Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Wegbreek in Goudstad

’n Luukse vakansieoord in Houghton, Johannesburg is die perfekte plek om asem te skep, terwyl jy skouers met die 0,1 persent skuur.

Die verhitte binnenshuise swembad by die spa kan winter en somer benut word.

Die kleutertjie se voorkop plooi die ene konsentrasie soos hy probeer regop bly op sy poelnoedel.

Die vrou langs hom – sy private sweminstrukteur – koer woorde van bemoediging, terwyl sy hom op die plastieknoedel rondtrek. Ek en my vriendin hou die toneel dop vanaf die anderkant van The Houghton-hotel se verhitte spa-swembad.

Die water is dieselfde temperatuur as vrugwater, en rustige Tibettaanse dreunsang vloei uit weggesteekte luidsprekers. Die reuk van bergamotlemoen en rooswater hang in die lug.

Dit voel skoon asof ’n mens in ’n baarmoeder ronddryf – ’n baie duur, smaakvolle een.

Die hotelkompleks van The Houghton-hotel.

“Is dit hoe die 0,1% se swemlesse lyk?” val my vriendin my gedagtes oor ontwerpersbaarmoeders in die rede.

“Ek moes maar saam met die gepeupel by die plaaslike munisipale swembad rondplas.”

Toe die seuntjie se les verby is, vou sy ouers hom toe in ’n dik katoenjapon en glip ’n paar Italiaanse ontwerperstekkies aan sy voetjies.

Ek google later die skoene. Hulle kos soveel soos ’n eenslaapkamerwoonstel in die Kaapse stadskom se maandelikse huur. Een met ’n uitsig oor Tafelberg.

Só lyk een van die King-suites.

Skuur skouers met die 0,1%

Welkom by The Houghton-hotel, ’n weelderige enklawe en vakansieoord in die hartjie van Johannesburg. Reeds wanneer jy inry verby ’n vloot McLaren-sportmotors en ’n paar haastige Italiaanse rooikoppe, weet jy sommer dis die speelplek van die Goudstad se adel en stralejakkers wie se vlerke deur die pandemie geknip is.

By die ontbyttafel dryf grepe van die grys-skoen-sakemanne se gesprek oor na ons tafel – planne word beraam en syfers bewimpel vir SAL se sakereddingsplan. ’n Kêrel wat lyk asof hy verlede jaar matriek geskryf het, se vingers woeker oor ’n dun silwer skootrekenaar.

Die groot verrassing by Séjour was die olyf-en-aarbei-nagereg (R115), wat soos ’n moderne kunswerk lyk wanneer dit by jou tafel aankom.Foto: Carla Lewis

“Raak ontslae van die Bitcoin en koop liewers Ethereum,” beveel hy oor ’n oorfoon.

“Het julle al vir X gesien?” fluister ons kelner opgewonde toe hy ons ontbyt bring, en laat val die naam van ’n bekende Amerikaanse vermaakkunstenaar.

“Hy is in Johannesburg vir opnames vir ’n nuwe TV-program,” verklap hy.

“Maar sjuut, niemand mag eintlik weet hy bly hier nie.”

Carla Lewis

Die hotel en vakansieoord het stil-stil verlede jaar sy deure geopen, Covid ofte nie, en is ook aangewys as Suid-Afrika se beste nuwe hotel by die 2020 World Travel-toekennings. Tog is talle mense salig onbewus van hierdie voorstedelike toevlugsoord.

Ek het ook eers daarvan kennis geneem nadat mense foto’s op sosiale media gedeel het wat lyk soos ’n luukse oord in Dubai of Mauritius.

Almal het gespog met die hutsmerk #staycation, of soos ek dit noem, ’n tuisverwyl – ’n wegbreek na ’n bestemming binne jou eie stad of dorp. Met die talle Covid-19-reisregulasies is dit ’n alternatief vir mense wat op soek is na ’n kort vakansie.

Die hotel voel ook soos ’n vakansieoord met sy vyf swembaddens, waarvan een verhit is, ’n luukse spa, restaurante en koffiewinkels te kus en te keur, en groot kamers wat uitkyk oor óf die kompleks en swembaddens óf die gholfbaan.

Dis ’n plek waar jy ’n luilekker Saterdag of Sondag by die spa kan uitspan en dit dan opvolg met middagete by Séjour, die hotel se fynproewersrestaurant, of Nova Bistro vir ’n meer informele kuier.

Of bring jou gholfstokke. Die hotel is neffens die 18 putjie-Houghton-gholfbaan wat deur die gholfkampioen Jack Nicklaus ontwerp is.

* Carla Lewis was ’n gas van The Houghton-hotel en Séjour-restaurant.

Bederf jou dié winter

The Houghton-hotel het tans ’n middel-van-die-week-aanbod tot einde Junie. Dit kos R2 200 per kamer in een van die King-suites waarin twee mense kan slaap. Ontbyt by Nova Bistro is ingesluit. Skakel 011 032 5500 of besoek thehoughtonhotel.com om te bespreek. Die hotel is in Lloys Ellis-laan in Houghton, oorkant die Houghton-gholfklub.

Bespreek ’n spa-behandeling by The Houghton Spa (dagbesoekers is welkom). Skakel 011 032 5555 of stuur e-pos na spa@thehoughtonhotel.com.

Smul by Séjour

Séjour is oop van Dinsdae tot Saterdae, 12:00 tot 16:00 vir middagete en 18:00 tot 22:00 vir aandete. Sondae bedien hulle net middagete van 12:00 tot 16:00. Besprekings is noodsaaklik. Skakel011 032 5535 of stuur e-pos na cara@sejour.co.za.

Séjour is The Houghton-hotel se fynproewersrestaurant, hoewel Freddy Dias, hoofsjef, dit eerder ’n “elegante eetervaring” noem.

“Wanneer mense ‘fine dining’ of fynproewer hoor, kan hulle dikwels geïntimideer wees,” sê hy.

“By Séjour glo ek die klem moet wees op die beste bestanddele wat steeds elegant voorgesit word, maar sonder enige snaakse tierlantyntjies. Jy moet beide jou puntenerige neef en jou pa wat net vleis, rys en aartappels wil eet hiernatoe kan bring.”

Séjour beteken kuier in Frans, en jy kan inderdaad middae en aande hier omkuier. Die dekor is elegante vloer-tot-dak-vensters wat uitkyk oor die Houghton-gholfbaan. Dis waarskynlik een van die mooier uitsigte wat jy in ’n Johannesburgse restaurant kan beleef.

Die eerste ding wat my opgeval het, is die grootte van die porsies – gul vir ’n “elegante restaurant”.

Dis nou nie jou plaaslike braairestaurant se pryse nie, maar myn insiens uitstekende waarde vir geld. ’n Driegangmaaltyd sal jou sowat R600 per kop uitwerk, en dan hoef jy nie tevrede te wees met die goedkoopste disse nie.

Dis perfek vir ’n spesiale geleentheid soos ’n verjaarsdag of huweliksherdenking.

Vir hoofgereg het ek die beesfilet en -stert bestel (R295) wat saam met aartappelfondant bedien is. Vir beter wintertrooskos kon ’n mens kwalik vra. Die filet, (medium-rou) was net skrikgemaak, maar murgsag en besonder geurig vir die snit wat soms effe laf kan proe.

Die beesstert wat in ’n “tamatie­flessie” (’n uitgeholde, geroosterde tamatie) bedien is, was ryk, maar sonder enige van die jellieagtige vet wat soms met die dis gepaardgaan. Die aartappelfondant was suiwer towerkuns – ’n goudbruin aartappel wat in romerige kapok verander sodra jy dit in jou mond sit.

Die groot verrassing was egter die olyf-en-aarbei-nagereg (R115) wat soos ’n moderne kunswerk lyk. Die hoofbestanddele is bokmelkkaas, olywe en aarbeie – drie bestanddele en geure wat ’n mens nie noodwendig as pasmaats by die nageregtafel sien nie. Dias maak ’n crémeux, ’n tipe ryk, romerige mousse van bokmelkkaas met ’n pikante, aardse geur sonder die oorweldigende “bokram” wat sommige mense afsit van die kaas. Dit word bedien saam met versuikerde olywe, wat ’n sweempie bittersoet na die dis bring, en aarbei-granita, wat die ryk tekstuur van die bokmelk so ’n bietjie temper. Dit is ’n heerlike kinkel op die kaasbord en vrugte wat ’n mens pleks van nagereg bestel.

Meer oor:  Johannesburg  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.