Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Waar land en lug ontmoet

Nie almal se sakke is diep genoeg nie, maar ’n reis na Antarktika is een van die mees magiese ervarings wat jy kan meemaak, skryf  Natalia Rosa.

’n Groepie pikkewyne in die Neko-hawe op Antarktika.

‘Waarom nie?’

Dit was die Franse ontdekkingsreisiger Jean-Baptiste Charcot se benadering tot ’n reis na die einde van die wêreld.

Charcot het van 1903-1905 die westelike uithoeke van Antarktika verken. Die “dolleë en vreesaanjaende landskappe” het hom so betower dat hy ’n paar jaar later terug is.

Sy seilskip se naam was Pourquoi-Pas? (oftewel Waarom nie?) Dié driemas-seilskip het nie ongeskonde van die reis teruggekeer nie, maar het meer as 1 000 myl se nuwe plekke op die wêreld se onherbergsaamste vasteland verken. Heel gepas is ’n eiland en ’n gletser na die skip vernoem.

Kruip in dié rooi tentjie as jy vir die nag op Antarktika kampeer.

Ek het die seevaart van 12 dae in aansienlik groter gemak as Charcot meegemaak. Boonop was ek in die geselskap van Hurtig­ruten se gesoute bemanning.

Baie mense sal wonder waarom ’n mens Antarktika toe sou wou gaan: dis ysig koud, dis peperduur – en wat as jy seesiek word?

Dit is ’n ongeskonde, spierwit paradys vir pikkewyne, walvisse, robbe en seevoëls.

Terwyl die MS Midnatsol voortvaar deur die branders van die Drake-deurgang kyk ek hoe albatrosse en stormvoëls baljaar.

Ons het twee dae lank op die oop see voorberei vir die avontuur wat wag. Wetenskaplikes het meer vertel oor die vasteland, en ons is geleer hoe om ons impak op dié brose omgewing tot die minimum te beperk en hoe die weer in ’n oogwink kan verander. Met die mistroostige Drake-deurgang agter ons, het ons die eerste ysberg gewaar. In die gryse Suidelike Oseaan het ’n ysberg van 50 m hoog en 350 m breed opgedoem.

Net 100 mense mag op ’n slag voet aan wal sit op Antarktika en mag ook net 90 minute hier vertoef (behalwe natuurlik die kampeerders).Foto’s: Stefan Dall

Kort daarna het ysberge soos enorme wit wolke op die horison verskyn. Dit was bykans onmoontlik om te sien waar die land eindig en die lug begin. Charcot het gesê die skoon lug en kleurlose landskap maak dit moeilik om afstand en hoogte te skat.

Vir die volgende week het ons van die skip se oop dek of uit die gemak van die sitkamers die landskap bewonder terwyl ons deur die Suidelike Shetland-eilande, oor die Bransfield-seestraat en deur die Lemaire-kanaal vaar. Sneeubedekte pieke toring uit die water, robbe dryf op ysvlotte rond en pikkewyne plons in die water.

Dit verg geduld om voet aan wal te sit oor die onvoorspelbare weer, wind en ys.

Net 100 mense mag op ’n slag dié yswêreld betree, ook net vir 90 minute. Die omgewing hier is so ongeskonde dat die pikkewyne nie eens bang is vir mense nie; hulle waggel nader om die vreemde kreature in hul dik, helder klere te kom bekyk.

Die vinnige besoek aan Antarktika self, die lesings en alle etes en verblyf is ingesluit in die toerprys. Passasiers kry ook spesiale stapskoene, baadjies en stapstokke.

Teen ekstra koste kan besoekers in ’n kajak vaar, fotografiekursusse doen en in die Antarktika-kamp oornag (wat baie duur, maar die moeite werd is). Aan boord is ’n winkel met alles van poskaarte tot tandepasta. Daar is ’n kroeg en die etes is geïnspireer deur Noorweegse kookkuns.

Charcot sou gewis Antarktika ’n derde keer besoek het as hy so luuks kon reis.

¦ Development Promotions is Hurtigruten se agent in Suid-Afrika. Natalia het die reis as gas van Hurtigruten meegemaak.

Die fynere punte
  • Dit kos $7 764 (sowat R105 000) per persoon om dié toer mee te maak. Dit sluit nie die vlugte tussen Suid-Afrika en Argentinië in nie.
  • Die toer begin in die Argentynse hoofstad Buenos Aires, van waar jy met ’n private vliegtuig na Ushuaia reis. Die skip vertrek van hier af.
  • Die toere word van November tot Maart aangebied en die landskap wissel in dié tydperk. Vroeg in die somer is daar baie sneeu en dis paartyd vir die pikkewyne. Later in die seisoen sal jy die pikkewynkuikens sien.
  • Die Drake-deurgang kan mense wat seesiek word laat les opsê. Diegene wat daaraan ly, kan so twee tot drie dae van ongemak verwag. Besoekers kan tablette teen seesiekte op die boot koop.
  • Vat genoeg klere saam, ook waterdigte klere, om in lae aan te trek. Jy hoef egter nie sneeustewels of ’n dik jas in te pak vir die landing nie. Onthou wel sonbrandroom en ’n mus.
  • Die kos aan boord is voortreflik, en Hurtigruten maak voorsiening vir mense met spesiale dieetvoorkeure. Laat weet net jou reisagent vooraf.
  • Jy moet ’n mediese sertifikaat bekom om die reis mee te maak. Mense wat om mediese redes nie op Antarktika kan afklim nie, kan steeds die ongelooflike natuur vanaf die skip gade slaan.

Meer oor:  Antarktika  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.