Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Waar Hemingway gedrink het

Die Amerikaanse skrywer Ernest Hemingway was lief vir ’n sopie of drie en daar is talle kroeë wêreldwyd waar jy op dieselfde plek as hierdie legende ’n glasie kan klink, skryf Ilse Zietsman.

Ernest Hemingway (regs) kuier saam met die Britse akteur Noël Coward by die Sloppy Joe’s Bar in Havana, Kuba. Foto: Getty Images

Dis welbekend dat die Amerikaanse roman- en kortverhaalskrywer, Ernest Hemingway (1899-1961), ’n drinkebroer was.

Ook dat daar oor die wêreld heen kroeë voorkom waar hy glo uitgehang het of wat na hom vernoem is.

Ten minste was Hemingway nie nét lief vir drink nie. Hy is meer bekend vir sy Pulitzerprys in 1953 vir sy boek The Old Man and the Sea, asook die Nobelprys vir letterkunde wat hy in 1954 ontvang het.

Hemingway sou dit sweerlik amusant vind – of dalk verontwaardig snork, soos sy gewoonte blykbaar was – as hy agterkom dat die Nederlanders ’n drinkebroer definieer as iemand wat graag “meerdere glaasjes bier of ander alcoholische drank consumeert en daarna vaak dronken is”. Of as hy hoor dat die Hollanders ’n drinkebroer ook ’n “nathals, proppenschieter, slampamper, kannenkijker of bierlippe” noem.

Waar jou reise jou ook al neem, jy gaan kort voor lank heel moontlik op ’n kroeg of kuierplek afkom wat aan Hemingway gekoppel word. As jy begin google, kom jy gou agter dat daar talle lyste op verskillende webwerwe bestaan wat sy sogenaamde gunsteling-kroeë lys. Al wat dit egter beteken, is dat die lys drinkplekke waarvoor Hemingway ’n voorliefde gehad het, langer en langer word; ooreenstemmigheid word nie bereik nie.

By La Bodeguita del Medio in Kuba het Hemingway graag mojito’s gedrink.Foto: Getty Images

Kerjakker in Havana, Kuba

Ernest Hemingway het sowat 20 jaar – vanaf 1939 tot 1960 – net buite Havana in Kuba gewoon. Sy twee gunsteling-uithangplekke in Havana was El Floridita (www.lahabana.com/guide/el-floridita/) en La Bodeguita del Medio (www.lahabana.com/guide/la-bodeguita-del-medio/).

Volgens oorlewering het Hemingway eendag toevallig by El Floridita ingestap. Hy het opgemerk dat almal dieselfde drankie drink. Hy het een bestel, geproe en toe gevra of hy ene met minder suiker en meer rum kon kry. Só het die Papa Doble-mengeldrankie, of Hemingway-daiquiri, ontstaan.

By La Bodeguita del Medio het Hemingway verkies om mojito, ’n mengeldrankie met rum, kruisementblare en lemmetjiesap, te drink. Teen die muur van die kroeg kan jy ’n aanhaling van Hemingway lees: “My mojito in La Bodeguita del Medio en my daiquiri in El Floridita.”

Hemingway het ook graag by die kroeg in die Ritz Paris Hotel gekuier. Die kroeg is nou na hom vernoem. Foto: ritzparis.com

Pret in Parys, Frankryk

Hemingway, wat vier keer getroud was, en sy eerste vrou, Hadley, het in 1921 vir die eerste keer na Parys verhuis.

Die Ritz Paris Hotel se kroeg heet steeds Bar Hemingway (www.ritzparis.com/en-GB/fine-dining-paris/bar-hemingway).

Hemingway is weer in die Tweede Wêreldoorlog terug na die Franse hoofstad as lid van die Amerikaanse weermag. Daar word vertel dat Hemingway, nadat Frank­ryk van die Duitse besetting bevry is, op een slag 51 martini-drankies in die einste kroeg bestel het.

Benewens in die Ritz Hotel het Hemingway onder meer ook in die Lutetia Hotel (www.hotellutetia.com) en die Brasserie Lipp (www.brasserielipp.fr) uitgehang.

Die Ritz Hotel word in sy boek The Sun Also Rises beskryf.

In sy kortverhaal Across the River and Into the Trees verwys Ernest Hemingway na Harry’s Bar in Venesië, Italië. Foto: Marco Secchi/Getty Images

Hang uit by Harry’s Bar, Venesië, Italië

In die winter van 1949 het Hemingway in Venesië vertoef. Harry’s Bar (www.cipriani.com) is in 1931 deur Giuseppe Cipriani geopen. Tydens sy verblyf in dié Italiaanse stad het Hemingway ’n kortverhaal, “Across the River and Into the Trees”, neergepen waarin hy na Harry’s Bar verwys.

Hy het sy eie tafel in Harry’s Bar gehad waar hy gereeld saam met Cipriani drankies weggeslaan het. Cipriani het vertel dat Hemingway hom as uiters vrygewig opgeval het.

Ontmoetings in Madrid, Spanje

Volgens Hemingway kon min stede by Madrid kers vashou. Vir hom was Casa Botín (www.botin.es/en/home/) in die hoofstad van Spanje die beste restaurant in die wêreld. Hier eet jy tot vandag toe een van hul spesialiteitsgeregte, geroosterde speenvarkie, soos wat net die Spanjaarde dit kan voorberei.

As Hemingway nie in Casa Botín uitgerafel het nie, het hy glo by Cerveceria Alemana (www.cerveceriaalemana.com/main/) bier gedrink.

’n Bronsbeeld van Ernest Hemingway leun oor die toonbank van die El Floridita-kroeg in Havana, Kuba.Foto: Getty Images

Rus in Pamplona, Spanje.

Hemingway het twee redes aangevoer waarom hy daarvan gehou het om Pamplona te besoek: die jaarlikse bulstormloop en Café Iruña (www.cafeiruna.com) op die Plaza del Castillo.

Die stadsvaders van Pamplona het selfs ná sy dood ’n standbeeld van Hemingway opgerig en ’n straat na hom vernoem.

Café Iruña lyk blykbaar nie veel anders as wat Hemingway dit in The Sun Also Rises beskryf het nie.

Dís ook waarom baie mense nog steeds hiernatoe swerm, soos ek my ook voorneem om te doen, sou ek ooit Pamplona besoek.

Kuier in Key West, Florida

Ernest Hemingway het spottenderwys na homself as die mede-eienaar van Sloppy Joe’s (www.sloppyjoes.com) in Key West, Florida, verwys.

Sommige reken hy het tweederdes van sy gepubliseerde werk tydens sy verblyf in Florida, tot in 1939, geskryf.

Dit was ook Hemingway wat die eienaar aangemoedig het om sy restaurant te vernoem na Sloppy Joe’s, nóg een van sy gunsteling-uithangplekke in Havana.

Ná Hemingway se dood het sy weduwee van sy besittings aan Sloppy Joe’s geskenk; dit word tot vandag toe nog in die kroeg uitgestal.

Jaarliks in Julie word Hemingway Days (www.fla-keys.com/hemingway-days/) by Sloppy Joe’s en in die res van Key West gevier. Gryskopmans trek soos Hemingway aan en neem aan armstoei deel; daar is poësie- en kortverhaalvoorlesings en ’n straatkermis.

Foto’s teen die muur van Hemingway-kroeg in Budva, Montenegro getuig van Ernest Hemingway se lewenslus en liefde vir kuier.Foto: Ilse Zietsman
In Budva, Montenegro, is ’n kroegrestaurant na Hemingway vernoem. Foto: Ilse Zietsman

Hemingway inspireer tot in Montenegro

Dis nie net die kantiens waar Ernest Hemingway eens uitgehang het wat na hom vernoem word nie. Sy naam – en reputasie – lei daartoe dat hy regdeur die wêreld in kroegname vereer word.

Die Caffe Bar Hemingway (www.majestichotel.me/caffe-bar-hemingway/) op die promenade van Budva, Montenegro, het eers in 2005 sy deure oopgemaak. Swart-en-wit foto’s van Hemingway, en ’n gedroogde visstert of twee, pryk teen die mure.

Die ou Hemingway Bar in Dubrovnik, Kroasië, het weliswaar ’n naamsverandering na NoneNina Café ondergaan, maar die Kroasiërs verwys steeds daarna as Hemingway se kroeg.

Hemingway het ook in Afrika kom jag en onder meer ’n leeu platgetrek. Hy het glo by The Norfolk Hotel in Nairobi, Kenia, tuisgegaan, maar ek twyfel of dit vandag nog op peil sou wees vir hom om te besoek.

Meer oor:  Drink  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.