Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Wellington: Net die plek vir stokkiesdraai en ontspan

Wellington is minder as 100 km van Kaapstad af en die rit soontoe duur ongeveer ’n uur – wat beteken dat dié Bolandse dorp net die bestemming is vir ’n Saterdag-besoek. Daar is egter soveel kelders dat ’n oornagbesoek ook ’n opsie is. Suzaan Potgieter deel meer oor wat jy kan verwag.

Met ’n rustige omgewing en ’n rits kelders, is Wellington se wynroete ’n welkome ontsnapping vanuit die besige stadslewe.

Hier kan jy van een kelder na die volgende reis en die streek se wyne, wat heerlike pinotage insluit, proe of ’n bottel saam met middagete of ’n peuselbord geniet.

As jy in die week daar kuier of ’n inwoner van die dorp is, móét jy Wine Wednesdays bywoon.

Al die lede van die Wellington-wynroete kom by een plek byeen en besoekers kan vir R50 enige tien wyne uit die streek proe en geniet.

  • Besoek die Old Mutual Insure Wellington Wine Route Facebook-blad vir meer besonderhede oor die wynroete en die geleenthede wat aangebied word.
  • WEN! Onthou ook om in skryf vir die kompetisie waar een paartjie ’n wegbreek Wellington toe kan wen. Stuur ’n e-pos met jou storie oor jou Wellington-ervaring voor 7 Februarie 2020 na wellingtonwineroute@gmail.com .Die wenstorie word in Versnit gepubliseer.
Imbuko se pastei-en-wynproe is iets wat jy moet probeer tydens jou besoek. Foto’s: VERSKAF

Pasteie en wyn

’n Gunsteling op Imbuko se proelys, sal altyd hul gourmet-pastei-en-wynproe wees – iets wat jy moet probeer gedurende jou besoek.

Dié proe kos R80 en sluit vier klein pasteitjies in, soos tradisionele bobotie- en lamskenkelpastei, en vier wyne wat by die pasteie pas. ’n Chenin blanc, sauvignon blanc, pinotage en versnit is deel van die proelys.

Benewens die lang verskeidenheid van wyne wat deel vorm van hul wynlys, is daar ook ’n klein spyskaart met happies en ’n peuselbord (R175 vir twee mense) om te geniet.

Probeer gerus die Imbuko- en Van Zijl’s-wynreekse wat iets van alles bevat.

Wynproeë kos R50 en om die MCC te proe kos R10.

Imbuko is oop van Maandae tot Sondae. Jou kontak: 021 873 7350

Die knus Bosman-proelokaal is nie vir ’n vinnige besoek nie, maar vir lekker kuier.

Tuiste van pinotage

As jy ’n liefde vir die eg Suid-Afrikaanse druifsoort pinotage het, moet jy ’n draai by Diemersfontein gaan maak.

Hulle maak vier verskillende soorte pinotage vir elke soort smaak en wat lekker is, is dat jy die verskillende style met mekaar kan vergelyk. Boonop bied hulle ook brandewyn vir dié wat nie gaande oor wyn is nie.

Die proelokaal bied ook ’n Sweet Temptation-wynproe aan (R80) waar hul wyne met sjokoladetruffels voorgesit word wat by elke wyn pas. Probeer ook die wyn-en-brandewynproe (R100).

’n Gewone wynproe kos R40.

Besoek ook hul restaurant Aan Tafel, waar hulle onder meer verskillende braaibroodjies, gunstelinge soos smoorsnoek en skilpadjies, boerewors, snoek en bunny chow op die spyskaart het.Hulle is heelweek oop. Jou kontak: 021 873 4447

Bietjie meer as wynVir ’n bederf van spiritus én wyn is Upland Organic net die plek vir jou.

Hier maak hulle ’n MCC, verskeidenheid van wyne, brandewyn, jenewer en ’n limoncello. Boonop is die MCC en die Tawny ook bekroon met ’n paar sterre.

Jy sal beslis iets tussen al die produkte vind wat jou gunsteling sal wees en meer leer in die informatiewe proesessie.

Dit kos R50 vir ’n proe en proeë is slegs per afspraak. Jou kontak: 082 731 4774

Vir mens en hond

By Dunstone is nie net wynliefhebbers welkom nie, maar ook jou viervoetige vriend.

Kinders en honde is hier meer as welkom en hulle kan in die tuin speel terwyl jy die wyne geniet.

Die kelder fokus op shiraz met twee van dié druifsoort se wyne en ’n rosé wat gemaak word.

Hulle het ook ’n restaurant, The Stone Kitchen, wat oop is vir ontbyt, middagete en aandete. Hulle bedien burgers, broodjies, slaaie, steak-en-ribbetjies asook peuselborde. Bespreek vooraf.

Dit kos R30 om vyf wyne te proe en R20 vir drie wyne. Jy kan ook bespreek vir ’n keldertoer saam met die wynmaker. Dunstone is heelweek oop, maar Maandae en Dinsdae gesluit in die  wintermaande. Jou kontak: 021 864 1504

By Diemersfontein is daar nie net pinotage nie, maar ook brandewyn.

Middagete met wyn

Beplan om Linton Park oor middagete te besoek, want ’n glasie wyn en peuselbord word sommer lekkerder as jy uitkyk oor die groenigheid.

Hul wyne wissel van sauvignon blanc tot cabernet sauvignon, maar shiraz is beslis ’n wenner hier.Die plaas ondersteun ook renosterbewaring en wanneer jy van die Rhino-reeks se wyne koop, ondersteun jy ook renosterbewaring.

Daar is ligte middagete-opsies wat peuselborde insluit. Jy kan ook vooraf by tasting@lintonparkwines.co.za bespreek vir ’n quiche-en-wynproe.Hulle is Maandae tot Saterdae oop. Jou kontak: 021 224 0231

Kom draai stokkies

By Bosman vind jy nie net wyn nie, maar dit is ook die plek van oorsprong vir talle wingerdstokkies.Buiten vir die lekker wyn, is die plaas ook bekend vir die ent van wingerdstokke, oftewel “stokkiesdraai”.

Hulle het wingerd en ’n proelokaal in Wellington en Hemel-en-Aarde, so jy kan uitsien na ’n verskeidenheid van wyne om te proe en geniet.

Proe gerus ook die wyn van die enigste blok van die druifsoort Nero d’Avola in die land.Dit kos R80 om vyf wyne te proe en jy moet vooraf bespreek. Jy kan ook bespreek vir ’n keldertoer.Hulle is Maandae tot Saterdae oop. Jou kontak: 021 873 3170

Mal oor malbec

By Doolhof sal jy beslis jou liefde vir malbec herontdek. Dié druifsoort word immers in die wyn en jenewer gebruik.

Hier kan jy nie verkeerd gaan met die proe van malbec en chardonnay nie, want albei is heerlik.Hulle het verskillende proe-opsies, soos die Limietberg Exclusives (R150) wat die Bloedklip Malbec, Riviersteen Chenin Blanc en Môrestond Chardonnay insluit.

Alle wyne in die proe word gemaak van wingerd in die Limietberg-wyk.

’n Gewone proe kos R50 vir vyf wyne.

Probeer ook hul Malbec Gin & Tonic (R30) – ’n moet probeer.

Doolhof is heelweek oop. Jou kontak: 021 864 2805

Doen jou deel vir renosterbewaring deur wyn by Linton Park te koop.

Besoek ook hierdie kelders

Propvol geskiedenis

Wynmaak is ’n familietradisie by Mont du  Toit. Hul voorsaat, ’n Franse Hugenoot, het die plaas in 1691 gevestig en lede van die familie boer al meer as 300 jaar met wingerd.

Dié plaas se 28 ha wingerd lê aan die voet van die Hawequaberg en bestaan uit slegs rooi druifsoorte.

Die wyne wat gemaak word, sluit in tinta barocca, petit verdot, shiraz, cabernet sauvignon en meer.

Wynproeë word slegs per afspraak aangebied. Jou kontak: kathleen@montdutoit.co.za of 021 873 7745


Wellington se Duke

Jy kan beslis nie hierdie dorp besoek sonder om by Wellington Wines aan te gaan nie.

Nie net huisves hulle ou bekendes nie, maar ook interessante wyne soos ’n wit pinotage genaamd die Duke.

Wees ook op die uitkyk vir die markie wat hulle gereeld aanbied.

Hulle is Dinsdae tot Saterdae oop.  Jou kontak: 021 873 1582

Doolhof is heelweek oop. Jou kontak: 021 864 2805

  • Meer oor:  Wellington
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.