Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
‘Vrystaat-pêrel’ ’n stukkie paradys

Parys staan bekend as “die pêrel van die Vrystaat” en met goeie rede.

Die natuurskoon en pragtige historiese geboue maak van dié dorp juis ’n gunsteling onder sy inwoners en besoekers.

Die Werner Dey-gebou op die hoek van Kerk- en Kruisstraat.

Parys is ook die tuiste van een van die land se oudste sportklerefabrieke, wat in 1982 gevestig is. Die eerste erwe is reeds in 1876 in die dorp verkoop.

“Hier is ’n paar baie mooi geboue en ou kerke soos die Nederduitse Gereformeerde Moederkerk, met die hoeksteendatum van 14 Januarie 1899, in Heferstraat. Die Baptistekerk (1936) en die Metodistekerk (1914) is albei in Kerkstraat, met die Anglikaanse kerk (1915) in Dolfstraat, om ’n paar te noem,” sê Anna-Marie Ferreira, ’n toergids in Parys.

Sy sê Parys het die grootste onderdak-arena in die Suidelike Halfrond, die Afridome, in Allenbystraat. Hier word kunsry-byeenkomste, lewendehawe-skoue en veilings gehou.

“Die groot Alfa-skou vir alles en nog meer vir veeboere word ook hier gehou. Die Afridome het 454 perdestalle, konferensiegeriewe, ’n kapel, woonwastaanplek, gastekamers, restaurant, kroeg en ’n boma-braai,” sê sy.

Die dorp spog ook met twee gholfbane – die Parys-gholfbaan aan Sasolburg se kant en die bekende Vaal de Grace-gholfbaan, wat deur Nick Price ontwerp is, op pad na Vredefort.

Danksy Pierre Fourie se toewyding om jong mense fiks te kry word die Fezile Dabi-landloopkampioenskap nou net buite Parys aangebied, wat ’n eerste vir Parys en plaaslike landloop is.

Parys het ook heelwat aftree-oorde – die Amot-afreeoord, Najaarsrus, Sally Martin Park en die Sonskyn-aftreeoord.

Pragtige argitektuur is ’n kenmerk van Parys. Foto’s: Anna-Marie Ferreira

Parys spog ook van 2011 met sy eie Kultuurkamer. Dit is ’n private biblioteek waar enige lid van die publiek kan aansluit en wat toegang verleen tot ongeveer 7 000 boeke van die gewildste skrywers in Afrikaans en Engels.

“Parys spog ook met die pragtige Koedoeslaagte Trail Park, ’n sportpark 12 km buite die dorp in ’n natuurreservaat. Dit grens aan die Vaal­rivier en strek tot diep in die Vredefort-krater se berge. Daar is min plekke waar ’n mens so kan voetslaan, bergfiets ry, bosdraf, wandel, voëlkyk, foto’s neem, sterre kyk, kano en kajak kan ry, swem en kuier saam met jou gesin en vriende,” sê Ferreira.

Die Hartelus-mark is ’n guns­teling onder inwoners en word die eerste Saterdag van die maand by Egweni, op die oewer van die Vaalrivier, gehou.

“Die ou begraafplaas aan Vredefort se kant in Breëstraat dateer van 1900 en word op die oomblik deur inwoners skoongemaak.

“Ongelukkig het ons net soos baie ander kleiner dorpe uitdagings met water, slaggate en dienslewering. Maar dis steeds lekker om hier in Parys te woon,” sê Ferreira.

“Die skoon blou lug bokant ons en die rivier wat stapafstand is van die meeste se huise is alles dinge wat Parys uniek maak.

“Hier kan ons nog veilig rondstap, fietsry, draf of gaan visvang. En soms hoor jy ook die visarend roep.

“Jy kan jou lyf nog steeds toeris hou en een van die vele avonture beleef wat Parys jou bied,” sê Ferreira.

Meer oor:  Parys  |  Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.