Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Zimbali is dié plek vir uitspan

Ek onthou destyds het die sangeres Patricia Lewis haar Gauteng-tuiste vir Zimbali Lodge in KwaZulu-Natal verruil – en toe die geleentheid hom ’n maand of wat gelede voordoen om self Zimbali te gaan ervaar, het ek nie twee keer gedink nie en die uitnodiging onmiddellik aanvaar.

Vliegkaartjies Durban toe is deesdae baie bekostigbaar en die feit dat die vlug nie eens 50 minute duur nie, maar dit selfs nog aanlokliker.

Die groot swembadarea is die perfekte plek om lafenis te vind of sommer net op een van die buite-beddens uit te span met ’n boek.

Ons bestuurder wag ons met ’n naambordjie by die lughawe in en ons word met ’n blinkswart BMW na die oord toe geneem - fênsie verby! Die oord is maar 16 km van die King Shaka Internasionale Lughawe af en net vyf minute se ry van Ballito.

By Zimbali is daar verskeie restaurante om van te kies. Hierdie heerlike salmslaai word by die Bite Pool Bar & Grill langs die swembad bedien.

Zimbali is ’n magtige groot ontwikkeling langs die kus en hoewel daar permanente wonings aan die een kant is, is daar ook tyddeel-vakansiehuise en -eenhede, 18 villas en die Fairmont, ’n vyfsterhotel wat 154 gaste kan huisves in verskillende soorte kamers en suites.

Ons kry ’n suite en aan ruimte is daar geen tekort nie. Die leefvertrek is groot met heerlike rusbanke as jy voor die massiewe televisie wil uitspan (maar wie wil nou televisie kyk as jy by die see kuier?)

Die slaapkamer loop uit op ’n groot balkon, en wanneer jy die deure oopskuif, stroom die vars seebries jou kamer binne. Die badkamer het sy eie aantrekhokkie, aparte stort en toilet en ’n pragtige bad op pootjies in die middel van die vertrek.

Alles in jou kamer spreek van luuksheid en die perfekte afronding. Die spierwit linne op die bed kraak onder jou lyf en selfs die sjampoe, badsout en lyfroom wat vir gaste uitgesit word, voel soos gehalte.

Kos, heerlike kos!

By Zimbali is daar ’n verskeidenheid restaurante om van te kies en afhangend van waarvoor jy lus is, kan jy ’n hele naweek by verskillende plekke eet.

Die Bite Pool Bar & Grill is ’n baie informele restaurant reg langs die groot swembad wat ’n verskeidenheid broodjies, vingerkosse, slaai en burgers bied, asook mengeldrankies wat perfek is om langs die swembad te geniet.

Ayoba! is die Mexikaanse kantien en hier kan jy allerhande Mexikaanse drankies soos ’n gevriesde margarita geniet.

31 Degrees, die kroeg en kuierplek reg langs die hotel se ingangsportaal, het nie net ’n beeldskone uitsig oor die oseaan nie, maar terwyl jy na ’n talentvolle musikant luister, kan jy sommer ook aan iets ligs peusel.

Hoewel dit nie ’n swemstrand is nie, kan Zimbali-besoekers maklik toegang tot die groot strand kry. Geen beter manier om die dag te begin of af te sluit as met ’n stappie langs die see nie. Foto’s: terésa coetzee

By die Coral Tree Restaurant waar ’n mens soggens aansit vir ’n indrukwekkende buffetontbyt, word daar saans ook buffetetes bedien.

Die OSA Restaurant is een van die vele redes waarom ek Zimbali met ’n geruste hart sal aanbeveel.

Hierdie Indiese restaurant gee nuwe betekenis aan al die heilsame kruie en speserye wat Indiese disse bied.

Die Beach Café is een van die restaurante by Zimbali wat ons die heel meeste beïndruk het.

Buiten die mooi uitsig en die goeie vriendelike diens deur die kelners, is die kos werklik voortreflik. Dis veral hul seekos wat uitstaan.

By 31 Degrees, die kroeg en restaurant reg langs die groot ingangsportaal by Zimbali, kan ’n mens heerlik agteroorsit en die uitsig en lewendige vermaak geniet terwyl jy iets eet.

Dinge om te doen

Wat is nou beter om ’n idilliese naweek volmaak af te rond as ’n spabehandeling? Die Willow Stream Spa is in die Fairmont-hotel en ’n wonderlike toevoeging tot Zimbali. Dit is ’n pragtige spa en die personeel ken hul storie as dit by massering kom.

Buiten die goed toegeruste gimnasium, is daar ook bergfietse te huur waarmee mens bedags die hele oord kan gaan verken. Pasop net vir die apies!

As jy by die see kuier, moet jy darem jou voete gaan natmaak in die oseaan, en hoewel die strand voor die oord glad nie ’n swemstrand is nie en daar oral waarskuwings is dat jy nie in die see mag swem nie, is daar ’n veilige deurgang strand toe en niks verhoed jou om lang ente langs die see te gaan stap nie.

Doendinge in Ballito

Die Flag-diereplaas is ’n wonderlike kuierplek vir klein mensies. Daar is krokodille, alpakkas, donkies, skilpaaie. ’n Mens kan letterlik ’n hele dag lank hier kuier.

Dit is 12 km noord van Ballito en die toegangstarief is R52 per persoon. Besoek flaganimalfarm.co.za vir meer inligting.

Die Holla Trails , Sugar Rush Park, is die perfekte kuierplek as bergfietsry of veldrenne jou opgewonde maak.

Hier is meer as 340 km se roetes. Hulle is elke dag oop, selfs op openbare vakansiedae. Besoek hollatrails.co.za vir meer inligting.

Meer oor:  Zimbali  |  Restuarantbesoek  |  Toerisme  |  Kos En Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.