Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Zastron: Nirwana in die Vrystaat

Zastron-slaghuis se eienaar, Leon Scorrano, sê sy wors is die hart van sy onderneming. Foto’s: Deon Raath
Wyk uit na die salige Zastron wanneer die stad se lawaai jou senuwees skaaf, skryf Hendrik Hancke.

In die gejaagde lewe in ’n viruslandskap is dit soms nodig om net te gaan afskakel en waar beter om die masjien bietjie te laat luier as op ’n klein Suidoos-Vrystaatse dorp met ’n groot hart?

In Zastron, twee uur se ry van die Rosestad op pad na Lesotho, glo die plaaslike slagter, Leon Scorrano (59), beslis in die gesegde “Ver van jou goed, naby jou skade”.

“Maak nie saak wanneer jy gaan nie, jy sal Leon altyd agter die toonbank van sy slaghuis kry. Sy vleis is van ongelooflike gehalte,” vertel Maria Shaer (52), die eienaar van die plaaslike meubelhandelaar Squares Furniture & Gifts.

Daar was dus net een uitweg toe die verwagte Oos-Vrystaatse biltonglus Rapport se verslagspan oorval, Zastron-slaghuis.

Scorrano, wat die slaghuis in 1978 by sy pa, Anton (glo eintlik eers ’n poloniemaker) oorgeneem het, is glad nie op sy mond geval nie.

“My wors is die hart van my slaghuis,” sê Scorrano met ’n ondeunde vonkel in sy oë.

“My wors is die hart van my slaghuis,” sê Scorrano met ’n ondeunde vonkel in sy oë.

Een van sy personeellede, Dianne Webb (42), lê ’n eiertjie: “ ’n Vrou van Bloemfontein het verlede week al die pad hierheen gery vir Leon se spekwors.”

Scorrana frons gemaak ernstig.

“Ons spekwors, sosatiewors en boerewors word alles van vleis uit ons omgewing gemaak,” sê hy.

En die Zastron-slaghuis-span is self nie skaam om te ry nie.

“Ons lewer af tot in Jeffreysbaai, Port Elizabeth, Bloemfontein en selfs Johannesburg.”

Maria Shaer (52) was Rapport se toergids vir ’n oggend. Haar hart loop oor van liefde vir haar tuisdorp en sy gemeenskap .

Shaer, wat vir Rapport haar dorp gaan wys het, se liefde vir haar gemeenskap en mense skemer sommer gou deur.

“Het julle ons Oog gesien toe julle inry?” wil Shaer dadelik weet.

“Volgens oorlewering het Renier de Winnaar van die plaas Verliesfontein, wat later Zastron geword het, die duiwel in hierdie einste Aasvoëlberge raakgeloop.”

Renier het die duiwel gevra wat hy op sy grond maak en toe vir hom ’n trek aan sy tabakpyp aangebied. Dié pyp was niks anders nie as Renier se voorlaaier.

Sy sê De Winnaar was glo ’n spekskieter van formaat.

“Renier het die duiwel gevra wat hy op sy grond maak en toe vir hom ’n trek aan sy tabakpyp aangebied. Dié pyp was niks anders nie as Renier se voorlaaier,” vertel Shaer.

“Zastron se Oog” klink miskien soos iets uit The Lord of the Rings, maar Rapport verneem selfs die duiwel loop lig in hierdie omgewing.

Die daaropvolgende skoot het dwarsdeur die duiwel se kop en die berg geblits. Die “koeëlgat”, of “oog”, is vandag nog sigbaar in die berge en is die dorp se amptelike logo.

Zastron dateer van 1876 en is na die vierde staatspresident van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, pres. Johannes Brand (in die volksmond ook bekend as Jan Brand) se vrou, Johanna Sibella Brand, geb. Zastron, genoem.

Al ons klein dorpies in die Vrystaat krimp maar. Dis hartseer om te sien.

Oom Piet Swart (92) woon, buiten vir sy dae as Matie in die vroeë 1950’s, amper sy hele lewe in die omgewing.

“Ek moes in die oggende as laerskoolkind een myl loop om die bus te haal. In daardie dae was ossewaens en perdekarre nog algemene vervoer hier,” sê oom Piet. Hy het 42 jaar in die kerkraad van die plaaslike NG gemeente gedien.

“Al ons klein dorpies in die Vrystaat krimp maar. Dis hartseer om te sien. Daar was ’n tyd wat die ouderlinge en diakens by die deur moes diens doen en vir mense plekke aanwys. Ons het seker so 500 tot 600 mense by ’n kerkdiens gehad. Nou bars hulle om 100 te kry.”

Oom Piet Swart (92) by sy oorlede vrou, Helene (84), se klavier.

Helene, sy geliefde vrou wat hy as studentenooi op Maties ontmoet het, is in 2014 in die ouderdom van 84 dood.

“Ons het mekaar by die universiteit ontmoet. Sy is op 22 September oorlede.

“Dit is nou ses jaar vandat sy weg is,” sê oom Piet.

Sy dorpie het besoekers broodnodig.

Die mense van die stede wat bietjie wil uitwyk kan gerus hier kom kuier. Hulle kan jag, stap en ons het baie sportklubs wat nog besig is.

“Die mense van die stede wat bietjie wil uitwyk kan gerus hier kom kuier. Hulle kan jag, stap en ons het baie sportklubs wat nog besig is.”

Nader mens die dorp, is die wit reusevlekke op Aasvoëlkop se kruin opvallend.

Shaer sê dis haar gunstelingdeel van die dorp.

“Die aasvoëls was seker 20 jaar weg. Dis seker nou so tien jaar wat hulle terug is. Die boere het wonderlike inisiatiewe begin en almal werk saam om hierdie bure van ons op die berg te hou.”

’n Hamburger by Nel’s in Zastron maak enige holte maklik toe.

Shaer se kinders is die vyfde generasie kinders wat in dieselfde huis grootword.

“Dit laat mens darem vreeslik deel voel van hierdie plek. Ons behoort hier.”

Sy sê sport is omtrent ’n gewilde tydverdryf. “Jong, as jy die mans van die dorp soek, gaan jy hulle die heel maklikste in ons gholfklub vind. Verder het ons rugby, tennis, rolbal en nog meer.”

Besoekers van elders kan gaan veldfiets en bergfiets ry, visvang en na rotstekeninge in die omgewing se berge bekyk.

Hier is iets vir almal. Mense moet net nie die stad verwag nie. Hierdie is ’n plek waar jy kan afskakel.

“Hier is iets vir almal. Mense moet net nie die stad verwag nie. Hierdie is ’n plek waar jy kan afskakel.”

Van afskakel gepraat, die grensboer Tommie Rautenbach en sy vrou, Diana, se Amara Tomana-kliphuisie, aan die voet van Langberg (die Lesotho-grens loop oor dié berg) is die ideale plek om die stads­geraas en gewoel te gaan afskud.

“Ons noem die huisie Amara Tomana, dit beteken ‘Tommie en Diana se paradys’.

“Stappers en jagters gaan graag hier tuis,” sê Tommie.

Dié wegkomplekkie het geen elektrisiteit nie, maar besoekers kan by die indrukwekkende boma om knetterende hardehout uitspan en hulle aan die weergalose Oos-Vrystaatse sterreruim verwonder.

Skoon, netjiese kamers het by die Vulture’s Rest-gastehuis op Rapport se verslagspan gewag.

Rapport het in die pragtige Vulture’s Rest tuisgegaan.

Ná ’n verkwikkende dag in die rustige dorpie, het die verslagspan weggelê aan ’n heerlike stukkie Oos-Vrystaatse beeshaas en ’n reusehamburger by Nel’s, ’n gesellige kuierplek met yskoue bier.

Die held van Zastron. Inwoners is vandag nog trots op Lucas Majozi wat in die Tweede Wêreldoorlog vir sy dapperheid met die Britte se Distinguished Conduct-medalje beloon is.
Hoofstraat se held

Die hoofstraat van Zastron is vernoem na die dapper draagbaardraer Lucas Majozi, wat in die Tweede Wêreldoorlog met Brittanje se medalje vir “Distinguished Conduct” beloon is.

Majozi het die aand van 23 Oktober 1942 tydens die Slag van El Alamein, onder hewige geweervuur, aangehou om gewondes na veiligheid te neem. Selfs toe hy deur skrapnel gewond is, het Majozi aangehou om lewens te red.

Nadat sy mede-draagbaardraer dood is, het Majozi ook voortgegaan om gewondes op sy eie rug na veiligheid te dra.

Die destydse bevelvoerder van die Suid-Afrikaners in die veldslag, genl. Dan Pienaar, was vol lof vir Majozi se heldedade:

“Hierdie soldaat het grootse en dapper dinge gedoen. Met verskeie koeëls in sy liggaam het hy keer op keer die hel van masjiengeweervuur getrotseer om gewonde mans te red. Hy is iemand op wie Suid-Afrika kan trots wees.”

Meer oor:  Zastron
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.