Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Waar koningin van Skeba was

Ethiopië is ’n land vol kleur en kontras, met ’n ryk geskiedenis.

Die Blou Nylwaterval was in ’n stadium baie breër as 400 m. Dit word nou gebruik vir die opwekking van hidro-elektrisiteit, maar is egter steeds ’n skouspel. Vanaf die hoofpad is dit ’n stywe stappie van sowat ’n halfuur na die waterval. Foto: Elise Tempelhoff

Twee woorde wat jy beslis onder die knie moet kry wanneer jy Ethiopië besoek, is “ameseginalehu”, en “selam” die Amharies vir “dankie” en “vrede”.

Gelukkig het ons een reisgenoot en vriendin, Carlien Retief, die vermoë om assosiasies te skep en kon ons ná ’n paar dae van (baie) oefen, “dankie” in Amharies sê. “Selam” was darem maklik om te onthou en dit word gebruik wanneer mense mekaar groet.

Menige Ethiopiër het lekker gelag as ons “ameseginalehu” reg kon uitspreek.

Nie een van ons het regtig geweet wat op ons wag toe ons in Oktober in Addis Abeba aankom nie, maar ons het gou agtergekom Ethiopië is nie net ’n land met buitengewone natuurskoon nie, maar het ook ’n ryk geskiedenis. Geen wonder die Ethio­piërs maak daarop aanspraak dat die eerste mense van Ethiopiese afkoms is nie, én dat ons eintlik almal familie van mekaar is.

Dit is ’n land vol verrassings en kontraste. Dit is ook ’n land met romantiese verhale soos dié van die koningin van Skeba wat glo in die antieke stad Aksoem (Axum) gewoon het. Sy het volgens oorlewering ’n liefdeskind, koning Menelik, by koning Salomo gehad. Hul kortstondige liefdesverhouding (dit het glo net ses maande geduur) het Salomo geïnspireer om die erotiese liefdesgedigte te skryf wat in Hooglied opgeteken is. Aksoem is die skoonste en netjiesste stad wat ons in Ethiopië teëgekom het.

Twee geestelikes sit op die trappies van die Bet Gijorgis-kerk (St. George) wat uit pienk vulkaniese rots gekap is.Foto: ELISE TEMPELHOFF
Só lyk die dak van die Bet Gijorgis (St. George) Christelik Ortodokse Kerk in Lalibela. Dié gebou se dak is gelyk met die rots waaruit dit gekap is en staan sowat 10 m diep.Foto: JOHANN TEMPELHOFF
Afbeeldings van die muurskilderye in die Christelike kerke in Ethiopië. Al die Christene het groot swart oë. Foto: JOHANN TEMPELHOFF

Natuurskoon en kultuurskatte

Op dag een van ons reis het ons ’n dagtoer deur Addis Abeba geneem. Die volgende dag het ons gids, Haile’AB Sejoem, ons na Bahir Dar in die noordweste van Ethiopië vergesel. Die vlug na Bahir Dar het sowat ’n uur geduur. Vanuit die lug – gelukkig het ek ’n sitplek by die venster gehad – was die gesig byna onbeskryflik: bergreeks op bergreeks, met reuse-klowe, kronkelende riviere en mere.

Die geografie van Ethiopië bring ’n mens onder die indruk waarom vyande (uit die verre verlede) veral vanuit die Midde-Ooste so gesukkel het om die land binne te val.

Bahir Dar (soms ook gespel Bahar Dar) is geleë aan die oewer van die Tana-meer, die grootste meer in Ethiopië. Dit is ook die bron van die Blou Nylrivier. Na ’n rit van sowat 45 minute op die Tana-meer het ons by die Zeghe-skiereiland afgeklim en die Oera Kidane Mehret Christelik Ortodokse kerk besoek. Die muurskilderye in hierdie kerk is van die mooiste en kleurvolste in Ethiopië. Die Christene word almal met groot donker oë uitgebeeld.

Die ongelowiges se oë is óf toe óf hulle het geen oë nie.

In hierdie kerk het ons ook vir die eerste keer kennis gemaak met die oeroue taal Geez, waarin die eerste Ethiopiese Bybels geskryf is. Die Ethiopiërs vertel Amharies het uit Geez ontstaan.

Van hier af is ons na die Blou Nylwaterval. Die waterval is 400 m breed en die water val 45 m na onder. Dit is plaaslik bekend as Tis Islat (“water wat soos donderweer klink”).

Van waar die Blou Nylrivier uit die Tana-meer kronkel, het ons op die derde dag van ons reis eeue teruggeloop in die geskiedenis en die historiese roete vanaf Gondar na Aksoem en Lalibela geneem.

Gondar word bestempel as die Camelot van Afrika en was van 1632 tot 1855 die hoofstad van Ethiopië. Oorblyfsels van ou paleise, ’n fort, ’n biblioteek, selfs ’n arena wat ’n mens nogal aan die Colosseum in Rome herinner, is ál wat van dié eens glorieryke stad oorgebly het. Die ruïnes van hierdie strukture is destyds deur ’n muur omring. Dié is stuk-stuk afgebreek toe Soedannese die stad in die 1880’s binnegeval en geplunder het. Gondar het in 1979 wêrelderfenisstatus van Unesco ontvang.

Kinders in Lalibela lees uit ’n Bybel wat in Geez geskryf is, terwyl hul onderwyser die woorde op ’n bokvel neerskryf. Foto: Johann Tempelhoff
Die ingang na die kasteel van Koning Fasilides in Gondar. Hy was die heerser in Ethiopië vanaf 1632 tot 1667.Foto: Elise Tempelhoff
Hierdie is die ruïnes van die paleis in Aksoem waarin die Koningin van Skeba glo gewoon het. Die geskiedenis van dié antieke stad was volgens oorleweringe sedert 4370 v.C. die hoofsetel van Ethiopië se konings en vorstelikes. Foto: Johann Tempelhoff

Die magiese Lalibela

Ons vier reisgenote was dit op dag sewe eens: die hoogtepunt van ons besoek aan die noorde van Ethiopië was Lalibela, nie-amptelik bekend as die Agtste Wonder van die Wêreld. Dié “stad” dateer uit die Middeleeue en word deur meer as 60 miljoen toegewyde Christene in Ethiopië as ’n heilige plek beskou. Die 13 kerke, wat uit sagte rooi vulkaniese rots gekap en met ondergrondse tonnels aan mekaar verbind is, hoort op elke toeris se reisplan.

Een van hierdie besonderse kerke, St. George (of Bet Gijorgis), is in die vorm van ’n kruis uit die rots gekap en is sowat 10 meter diep. Die dak van die kerk is gelyk met die oppervlak van die rots waaruit dit gekap is. Rondom die kerk is ’n binnehof met katakombes (grafkelders) daaruit gekap (gekerf). In een van die katakombes lê (sommer oop en bloot) die gebalsemde lyke van drie Ortodokse Christene wat sowat 600 n.C. voor Moslems uit Egipte na Ethiopië gevlug het, in Lalibela dood is en toe hier ter ruste gelê is.

Oral in Lalibela is argeologiese opgrawings nog aan die gang.

Lalibela is sedert 1978 op Unesco se lys van kulturele wêrelderfenisgebiede.

Meer oor:  Elise Tempelhoff  |  Ethiopië  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.