Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Wees spontaan: Op pad tydens die pandemie

Ons kon Heidelberg se kasteel verken sonder dat daar ’n trop internasionale toeriste in elke foto verskyn. Foto’s: Este Oosthuizen.
Haar plan om in 2020 die 50ste stempel in haar paspoort te sien, is deur Covid-19 gekortwiek, maar met spontane besluite kon sy darem nader aan die teiken kom, vertel Este Oosthuizen.

Drie jaar gelede het ek besluit om alleen oor die water in Hamburg in die noorde van Duitsland te kom woon.

Min het ek geweet dat die son hier net af en toe sy kop sal uitsteek en dat daar werklik bitter baie skakerings van grys bestaan.

Ek mis nog elke dag die Afrika-son en al my familie en vriende, maar die avonture wat ek kom soek het, stel nie teleur nie. Boonop het ek ’n oulike Duitser so tussendeur al die avonture hier raakgeloop.

Hier uit Duitsland het ek werklik die hele Europa om te verken – ’n vinnige, goedkoop vlug en jy’s in Parys, Kopenhagen of Budapest vir ’n naweek. Jy kan ook op die trein klim en voordat jy weet is jy in Amsterdam of Wene – alles te danke aan daardie “permanente inwoner”-kaartjie wat die kopseer van visums kry heeltemal laat verdwyn. Dit maak dit ook makliker om van die grys te ontsnap en ’n bietjie sonskyn in Malta of Griekeland te gaan soek.

Este en Niko op een van hul treinritte.

Met ’n missie om een nuwe land elke maand by my lysie te voeg het ek oor twee jaar vinnig tot by 46 geklim. Die groot 50 was vir 2020 bestem. Ek kon darem nog in Januarie, te danke aan ’n werkgeleentheid en ’n werk-betaalde visum, Brittanje afmerk en ook gou ’n draai in Suid-Afrika maak om my troue te beplan, maar toe kom die wêreld tot stilstand.

Dit was gou duidelik dat internasionale reise vir ’n ruk taboe of ten minste heel anders gaan wees.

... om op die laaste oomblik ’n besluit te kan neem, ’n paar goedjies in ’n tas te gooi en op ’n onbekende plek te land – sonder om te weet wat vir jou wag en, as jy gelukkig is, ook teen ’n baie billiker prys as gewoonlik.

Uit by die venster is reisplanne wat jy in detail ver vooruit beplan. Vergete is die wete dat elke restaurant, kroeg en museum jou met ope arms sal verwelkom en sonder agterdog oor hul drumpel sal laat trap.

Ná die aanvanklike streng inperking het 2020 hier by ons plek gemaak vir spontaneïteit – om op die laaste oomblik ’n besluit te kan neem, ’n paar goedjies in ’n tas te gooi en op ’n onbekende plek te land – sonder om te weet wat vir jou wag en, as jy gelukkig is, ook teen ’n baie billiker prys as gewoonlik.

Skielik verg reis ’n ander tipe beplanning – waarheen kan ek gaan, wat het ek nodig om te gaan en belangrikste van alles, kan ek terugkom? En sodra jy al hierdie vrae beantwoord het, met antwoorde wat op die laaste oomblik kan verander, skop ’n hele stel nuwe reëls in. Onthou jou masker, net een stuk handbagasie, bly 1,5 meter van mekaar – elke land met sy eie nuwe normaal.

Heidelberg is ’n prentjiemooi stad in die suide van Duitsland.
Plaaslike reise

Teen die Noordelike Halfrond se herfstyd het 2020 vir my en my man, Niko Drugov, begin lyk na ’n jaar waarin ons ons eie, oftewel my aangenome, land sou moes verken.

Ná ’n paar maande van inperking – van die huis werk, piesangbrood bak en leer brei ingesluit – het die Duitse regering die reëls bietjie verslap en gedurende die somervakansie was dit heel lekker om in die suide van Duitsland te gaan rondry.

Ons het vir die eerste keer hier gekampeer, by al die brouerye stilgehou en uiteindelik die Neuschwanstein-kasteel van naderby bekyk – sonder al die oorsese toeriste was daar gulde geleenthede om mooi foto’s te neem.

Ons herfsplanne het nie hiervan verskil nie.

Net so vyf uur suid met die trein na Frankfurt en ’n uur verder na Heidelberg en daar bevind ons ons in die pragtigste stad met nog ’n indrukwekkende kasteel op die berg, ’n antieke deel vol klein straatjies, ’n groot kerk en die Neckarrivier, wat deur dit alles vloei.

Die plan was ’n Wine and Spirits Education Trust (WSET) vlak 1-kursus gevolg deur die verkenning van die “Deutsche Weinstrasse” – die 85 km lange, oudste wynroete in Duitsland – en van daar verder oor die Franse grens om ons nuwe wynkennis verder in die Elsas-wynstreek te toets.

Dis gou duidelik dat die weer in Heidelberg en die virus nie die memo oor ons planne gekry het nie. Ons het nie dik winterjasse gepak nie en mag skielik nie meer oor die grens ry nie.

Die Romeinse ruïnes by Heidelberg met kloosterruïnes wat in die jaar 1023 bo-oor gebou is.
Spontane besluite

Dis hier waar die spontaneïteit toe inkom. Met ons opsies van oop en redelik veilige lande beperk tot Italië en Griekeland, raadpleeg ons alwetende Google en Italië wen die prysoorlog. In ’n kits bespreek ons ’n vlug vir oor twee nagte na ’n onbekende dorpie aan die Adriatiese kus.

Eers verken ons Heidelberg vir ’n dag.

Ná ’n stewige Engelse ontbyt van spek, eiers en sousboontjies klim ons teen die berg op. Daar is ’n kabelkar, maar vroegoggend is die ry al in die straat af en almal is gemasker en probeer nog afstand hou ook. Ons kies die 300-trappie-roete tot bo by die Heidelberg-kasteel – met ’n geskiedenis wat strek van voor die jaar 1214, weerligstrale, oorlog en brande insluit. Vandag lyk dit wat oorbly nog steeds baie indrukwekkend waar dit waghou oor die Ou Stad en uitkyk oor die rivier.

Ons volgende ekspedisie is om die ou Romeinse ruïnes te gaan soek. Dié keer is dit oor die drie kilometer berg op in ’n woud aan die oorkant van die rivier.

Van opgee ken ons darem nie en ná ’n paar ure kry ons uiteindelik die buitelyne van die klein Romeinse tempel omring deur die oorblyfsels van ’n klooster wat in die jaar 1023 bo-oor gebou is. Ná ’n bier, koppie koffie en Apfelstrudel met vla is die pad berg af ’n bietjie makliker tot by ons hotel en so is ons reg om die volgende dag van wyn te leer.

Ons tydjie in Heidelberg was bietjie te kort en bietjie te koud en ná ’n dag se wynproe is ons toe ook weer op pad lughawe toe vir ons vlug na Italië.

Baie van ons ure is op Pescara se stil strand deurgebring.
’n Italiaanse seevakansie

In Pescara aangekom verwelkom reënweer ons en ons maak ons sommer vinnig tuis in ’n tradisionele restaurant met ’n glas van die vino de la casa.

Soms bring min beplanning goeie verrassings en ons bevind onsself toe in die Abruzzo-wynstreek – tuiste van die Montepulciano-druif en die bekende rooiwyn Montepulciano d’Abruzzo. Hierdie wyn, met ’n bord vol ham, kaas en brood uit die streek is ’n goeie begin aan ’n spontane herfsvakansie in Italië.

Pescara is nie bekend as ’n toeristebestemming vir oorsese gaste nie en ons kom gou agter dat tussen ons Engels, Afrikaans, Duits en Russies die enigste taal wat met die Pescarane gaan werk, is gebaretaal en ’n glimlag. Ons besef ook gou dat hier basies niks is om te doen behalwe eet en drink nie, maar ons kla nie te hard nie. Niemand maak pizzas soos die Italianers nie en verder word ons vakansie om maaltye beplan.

Ons stap steeds die stad plat, steek ons voete in die water op die strand en eet en eet en eet.

Die tweede dag besluit ons om bietjie verder te gaan verken. By die treinstasie word ons temperatuur getoets voordat ons ’n kaartjie mag koop. In Italië word maskers selfs buite gedra en teen hierdie tyd is ons al gewoond aan dié ekstra bykomstigheid tot ons daaglikse kleredrag. Hoe verder die trein ry, hoe hoër klim ons in die berge in. Ons maak dit nie heeltemal tot by die sneeu wat ons uit ons hotelkamer op die bergpieke kon sien nie, en klim in die dorpie Sulmona af.

Ons raak omtrent verlore in sy nou straatjies met ou geboue en eindig uiteindelik ná vele draaie op die ou stadsplein met ’n lekker lewendige mark en mense wat by klein kafees sit en wyn drink.

Ons sluit by hulle aan en probeer die keer die Montepulciano-witwyn en die rosé Cerasuolo. Met gebaretaal bekom ons ook ’n ham-en-kaasbroodjie.

Die stadsplein is die perfekte plek om die middag in die son te verwyl en na die luidrugtige, uitbundige Italiaanse gesprekke langs ons te luister.

Vrolike confetti-blomme in Sulmona.

Sulmona is die geboorteplek van nie net die Romeinse digter Ovidius nie, maar ook van confetti – neute met sjokolade en suiker, in alle kleure omhul. Oral is daar blommerangskikkings van confetti te sien – ongelukkig met plastiek vasgebind en nie eetbaar nie – maar definitief ’n mooi herinnering. Die los pakkie, eetbare confetti wat ons vir die treinrit koop hou ook nie lank nie en ek kan nou nog nie besluit watter geur my gunsteling was nie.

Die res van die tyd in Pescara bring ons deur op die strand, probeer darem ’n bord pasta tussen die heerlike pizza deur en geniet klein koppies koffie, nog glase wyn en Limoncello – ’n Italiaanse likeur met ’n suurlemoengeur. Ons kyk ook die winkels deur en maak plek vir ’n paar stukkies Italiaanse mode-items in ons oorvol rugsakke.

Ongelukkig is die vakansie veels te kort en moet ons kort voor lank die son vaarwel roep en weer terugkeer na ’n gryse Duitsland – net betyds voordat die Italianers ook hul grense sluit en nog ’n ander stel nuwe reisreëls in werking tree.

Reis in 2020 was voorwaar ’n avontuur!

En ons weet nog nie eens wat 2021 inhou nie . . .

Meer oor:  Italië  |  Covid-19  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.