Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Winskopie of Thai toffie?
Langstertbote dobber in die water by Krabi. Foto’s: iStock

Thailand is ’n liefling onder Suid-Afrikaanse reisigers. In 2018 het 102 000 Suid-Afrikaners die land besoek. Dit is geen wonder nie, want Thailand bied uitstekende waarde vir geld vir platsak-Suid-Afrikaners.

Daar is pakkette so laag soos R10 000, wat jou vlugte en verblyf insluit. As dit egter jou eerste keer in die Ooste is, sal ’n bietjie navorsing sorg dat jy die beste waarde uit jou pakket put.

Voor jy bespreek

Kies jou reistyd versigtig 

Patong se naglewe kan oorweldigend wees.

Die meeste van die spotgoedkoop pakkettoere na Phuket val oor die moeson- of reëntyd, tussen Mei en Oktober. Daar is voor- en nadele om in dié tydperk te reis. Dit is goedkoper en stiller, maar as jy slegte weer tref, kan dit dae aaneen reën. As jy jou reggemaak het om die hele vakansie op die strand deur te bring, kan dit ’n demper op jou planne plaas. 

As jy wil duik en snorkel, beplan jou vakansie vir tussen Januarie en Maart – al betaal jy ’n rapsie meer – want dan is die see helderder. 

Tydens die moesontyd kan die see ook onstuimig raak, wat daguitstappies na die nabygeleë eilande moeilik maak.

Maar: Sou jy wel tydens die moesontyd reis, bespreek jou vakansie in April, wanneer dit nog nie so baie reën nie, of Junie, wanneer die dae gewoonlik sonnig is. April is wel die warmste maand op die eiland, met temperature wat tussen 30 °C en 36 °C draai.

September en Oktober is die natste maande, met ’n gemiddelde reënval van tussen 300 en 400 mm per maand. (Bygesê, ek het in 2015 ’n week lank in September die suide van Thailand besoek en slegs een dag gure weer ervaar.) 

Ligging! Ligging! Ligging! 

Dis alles goed en wel om onder R10 000 vir jou Phuket-pakket te betaal, maar met reisverblyf geld eiendomsagente se mantra ook: Ligging! Ligging! Ligging! 

Voordat jy jou pakket bespreek, soek eers jou hotel op Google Maps, sodat kan jy sien presies waar jy bly.

Baie van die goedkoop pakkette se hotelle is by die Patong-strand geleë, wat afhangende van jou ouderdom en energievlakke ’n buurt met ’n opwindende naglewe is – of ’n psigedeliese Sodom en Gomorra in neon. 

Voordat jy jou pakket bespreek, soek eers jou hotel op Google Maps, sodat kan jy sien presies waar jy bly.

Patong is Phuket se partytjiestad; dit is ook hier waar jy die berugte piengpong-klubs sal vind. Sekstoerisme gedy en in die aande is die strate vol dronk toeriste, dikwels grillerige ou mans met ’n jong Thaise meisie aan die arm.

“Ons het by die Patong-strand gebly, maar ek het dit te besig gevind,” sê Jana Marx, ’n Netwerk24-joernalis wat Phuket in 2017 besoek het. 

“Volgende keer sal ek ’n ander strand of selfs Krabi oorweeg.”

Baie van die hotelle is ook ’n entjie van die strand af. Die Deevana Patong Resort & Spa in Patong (wat deel vorm van talle pakkettoere) word op ’n bekende reisagent se webwerf bemark met prentjies van turkoois water en wit strande. As jy dit egter op Google Maps soek, sien jy dit is sowat ’n kilometer of 15 minute se stap van die strand af – wat in temperature van by die 35 °C en teen 80% humiditeit nogal ’n entjie kan wees. 

As jou joldae verby is, kyk liewers vir hotelle of oorde by Kata, Karon, Kamala of Surin, of oorweeg Khao Lak, ’n stranddorp met ’n meer bedeesde atmosfeer, sowat een uur noord van Phuket.

Kies ’n pakket met meer as een bestemming 

Jy bestee ’n klomp geld en tyd op ’n vliegtuig om halfpad om die wêreld te vlieg. Maak dit die moeite werd en probeer om ’n verskeidenheid bestemmings by jou reisplan in te sluit. Vir so min soos R2 000 ekstra (vlugte ingesluit) kan jy ’n paar dae in Bangkok by jou reisplan inwerk. Die eilandhop-pakkette, waar jy verskillende strandbestemmings soos Krabi, Phuket en die Phi Phi-eilande besoek, bied ook waarde vir geld en laat jou meer van die land sien.

Wanneer jy daguitstappies bespreek, moenie dit voor die tyd op die internet of by jou hotel doen nie – hulle sit gewoonlik ’n surplus op enige besprekings. Vaar die strate in en knibbel met die verskillende toeroperateurs. 

As jy kan, bespreek al jou aktiwiteite by een maatskappy; so kan jy gewoonlik ook afslag beding, veral wanneer jy verskeie uitstappies bespreek.

Reisskrywer se keuse

Karon, een van Phuket se langste strande, is rustiger as Patong.

Pentravel het tans ’n spesiale aanbod waar jy vanaf R10 902 per persoon wat deel na Phuket kan reis. 

Die pakket sluit in: 

* Agt nagte by die vierster- Horizon Karon-strandoord by die Karon-strand in ’n luukse kamer wat oor die swembad uitkyk. 

* Ontbyt en aandete. 

* Vlugte, plus belasting, vanuit Johannesburg. 

Die pakket is geldig tussen 5 Junie en 14 Junie 2019. Skakel 087 094 0011 of stuur e-pos na lisa.cloete@pentravel.co.za met ID #2180 in die onderwerpveld. Bepalings en voorwaardes geld.

Hoewel Junie in die reënseisoen val, is die dae gewoonlik sonnig, en reënbuie sak in die laatmiddag en aand uit.

Waarom ek die pakket voorstel: 

* Die hotel is stapafstand (sowat 300 m) van die Karon-strand, maar as jy lui is, is daar ook ’n komplimentêre pendeltrokkie wat gaste tussen die strand en hotel vervoer. 

* Karon is een van Phuket se mooiste en langste strande. Dit is nie so besig soos Patong nie, maar Luang Poh Chuan-weg, sowat ’n kilometer van die hotel af, het genoeg restaurante en kroeë vir reisigers wat ’n opwindende naglewe sonder te veel smet soek. 

* Hoewel Junie in die reënseisoen val, is die dae gewoonlik sonnig, en reënbuie sak in die laatmiddag en aand uit. 

* TripAdvisor-gebruikers gee dit 4½ sterre. Die Horizon Karon-strandoord het ook ’n TripAdvisor-sertifikaat van uitmuntendheid. Mense was veral beïndruk deur die groot, ruim kamers en vriendelike personeel. 

Jy kan die hotel self gaan beloer by www.horizonbeach.com. 

Tydens jou vakansie

’n Nagmark by Phuket Town se historiese buurt.

Dinge om te vermy: 

Tier-interaksies en olifantritte 

Daar is talle “oerwoudavontuur”-uitstappies en toere wat olifantritte en vertonings en tierwelpie-interaksies insluit. Vermy dié operateurs ten alle koste. Daar is geen “etiese” manier om op ’n olifant te ry nie, die diere word gewoonlik van kleins af mishandel om hul gees te breek en hulle onderdanig aan mense te maak. 

Tiere en tierwelpies by “diereskuilings” word bedwelm en die tierbedryf in Thailand werk op ’n soortgelyke manier as Suid-Afrika se geblikte leeubedryf: Dit is ’n front vir handel in tierliggaamsdele. Sodra die tierwelpie te groot word om mee te speel, word hy van kant gemaak en sy bene, organe en vel op die swartmark verkoop.

Van nuuskierigheid is die tronke vol?.?.?. 

Nuuskierigheid kry dikwels die oorhand by baie reisigers, wat net “gou wil kyk wat by ’n sogenaamde Go Go-kroeg of piengpong-klub” aangaan. Daar bestaan egter nie iets soos net “gou inloer nie”. 

Hoewel baie van die klubs en kroeë nie toegangsgeld vra nie, word daar van kliënte verwag om (baie duur) drankies vir die kroegmeisies en gesellinne te koop en vet fooitjies ná die vertonings te los. Baie van die meisies vryskut ook as sakkerollers. Hou verby.

Vermy kitsbanke 

Dit is beter om geld in Suid-Afrika om te ruil of om met jou debietkaart te betaal. By straatmarkte is kontant egter koning, maar moenie by kitsbanke geld trek nie, hulle slaan jou met ’n stywe diensgeld.

“Ek het ’n diensfooi van 220 baht (sowat R100) by ’n kitsbank betaal om 1 000 baht (sowat R450) te trek,” sê Jana Marx, ’n Netwerk24-joernalis wat Phuket in 2017 besoek het.

Thais is sagmoedige siele en dit is vir hulle ongelooflik vernederend as iemand sy humeur verloor.

Thaise kultuur en etiket: 

Bly koel en kalm 

Die Thais sê “jy verloor aansien.” 

“Dit is wanneer jy jou humeur in die openbaar verloor en op iemand skree om hom doelbewus te verneder. Vir Thais is dit ’n groot sosiale taboe,” sê Florian Hallermann, bestuurder by die Zeavola-strandoord op die Ko Phi Phi Don-eiland.

“Thais is sagmoedige siele en dit is vir hulle ongelooflik vernederend as iemand sy humeur verloor. Wanneer jy op Thais skree, glimlag hulle gewoonlik, wat volgens die Thai-kultuur ’n manier is om jou vernedering met waardigheid af te wys.

“Westerlinge interpreteer dit egter as ’n traak-my-nie-houding, wat hulle nog kwater maak. As jy wil kla oor swak diens, neem dit vriendelik maar ferm met die bestuurder op. Daar sal gewoonlik moeite gedoen word om jou klagte op te los.” 

Hou kop 

“Thais heg groot waarde aan verskillende liggaamsdele. Die kop word gesien as die geestelike kruin van ’n mens se liggaam. Om ’n oulike kleuter op straat se koppie te streel, sal sy ouers groot aanstoot gee.

“Voete word weer beskou as onrein. Moenie jou voete op banke in openbare areas sit nie en moet nooit jou voetsole na ’n Boeddha-beeld draai nie,” sê Hallermann. 

Moenie in die openbaar vry nie 

Ondanks die sekstoerismebedryf wat gedy, bly Thais steeds baie konserwatief. “Vermy oordrewe liefkosings in die publiek. Bostukloos sonbaai en swem is ’n groot ‘nee’ en sal Thais ongemaklik laat voel,” waarsku hy.

’n Besige Patongse straat in die dag.

Nog wenke vir reisigers 

* Klere is heel bekostigbaar in Thailand. Pak net jou basiese benodigdhede en koop die res daar, is Marx se raad. 

* As jy ’n sensitiewe maag het, pasop vir straatkos, maar moenie bang wees vir plaaslike disse en lekkernye nie. Thaise kos is een van die groot redes waarom ’n mens dit kan oorweeg om hierheen te reis. Smul aan vars vis en seekos wat in kruie toegedraai en oor die vuur gebraai word, asook ryk, geurige Thaise kerries.  

* Vra jou hotel se personeel vir aanbevelings, hulle sal weet watter restaurante is geskik vir delikate Westerse palette (en magies). 

Thaise kos is een van die lekkerste gedeeltes van ’n reis na Phuket.

* Pêrels is besonder goedkoop in Thailand, maar doen jou huiswerk en loop lig vir vriendelike mense wat jou na “fabriekswinkels met uitverkopings” wil neem. Dis waarskynlik ’n slenter. 

* Drank is duur, veral wyn. Trek jou wyntande, of bring ’n bottel of twee van die belastingvrye winkel by die lughawe saam.  

Koop jou bier en koeldrank by die supermarkte; die Thaise hotelle is baie meer ontspanne oor verversings wat van buite gebring word, veral die goedkoper hotelle. Moet dit net nie by openbare areas soos die swembad en restaurant drink nie. 

* As jy gemaklik is op ’n motorfiets of bromponie, is dit beter waarde vir geld om een vir ’n dag te huur en die eiland te verken. Dit kos sowat 250 baht (sowat R110). “Om dit in perspektief te plaas: ’n Tuk-tuk-rit van 10 km kos aansienlik meer as 250 baht,” sê Marx. 

Carla Lewis

Meer oor:  Carla Lewis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.