Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Wat ons in ’n woestyn geleer het

Vir twee jaar was Ilse Zietsman in Saoedi-Arabië in ’n soort inperkingstyd, darem met naweekwegbreke en vakansies. Dís wat sy en haar vriende daar geleer het.

Ons kon darem naweke wegbreek na die woestyn om ’n bietjie uit te kom. Foto: Ilse Zietsman

Saoedi-Arabië is ’n droë land. Alkohol word nie binne die landsgrense toegelaat nie. Alkohol word nóóit in dié Midde-Oosterse land verkoop nie. Behalwe onwettig, natuurlik.

Dis nie die afwesigheid van wyn wat my en ’n paar vriende tydens die huidige grendeltyd aan ons werksverblyf in Saoedi-Arabië laat dink het nie. Dis die inperking self.

Toe klagtes ná die eerste week op sosiale media begin opdoem, het dit my aan die dink gesit. Waarom het dit nie juis ’n uitwerking op my nie, wat juis my energieskoppe kry as ek met mense omgaan?

Soos wat tyd verloop, het herinneringe aan die twee jaar wat ek in Taboek, ’n woestyndorp in die noordweste van Saoedi-Arabië, deurgebring het, al hoe meer na vore getree. Boodskappe van mede-Suid-Afrikaners wat ook in die vroeë 2000’s daar gewerk en -woon het, het dit beaam: Die Covid-19-inperking is veel minder van ’n uitdaging as wat dit vir baie ander is.

Met tyd op ons hande het boodskappe heen en weer gevlieg. Wat dink jy? Hoe voel jy? Onthou jy nog . . .

Wat die meeste uitstaan, is dat daar in Saoedi-Arabië geen vermaak was nie. Dis nou buiten inkopies doen! Geen kuns- of fliekteaters, geen sportbyeenkomste nie. Sover dit restaurante aangaan, was die meeste slegs vir mans. Waar vroue wel toegelaat is, moes ’n egpaar in ’n toe hokkie met ’n deur sit. Geen gemengde groepe is volgens landswet toegelaat nie; slegs ’n getroude egpaar op hul eie, wat boonop hul huweliksertifikaat, in Arabies vertaal, by hulle moes dra.

Só braai Suid-Afrikaners in ’n Midde-Oosterse inperking.

Ons kon darem braai. Van die ander internasionale werkers het na die Suid-Afrikaners verwys as “daardie snaakse mense wat altyd buite by ’n vuur sit”, het ons later gehoor. Selfs leesstof was nie vrylik beskikbaar nie.

Ek het skoolgegee by die Britse Internasionale Skool van Taboek. Die leerlinge was kinders van mediese personeel van die North West Armed Forces Hospital. Omdat die weermag indirek my werkgewer was, kon ek die klein bibliotekie by die ontspanningsentrum op die weermagbasis benut. Dit was al plek waar Engelse boeke beskikbaar was.

Barbara Hatfield, ’n Suid-Afrikaanse verpleegster wat by die Taboek-hospitaal werksaam was, vertel hoe sy, soos ek, soveel boeke moontlik in haar tas gepak het as sy na die Midde-Ooste gevlieg het. Ons moet nog uitsluitsel bereik oor wie die hardste gebid het dat die Saoedi-Arabiese doeane nie ons leesgoed afvat wanneer hulle ons tasse inspekteer nie.

Toe haar kontrak tot ’n einde gekom het, het Barbara al haar eie boeke aan die Taboek-biblioteek, wat net deur Westerlinge besoek mag word, geskenk.

Ek het my ingesmokkelde tydskrifte vir myself gerantsoeneer, want dit sou maande duur voordat ek weer nuwes kon kry. Tydskrifte is, soos baie ander dinge, as haram (verbode) beskou omdat daar prentjies van vroue in is.

Wil Lemmer toets ’n waterpyp op die strand uit; sigarette en waterpype was oral beskikbaar.

Wil Lemmer en Pieter Zietsman, onderskeidelik die vrugteproduksie-bestuurder en projekbestuurder by Tadco (Tabuk Agricultural Development Company), sê hulle het net mooi enigiets gelees waarop hulle hul hande kon lê. Die Suid-Afrikaanse mans wat by dié landboumaatskappy in diens was, het onder mekaar reis- en motortydskrifte en boeke uitgeruil. Verder het die Arab News, die grootste Engelstalige dagblad in die Midde-Ooste, ons op hoogte van sake gehou. Ons het dit spottenderwys Die Groen Waarheid genoem omdat die buiteblaaie liggroen was.

Om in Suid-Afrika se huidige inperkings steeds die daaglikse koerant en ’n paar tydskrifte by die hoekkafee te kan koop, verskaf my eindelose genot.

Druiwesap, gis en siedaar

Terug by die wyn. Soos reeds genoem, is alkohol onwettig in Saoedi-Arabië.

’n Boer maak ’n plan, lui die spreekwoord. Sommige “Boere” het druiwesap en gis gebruik om – in streng geheimhouding – hul eie wyn te maak. Ek het selfs ’n sandpatrys hoor fluit dat ’n landgenoot uit die boks gedink het en regte, egte wyngis en houtsaagsels vir die maak van wyn in speserypotjies ingesmokkel het. Vra my niks meer hieroor nie.

Woestynuitstappies het die Saoediese inperking vir Ilse en Pieter Zietsman draagliker gemaak.

Die Zietsmans, synde Bolanders wat altyd wyn in die kas het, het nog nie nodig gehad om sulke planne weer in die lewe te roep nie. Wil, wat nou in Spanje woon, sê wyn en bier word steeds tydens die Spaanse inperking verkoop.

As jy baie waaghalsig was en die “regte” mense geken het, kon jy ’n bottel sidiqi teen ’n stywe bedrag (terwyl jy hoop dis nie ’n grendelswendel nie) koop. Sidiqi (dit beteken “vriend”; mense praat sommer kortweg van sid) kan die beste beskryf word as Arabiese witblits. Ek vermoed die meeste mense drink dit net een keer . . .

Nie een van ons is rokers nie. Sigarette en waterpype was wel oral vrylik beskikbaar.

‘n Woestynstrandwegbreek vir Suid-Afrikaners wat baie ingeperk in Saoedi-Arabië moes werk en woon.
Saoedi-Arabië is nie juis sportvriendelik nie; visskiet in die Rooisee was wel vir internasionale werkers moontlik.
’n Mens doen snaakse dinge as jy ingeperk is. Ek het plekke waar ek al was op ons sitkamermuur gestensil.

As jy moet, swem jy op een plek

Sover dit sport aangaan, was ons meestal op sofajoga (strek jou bene op die rusbank) aangewese. Ons kon wel in ons woonkomplekse rondloop solank ons nie by die hek uitgegaan het nie.

Pieter, wie se sport en passie visskiet is, kon darem oor naweke (Donderdae en Vrydae!) in die Rooisee gaan duik. Ons twee en Wil het amper elke naweek óf by die see gaan kampeer óf in die woestyn gaan slaap.

Barbara kon nie, soos by die huis, gaan draf of roei nie. Die swembad by die ontspanningsentrum op die weermagbasis was toe haar redding. Aan die begin van die huidige inperking, toe dit nog warm genoeg was, het sy haarself aan ’n tuinkruik vasgebind en op een plek in haar piepklein swembadjie geswem, lag sy terwyl sy dit oorvertel.

Vroue mág ten minste uitgaan

Om in Saoedi-Arabië te werk en woon, is ’n enorme uitdaging op sigself. Wat dit nóg moeiliker maak, is dat jy vir lang tydperke aaneen nie jou geliefdes sien nie. Selfoonkommunikasie was destyds, veral aan die begin, baie onbetroubaar.

Nisha Mohanlall van Durban, wat saam met my skoolgegee het, sê vir haar is die moeilikste aspek van die huidige grendeltyd dat sy vir so lank nie haar familie en vriende kan sien nie. Die jare wat hulle in die Midde-Ooste deurgebring het, het hulle egter goed daarop voorberei! Sy wys tog daarop dat die tyd in Taboek sonder enige finansiële bekommernisse was, iets wat nie buite rekening gelaat moet word nie.

Die langste tydperk wat Barbara nie haar kinders gesien het nie, was 11 maande waartydens sy Saoedi-Arabië nie kon verlaat nie!

Diana Kayal, ’n Libanese dokter wat my beste vriendin in Saoedi-Arabië was, herinner my daaraan dat ons juis hegte vriendskappe gesmee het omdat ons totaal op mekaar aangewese was. Soos nou wêreldwyd gebeur, het ons na mekaar gekyk en gehelp waar ons kan.

Tóé het ons omstandighede ons nie ondergekry nie; ons sal sorg dat “jou ma se hoes”, soos Covid-19 nou hier in die Kaap genoem word, ook nie daarin slaag nie!

’n Skrale troos is dat my paspoort veilig in die huiskluis nestel. In Saoedi-Arabië neem jou werkgewer met jou aankoms summier jou paspoort af. Jy kry dit eers weer terug as jy toestemming kry om die land te verlaat.

Bid jou aan! Nóú kan jy – as vrou – darem na die supermark ry. Nie ek, Barbara, Diana of Nisha mag bestuur het toe ons in Saoedi-Arabië gewoon het nie. Toe was bestuur vir vroue nog verbode; in 2018 is die verbod vir die eerste keer opgehef.

Meer oor:  Saoedi-Arabië  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.