Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Wonder van ’n bergpad

Die Swartbergpas in die verte is minstens een keer per jaar gesluit weens gure weer. Hier’s die berg toe onder die sneeu.
As jy werklik ons land van kop tot toon wil verken, doen dit bergpas vir bergpas, skryf Heleen Coertze.

Rooibergpas, tussen Van Wyksdorp en Calitzdorp, Wes-Kaap

In die wintertyd word die “kerse aangesteek” al langs hierdie pas, sê die mense hier. Dan blom die aalwyne mildelik in vurige oranje en dieprooi.

Die pas lê in die Rooiberg-bewarea, ’n 60 000 ha- bergagtige streek wat deel is van die groter Gouritz- biodiverse kronkeling (meander), waar jy ná byna elke 10 km ander soorte plantegroei sien. Dis juis daar, op een van slegs 35 biodiverse kernpunte ter wêreld, waar drie biome mekaar “ontmoet”.

Jy sien op die roete hoe sanderige grond en kusagtige fynbos geleidelik verander na die kleierige grond van die renosterveld, dan na bergfynbos en uiteindelik na tipiese Karoo-vetplante. Stilhou-plek op die roete is min, maar die afgesonderdheid, ver uitsigte en soet reuke van die plakkies, pypie-agtige erikas en spekbome laat jou ver en verwyderd van die beskawing voel.

Die pad soos hy deesdae daar uitsien is tydens die Depressiejare gebou. Dis heelwat beter as die eerste “ossewapad”, waaroor kommandant Gideon Scheepers in September 1901 tydens die Anglo-Boereoorlog geskryf het.

Swartbergpas, tussen Oudtshoorn en Prins Albert, Wes-Kaap

Voordat dié pas gebou is, was die roetes deur Meiringspoort en die Seweweekspoort die enigste manier om die afgesonderde dorpies van die Karoo van die hawedorp Mosselbaai te bereik. In 1880 het Thomas Bain sy hoofplan vir die voorgenome pas soos volg aan die destydse hoof van openbare werke voorgelê: “The crossing over the Zwartberg Range where the new road is projected, is in direct line from Oudshoorn to the village of Prince Albert. In every way it is the correct position of an outlet to suit the entire division, but it has its drawbacks from an engineering point of view – unavoidably steep gradients.” (Oudshoorn Courant, 3 September 1879: Vol. 1, no. 15)

Ten spyte van die uitdagings is konstruksie in 1881 deur John Tassie en ’n honderd Mosambiekers begin, maar ná 13 maande het hy en sy span net 6 km oor hierdie uitdagende terrein gevorder.

Bain, só toon die geskiedenis, het in November 1883 die werk aan die pas met net meer as 200 gevangenes hervat.

Wanneer jy vandag met dié gruispad ry, is dit ondenkbaar om te dink dat pikke, grawe, kruiwaens, voorhamers en buskruit die basiese gereedskap was waarmee die pad gebou is. Tamaai rotse is gebreek deur hulle met vuur te verhit en dan met water af te koel.

Die beproefde stapelmuur- (dry wall) metode is vir die keermure gebruik wat die pad teen die steil hange moes anker. Volgens oorlewering is daar ’n skooltjie, winkeltjie en slaghuis op die berg tydens die bouery opgerig en ene Johanna Herbert, ’n weduwee, was die onderwyseres. Die oorblyfsels van die gevangenes se blyplek van steen en klei kan steeds daar gesien word.

Naamborde soos Eerstewater, Tronk, Ou Tolhuis en Skelmdraai dien as herinnering van die fassinerende verhaal van die Swartbergpas.

Die pad is steeds uniek en uitdagend; elke winter word dit minstens vir ’n dag of drie gesluit vanweë gure weersomstandighede.

Naudésnekpas, van Maclear of Mount Fletcher oor die Drakensberg tot by Rhodes, Oos-Kaap

Op dié lang, skilderagtige kronkelroete kruis die platorand naby aan waar die Drakensberg, Witteberg en die Malutiberg mekaar ontmoet.

Teen 2 596 m hou die pas die rekord as een van die hoogste wat in sy geheel binne die grense van Suid-Afrika val.

Van die afdraaipad na onder is dit slegs 31 km na Rhodes, maar jy moet jou sit en jou ry ken, want daar is ’n paar skerp draaie soos die pad die kurwe van die Bellrivier volg.

In teenstelling met die Swartbergpas is dié pad nie deur ’n gekwalifiseerde ingenieur beplan nie, maar deur twee stoere boere, die dapper Naudé-broers.

Stephanus David en Gabriel het in hul poging om ’n pad oor die Drakensbergplatorand te kry glo in 1896 op hul ryperde staatgemaak om die beste roete te bepaal wat uiteindelik met pikke, grawe en skotskarre gebou en teen 1911 voltooi is.

Dié baanbrekers se werk word deur ’n familiemonument onder skaduryke bome aan die westelike basis van die roete herdenk.

Stephanus se nasate woon vandag steeds op die plaas Dunley, aan die westelike einde van die pas.

Die bouvalle van die tronk waarin die gevangenes gebly het wat die Wildeperdehoekpas in die Namakwa Nasionale Park gebou het.
Die uitsig van die Wildeperdehoekpas in die Namakwa Nasionale Park.
Wildeperdehoekpas, Namakwa Nasionale Park, Noord-Kaap

Vir 4,8 km draai en swaai die pad op hierdie indrukwekkende stukkie pak-en-bouwerk, wat in 1867 deur die padingenieur Patrick Fletcher en ’n groep gevangenes begin is. Die pas is deel van die Rooikat-ekoroete, wat ook oor die Messelpadpas loop.

Bo, by die uitkykpunt, kyk mens uit oor grasvlaktes wat weswaarts voor jou uitstrek.

Die klipbouvalle van die tronk, ’n entjie verder af in die Buffelsriviervallei, herinner mens aan die gevangenes wat per skip van Kaapstad na Hondeklipbaai gebring is.

Meer oor:  Bergpasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.