oor die wonders wat op een van die grootste wildreservate in Afrika wegkruip.

’n Olifant met slegs een tand wei in die veld op ons safari-roete. Foto: Danielle Daniëls

Wanneer jy van jou twee-uur-lange vlug van Kaapstad- na Hosea Kutako-lughawe uit die vliegtuig klim, tref Windhoek se warm weer jou reg van voor. Dis hier waar die vriendelike Gotthard Mogotsi, Erindi- private natuurreservaat se drywer, vir my wag. Eers stop ons in Klein-Windhoek om twee ou bekendes in Namibië se politieke kringe, Dirk Mudge en Stienie de Beer, op te tel.

Nou is dit al die pad Erindi toe, ongeveer 178 km van Windhoek af. Dis net ons vier in die 4x4 Toyota Prado en ons gesels ’n hond uit ’n bos oor die geskiedenis en huidige ekonomiese situasie in Namibië en Suid-Afrika, asook oor Erindi en sy geskiedenis. Die lekker gesels bring ons gou by die afdraai na Erindi, maar dit is nog sowat 40 km se ry op die teerpad voordat ons die grondpad vat na die natuurreservaat.

Die rooibekfisante hardloop sommer so vrylik oor die grasperke by die Old Traders Logde. Foto: Danielle Daniëls

Ek verlustig my in die natuur en die koppies van die Khomas-berge voor my, wat my onmiddellik laat vergeet dat ons al ’n hele ruk lank op ’n grondpad ry, met klippies wat teen die onderkant van die voertuig spat.

Van die oomblik wat ons by Erindi se hekke aankom, kom daar ’n kalmte oor my wat my onmiddellik van alles en almal laat vergeet.

Soos ons aangery kom, is dit die selfsorghuise en kampeerplekke van Camp Elephant wat ons eerste verwelkom vir ’n vinnige stop.

Dis te warm om enigiets te doen! ’n Groot trop wyfieleeus lê rustig onder ’n boom. Foto: Danielle Daniëls

Ons ry verder tot by die Old Traders Lodge, waar ek die res van die dag sal deurbring en oornag.

Met my aankoms is ek reguit ontvangs toe, waar die ontvangspersoneel my vriendelik ontvang voordat die portier my bagasie na my suite neem. Op pad soontoe is ek verwonderd oor die pragtige groen tuine, die voëltjies se getjirp en daardie vars reuk van die natuur wat my omvou.

My suite is ’n luukse ruim vertrek toegerus met ’n gerieflike badkamer, platskermtelevisie, kroegyskas en koffie- en teegeriewe. Nog ’n bonus is die patio wat uitkyk op die watergat met krokodille en seekoeie wat in die water dryf.

Nadat ek uitgepak het, vind ek my weg na die restaurant, betyds vir koek, koffie en tee – Erindi is blykbaar bekend vir hierdie middagbederfie – voordat ek by die middagsafari aansluit.

Ek bevind my uiteindelik op die 4x4-voertuig om die safari mee te maak. Op die roete vertel kundige toergids, Strydom Milo, ons van die diere. Links van hom sit ’n opregte Boesman geklee in Boesmanklere, wat my laat wonder hoekom hy saamry. Die eerste dier wat ons teëkom, is ’n groot olifant wat in die veld wei. Hier vertoef ons vir ’n ruk om die groot dier te aanskou voor ons aanbeweeg. Almal in die voertuig is nuuskierig om te sien wat agter elke bossie skuil.

By Erindi is krokodille volop langs die watergat. Jy kan hulle bekyk uit die gemak van jou stoel op die restaurant se houtdek. Foto: Danielle Daniëls

Die volgende oomblik sien ons ’n paar steenbokke. Strydom stop en die Boesman spring uit en trek los in Nama. By hom is ’n koker vir sy pyl en boog, en aan sy handgebare kom ek agter hy praat van die steenbok se ­
bene. Nadat hy sy stuk in sy moedertaal verduidelik het, vertel Strydom aan ons dat die Boesmans die pyl en boog gebruik om steenbokke mee te jag. Hulle gebruik die vel, veral van die agterbene, om hul kokers mee te maak.

Verder op die roete sien ons nog interessante wild soos leeuwyfies, ’n ietermagog, impalas, blouwildebeeste, ’n likkewaan, hamerkopvoël, kameelperde en volstruise.

Na die safari trek Strydom af vir ’n heerlike piekniek met peuselhappies, drankies en die mooiste sonsondergang, voordat ons weer stadig terugry lodge toe, net betyds vir die buffet-aandete in die restaurant.

Na die dag se avonture is ek pootuit, en keer tevrede terug na my suite, want môre moet ek weer vroeg opstaan vir die pad terug Windhoek toe.

Een dag en een nag is te min om alles te geniet wat Erindi bied. Hierdie plek sien my dus beslis weer!

By Erindi Privaat Natuurreservaat kan jy op ’n wildrit die kameelperde al van ver af sien. Foto: ibay
’n Trop impalas wat rustig in die veld staan. Foto: ibay
By Erindi kan jy ook wild soos blouwildebeeste, Afrikaanse wildehonde, jagluiperde, eland en veel meer sien. Foto: Brent Risley

Meer oor:  Namibië  |  Reis  |  Wild
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.