Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Winter in Holland is ’n ysbreker

Prentjies van Nederland beeld gewoonlik plate vol tulpe in die sonlig en skraps geklede fietsers (Nederlands vir fietsryers) uit, maar Herman Scholtz skryf dis eintlik selfs beter om Amsterdam in die winter te besoek.

Kersliggies in Amsterdam. Foto: getty images

Amsterdam bars uit sy nate – soveel dat die stad mense aanmoedig om elders te gaan bly om plek te maak vir die volgende toeristebus.

Daarby is Amsterdam so min Hollands soos die Kaap. Dit is eerder ’n kakofonie van buitelanders wat ’n nuwe tuiste gaan soek het, wavragte toeriste en ’n paar Hollanders wat Amsterdam toe pendel omdat hulle nie die stadskern kan bekostig nie.

Dié insigte kom ná twee maande se verblyf in ’n grou, koue Amsterdam – die tyd dat min toeriste hul tasse pak vir Nederland. Want kom ons wees eerlik, met dié dat daar jare laas behoorlike sneeu voor Kersfees was, is daar nie eens die idilliese prentjie van ’n wit Kersfees nie.

Hier is die redes waarom jy gerus stroomop kan swem:

  • Sinterklaas en Zwarte Piet
Sinterklaas se intog in Amsterdam. Dit begin op die rivier en eindig in die strate. Foto: Getty Images

Kersfees is ’n marathon in Nederland. Dit begin al in November met opwinding oor Sinterklaas en Zwarte Piet wat kom om presente uit te deel op 5 Desember, Sint-Nicolaasdag. Daar is ’n bekoring om met “pepernote”, klein koekies wat aan gemmerkoekies herinner, gegooi te word. Dit is waarskynlik die glimlagte op kinders se rooi gesigte (’n gebrek aan suurstof) of om te sien hoe die volwassenes soos Zwarte Piet (of “Skoorsteen Piet”, die polities korrekte weergawe), aantrek.

Elke straat en grag word versier met duisende liggies en mense drom saam voor die reusagtige Kersboom voor die Koninklike Paleis op Damplein om net saam gelukkig te wees.

  • Keukenhof is nie alles nie

Tulpe sal altyd ’n ikoniese deel van Nederland wees, maar Keukenhof is net sowat twee maande lank elke somer oop vir die publiek. Daar is oorgenoeg tulpe in die blommemark en Tulpmuseum om ’n mens te bekoor. Boonop is die tulpbolle spotgoedkoop in November en Desember omdat die Noordelike Halfrond se plantseisoen verby is.

Nederland se bekoring is ook in hul museums (die meeste is geweldig kindervriendelik), teaters en bruinkafees (moenie dit verwar met ’n coffeeshop nie) wat bevlek is met nikotien van toe rook nog wettig was.

  • Die koue skrik niemand af nie
Die Foodhallen in ’n stil buurt van Amsterdam waar jy die beste kos en kuiers sal raakloop. Foto: Herman Scholtz

Een aand laat November was daar ’n produksie van Antjie Krog se gedigte in die piepklein Rode Bioscoop in Amsterdam. ’n Tannie van 96 het opgedaag met haar fiets. Toe ek haar vra hoe sy fietsry in die koue, was haar antwoord eenvoudig: “Hoe sal ek nou anders hier kom? Dis nie die eerste winter dat ek fietsry nie.” As sy dit kan doen, kan ons ook.

  • Dis nie ’n vertrapping nie

Die konsentrasie Nederlanders in die stede neem drasties toe in die wintermaande. Die toeriste is weg, en wat oorbly is ’n minder verdunde Nederlandse atmos­feer. Hotelle is leër en goedkoper, mense is vriendeliker en die toue korter by die museums.

As jy Amsterdam in die winter besoek, sit dié minder bekendes op jou lysie:

  • Die Foodhallen

Daar is ’n poffertje-stalletjie buite die saal, maar maak jou reg vir regte fynproewerskos, die beste bier (jammer, Suid-Afrika) en die interessantste nageregte.

Besoek www.foodhallen.nl.

  • Muiderslot vir ­jonges van gees

Die Muiden-kasteel is 1280 gebou en sal ’n Disney-sprokie laat bloos. Daar is uurlikse toere met ’n fassinerende insig in hoe Nederlandse kultuur ontwikkel het.

Besoek www.muiderslot.nl.

  • Ys op die IJssel

Omarm die winter deur in die reuse-vrieskas met indrukwekkende standbeelde te stap. Kunstenaars van oor die wêreld heen wys elke jaar hul werk vir die IJsbeelden Festival langs die IJsselrivier. Honderde ton ysblokke word aangery en weke lank in koue temperature bewaar.

Besoek www.ijsbeelden.nl.

  • Kry ’n kultuurinspuiting

Die Anne Frank-huis, Van Gogh-museum, Rijksmuseum en Vondelpark is immergewilde bestemmings, maar Amsterdam bied veel meer. Die Micropia-museum is ’n bisarre museum vir mikro-organismes waar jy jou kan besig hou met komplekse mikrobiologie wat toeganklik en interaktief gemaak is. Die Amsterdam-dieretuin is die tuiste van die gorilla Sindy en haar baba wat in Januarie 2016 gebore is. Die meeste van dié besienswaardighede is ingesluit in die I amsterdam-besoekerskaart (vanaf €57 - sowat R780) wat ook gerieflik al jou openbare vervoer in Amsterdam insluit.

Besoek www.iamsterdam.com.

  • Herman was vir twee maande in residensie by Zuid-Afrikahuis op Keizersgracht. Hy het ’n gratis I amsterdam-kaart van ­Amsterdamtoerisme gebruik.
Meer oor:  Nederland  |  Rondrits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.