Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Wie werk so hard tussen die pragtige blomme?

Elke jaar verkyk jy jou aan die blommeprag van die natuur en verwonder jy jou aan allerhande insekte en diertjies wat heen en weer van plant tot plant haas. Belinda Jackson het meer gaan uitvind oor hul werksaamhede.

’n Langtongvlieg pyl af op sy blomteiken met sy lang tong reeds uit. Hierdie insek is een van die belangrikste bestuiwers. Foto: SANBI

Het jy geweet elke plantspesie in ons blommeryk is aangepas om deur ’n spesifieke insek bestuif te word, en elke insek is aangepas om ’n spesifieke plantsoort te bestuif? Dis maar net een van die geheime wat jy dalk mag ontdek met jou besoek aan die Hantam Botaniese Tuine in Nieuwoudtville, een van die jongste botaniese tuine van die Suid-Afrikaanse Nasionale Botaniese Instituut (Sanbi).

Weens die hoë voorkoms van interessante blomspesies in hierdie botaniese tuin, is dit die ideale plek om die blomseisoen se hardste werkertjies na hartelus en sonder stoornis te aanskou. Daar sien jy hoe verskeie spesies bye, vlieë, kewers, motte, voëls en knaagdiere agter die soet nektar aan rondskarrel, wat verleidelik in plante vir hulle sit en wag, om noodsaaklike stuifmeel bymekaar uit te bring en sodoende bevrugting en voortbestaan van die onderskeie plantspesies te verseker. Die kurator, Eugene Marinus, het meer vertel van een van hierdie harde werkeseltjies.

Hier korrel die langtongvlieg vir die nektarbuis van die perskussinkie, gelei deur die blom se nektargids. Foto: SANBI
Dis ’n kolskoot en langtong is in! Foto’s: FLORIAN KAROLYI

Die “langtongvlieg”

Hierdie insek - informeel só genoem vanweë sy uiters lang tong waarmee hy nektar uitsuig - is ’n spesialisbestuiwer, een van die belangrikste bestuiwers wat sodanig aangepas is om spesifiek blomspesies met lang pypies te bestuif.

Die langtongvlieg se tong kan nie sommer enige blomspesie bestuif nie omdat sy tong te lank mag wees vir die nektarhouertjie van die blom. Hy soek dus spesifieke plante wat se voorkoms pas by sy lang tong en wat perfek geskik is om sy tong te ontvang en te ondersteun vir die belangrike taak van bestuiwing en die voortbestaan van onderskeie blomspesies, sê Marinus.

“Die langtongvlieg se blommaters is onder meer die bobbejaantjie (Babiana villosa) en perskussinkies (Lapeirousia oreogena),” voeg hy by.

Maar hoe weet die langtongvlieg waar om sy langbuisblom te vind? Dr. Jonathan Colville, entomoloog en navorser van Sanbi wat al vyf jaar navorsing doen oor bestuiwers en spesifiek die langtongvlieg, vertel: “Die langtongvlieg word aangetrek deur die blom se kleur. Elke blom het ’n nektargids op sy blaartjies (Eugene sê dis soos ’n heliblad vir ’n helikopter). Dit is die wit patroontjie met pyltjies op die blomblaartjies wat middel toe wys: Die opening van die nektarbuis. Sodra die langtongvlieg sy blom gevind het, mik hy vir die nektargidsopening om sy dun, lang tong perfek in die nektarbuis af te steek terwyl sy kop aan die stuifmeeldrade raak, met stuifmeel wat terselfdertyd aan sy kop vaskleef. Sodra die vlieg by ’n ander blom kom, sit dié blom se stuifmeel weer aan ’n ander deel van die kop, neus of rug vas sodat die verskillende bestuiwings nie aan mekaar raak en die blomspesie besmet nie.” Dit is die geval met elke blomspesie wat die langtongvlieg bestuif, sê Colville.

Dis ’n kolskoot en langtong is in! Foto’s: FLORIAN KAROLYI

Nou wil jy meer? Die langtongvlieg se liggaam het ’n eiesoortige plekkie vir elkeen van sy blommeliefies se stuifmeel!

Dié besonderse vlieg het nog nie sy amptelike naam nie.

  • Vir meer inligting en vordering oor die beskrywing van hierdie hardwerkende bestuiwertjie, stuur gerus e-pos aan Colville na j.colville@sanbi.org.za.
Die voorkop raak aan die stuifmeel wat aan spesiale plekke op die langtongvlieg se liggaam kleef.
Die patroontjie wit pyltjies op die blomblare wat na die binnekant toe wys, is die gids wat die langtongvlieg na die nektarbuis lei. Foto: SANBI
Meer oor:  Insekte  |  Blomme Bylaag  |  Blomseisoen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.