Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Wys jou gaste dít in Gauteng

Vraag:

Twee Nederlandse vriende besoek ons in Februarie. Dis die eerste keer dat ons oorsese gaste ontvang. Hulle is slegs drie dae in Gauteng voordat hulle Kaap toe gaan en ek wil die beste voetjie voorsit. Wat stel jy voor moet ek hulle wys? Die een is versot op plante en diere. – D.G. van Wijk, Rosebank

Antwoord:

  • Die volgende is ’n vertroude lys van plekke in Gauteng waarop buitelandse besoekers gewoonlik goed reageer. Die Neighbourgoods Market bied ’n magdom goeie kosstalletjies, maar dit bied die ekstra bonus dat dit in die Johannesburgse middestad is – iets wat oorsese besoekers gewoonlik baie geniet om te ervaar. Jy was waarskynlik ook lanklaas in dié geweste. Jou gaste sal verstom wees oor hoe Derde Wêreld en Eerste Wêreld mekaar flink afwissel. Die Neighbourgoods Market by Jutastraat 73 is Saterdae van 09:00 tot 15:00 oop. Daar is baie karwagte en ons het nog nooit onveilig gevoel nie.) Gaan drink laatmiddag ’n skemerkelkie by die Four Seasons Westcliff-hotel en bewonder die boomryke Goudstad voordat die son gaan slaap. ) Die Westcliff is oorkant die Johannesburgse Dieretuin. Die Nederlander wat van diere hou, behoort sin hierin te hê, D.G.) En vir jul vriend wat van plante hou, is die Walter Sisulu- Botaniese Tuin in Roodepoort ’n moet.

  • Stop onderweg na die botaniese tuin by die groot Lifestyle Home Garden. Ons gaste se monde hang altyd oop as ons hier ’n draai maak, omdat daar in Anderland selde sulke groot kwekerye is.) Wat hulle gewoonlik ewe veel beïndruk, is die Voortrekkermonument in Pretoria. Met goeie rede, want dit bly groots. Maak ook ’n draai by die inligtingsentrum/boekwinkel. Hier is ’n uitstalling wat Suid-Afrika se geskiedenis goed toelig. ) Die ander gebou in Pretoria waar ’n mens uiteraard ’n draai moet maak, is die Uniegebou van waar jy ook ’n praguitsig oor dié stad het. Stap af tot by die Man­dela-beeld waar toeriste graag hul selfone uithaal om foto’s te neem.) Nelson Mandela Square by Sandton City se Madiba-beeld is ewe gewild. Om die plein is restaurante en ’n lekker plek om na die uiteenlopende mense te kyk wat in Johannesburg woon en hier aandoen. ) Digby die Mall of Africa is die Nizamiye Masjid-moskee langs die Ou Pretoria-pad in Midrand. Besoekers is welkom as daar nie aanbid word nie. Onthou om jou skoene uit te trek voordat jy ’n stukkie van dié Ottomaanse argitektuur betree. Jy sou sweerlik kon dink jy is in Turkye.) As die gaste jou poegaai maak of jy moet gaan werk, kan jy altyd jou besoekers ’n draai laat ry op die rooi Hop On, Hop Off-busse wat Johannesburg deurkruis. Dit is ’n vinnige manier waarop hulle veel kan sien. Hulle kan dalk ook self besluit waarin hul geïnteresseerd is en nog wil sien. Daar is ook ’n stopplek in Rosebank waar jy woon waar hulle kan opklim.

Terloops, ’n pragboek wat jou besoekers gerus kan aanskaf, is Paul Duncan en Alain Proust se Hidden Johannesburg. Dis te kry by die meeste goeie boekhandelaars.

Hoewel al die geboue hierin nie oop is vir die publiek nie, sal dit jou nog ekstra idees gee van plekke om te besoek.

Meer oor:  Gauteng  |  Toerisme  |  Doendinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.