Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Wild en wakker in Parys: genoeg gekluisenaar

Gaan roei op die Vaalrivier.
Saam met die minister  van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het Kelly Minnie gaan kyk  wat toeriste in Parys se omgewing kan doen.

Ek’s nou nie juis die tipe wat kanse waag en gewoonlik aan ’n tou teen ’n krans sal afseil nie, maar 2020 het my nou genoeg kluisenaar gehou, ek gaan dit waag.

Só besluit ek twee naweke gelede toe ons minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, my en ’n paar ander joernaliste nooi om saam met haar weg te breek na die Vaalrivier langs Parys in die Vrystaat.

Ek vertrou die harnas. Vat klein treetjies. Eintlik is dit nie so erg nie.

Maar dan is daar ’n klapgeluid. Ek gryp uit vrees aan die toue vas.

My eerste gedagte is dat dit die einde is. Ek roep na Bennie, die instrukteur. Hy’s gou langs my en hou sy hand uit.

45 m hoog, net voor ’n mens begin abseil.

Ek begin fluistergebede opsê. Ek is duidelik nie meer in beheer nie.

Duisende vrae vul my gedagtes. Hoe lank kan ek vasklou? Gaan ek ’n paar bene breek as ek val? Gaan ek ooit weer my ouers sien?

Duisende vrae vul my gedagtes. Hoe lank kan ek vasklou? Gaan ek ’n paar bene breek as ek val? Gaan ek ooit weer my ouers sien?

Bennie is meer in beheer, hy hou my stewig vas. Dit moet bonatuurlike krag verg, want niks anders kan verduidelik hoe hierdie skraal man my lockdown-lyfie, wat vir maande lank meer soetgoed as squats gekry het, gehou kry nie.

Bennie sit my in ’n nuwe harnas en nou’s ek weer in beheer. Toe my voete die grond tref, val ek dadelik op my knieë en die gebede is nou harder as ooit en vol dankbaarheid.

Verligte trane wat eintlik nog heeltyd vlak lê, breek los.

Dis verby, ek leef.

Begin doer bo en abseil 45 m af ondertoe.

Dalk moet ek maar liewer hou daarby om nie eintlik kanse te waag en aan toue by kranse af te seil nie . . .

Daar’s darem ook heelwat veiliger aktiwiteite om in en om Parys te doen.

Wat ek sien, is ek werklik tevrede mee. Ek wil alle Suid-Afrikaners motiveer om in ons mooi land te gaan reis.

Die minister is juis hier om toe te sien dat almal hou by die regulasies wat vasgestel is toe binnelandse reise weer op vlak 2 toegelaat is.

“Wat ek sien, is ek werklik tevrede mee. Ek wil alle Suid-Afrikaners motiveer om in ons mooi land te gaan reis,” sê Kubayi-Ngubane.

Gaan kyk wild op ’n vierwielmotorfiets. Foto’s: Kelly Minnie

Sy het self ook op ’n vierwielmotorfiets geklim, op die Vaalrivier geroei en ’n paar hotelle besoek om hul gereedheid te toets.

So wil Kubayi-Ngubane seker maak dat die reiservaring vir elke Suid-Afrikaner veilig sal wees.

Volgens haar smag die mense van Suid-Afrika na ’n bekostigbare wegbreek ná die inperking en stres wat die pandemie veroorsaak het, en ek stem saam!

Geniet ’n avontuurlike rit op ’n waterponie.

Op ’n mediakonferensie die week ná ons wegbreek vir die bekendstelling van toerismemaand in September, het sy gesê: “Ek was self weg oor die naweek en dit het my só goed gedoen! Dit was baie terapeuties om weer in die natuur te wees.

“Ek dink dis noodsaaklik vir ons mense om dit ook te ervaar.”

So, as jy gereed is om al die avonture wat jy tydens inperking misgeloop het in te haal kan jy gerus Parys toe gaan. Dis veral lekker naby die Goudstad.

Gaan roei op die Vaalrivier.

Parys is ’n klein dorpie op die oewer van die Vaalrivier in die Vrystaat, omtrent ’n uur se ry uit die middestad van Johannesburg.

Daar is genoeg om te doen vir die hele gesin. Alles van staproetes, ritte op vierwielmotorfietse tot roei op die Vaalrivier en abseil.

Dinge om te doen

Aktiwiteit: Vryval by Skydive Parys.

Die uitsig teen sowat 200 km per uur tydens die vryval is in die hartjie van die Vredefortkoepel. Wanneer jy land ná die sprong is jy reg langs die Vaalrivier.

Koste: R2 200 per persoon.

Bespreek by: www.skydiveparys.co.za.

Aktiwiteit: Wateraktiwiteite by Real Adventures.

Van net langs die rivier land na op die rivier sweef of vaar. Die rivieraktiwiteite is iets wat die hele gesin kan geniet of dit kan deel vorm van ’n romantiese naweek met ’n bottel sjampanje as deel van die pakket.

Koste: Die Family River Cruise kos R250 per persoon (kinders onder vyf betaal R150).

Nature Paddle in ’n bootjie vir twee mense, perfek vir kinders onder sewe teen R250 per persoon.

’n Romantiese rit op die Vaalrivier, amper nes jy in Venesië sou ervaar, kos R300 per persoon (bottel vonkelwyn ingesluit).

Halfdag roei: R250 per persoon (’n bottel water ingesluit).

Voldag roei: R500 per persoon (water, koeldrank en middagete ingesluit).

Bespreek by: www.realadven­tures.co.za.

Aktiwiteit: Vierwielmotorfietsry by REAL Adventures.

Op ’n Sondagmiddag net voordat jy die naweek afsluit, kan jy en jou gesin op ’n vierwielmotorfiets gaan wild kyk.

Koste: R500 per persoon vir ’n uurlange rit.

Bespreek by: www.realadventures.co.za.

Aktiwiteit: Verfbal, oorlogspel en teikenskiet.

As die inperking jou frustrasievlakke die hoogte in laat skiet het, raak ontslae van die opgekropte spanning op ’n prettige manier. Nooi jou vriende saam en gaan skiet ’n paar verfkoeëls op mekaar of mik na teikens.

Koste: Kleiteikenskiet met laser: R300 per persoon.

Verfbal-oorlogspel: R250 per persoon (120 balle per speler vir drie rondes, 40 balle per ronde).

Teikenskiet met verf- en boogskiet-pakket: R250 per persoon.

Bespreek by: www.realadventures.co.za.

Aktiwiteit: Abseil.

As jy meer aan die waaghalsige kant is, kan jy gaan abseil.

Koste: R350 per persoon (koeldrank ingesluit).

Bespreek by: www.realadventures.co.za.

Waar om te eet

*Plek: De Vette Mossel Parys

Die spyskaart bestaan uit nege gange van 16 disse wat ná mekaar voorgesit word. Van alles (kreef en heel garnale kos ekstra) kan jy soveel eet as wat jy wil – of kan! Feitlik al die disse word net daar voor jou op oop vure voorberei, dit waarborg van-die-rooster-af-vars seekos. Moenie handgesnyde kristalglase of silwer eetware verwag nie, hier is jy op die “strand” en dinge word gedoen asof jy langs die Weskus sit. Eet sommer met ’n mosselskulp.

Maak seker jy bespreek vroegtydig.

*Plek: O’s Restaurant

O’s op die Vaalrivier bied ’n verskeidenheid disse op die spyskaart. Dis die tipe plek waar jy die perfekte romantiese wegbreekdag kan afsluit met aandete.

Meer oor:  Parys  |  Vaalrivier  |  Toeriste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.