Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Seks
‘Dis normaal om ná seks te huil’
Foto ter illustrasie. Foto: iStock

Seks word in die algemeen as ’n pretaktiwiteit beskou wat veronderstel is om jou goed te laat voel.

Navorsing deur wetenskaplikes aan die Queensland-Universiteit vir Tegnologie in Australië, toon egter dat seks ’n mens nie altyd gelukkig laat voel nie en dat dit normaal mag wees om daarna huilerig, hartseer en selfs depressief te voel.

Volgens dr. Robert Schweitzer, studieleier, is postseks-disforie ’n baie algemene verskynsel wat mense (mans en vroue) hartseer, kwaad, depressief en angstig kan laat voel ná ’n aktiwiteit wat veronderstel is om ’n mens te laat voel asof jy op wolke loop.

Volgens Schweitzer is nog navorsing oor die onderwerp nodig, maar het sy studie onder 230 vroulike studente gewys dat 46% minstens al een keer postseks-disforie ervaar het. Dat hulle die seks geniet het, of nie geniet het nie, het geen invloed hierop gehad nie.

Sommige mense hou daarvan om vasgehou te word, terwyl ander alleen wil wees.

Schweitzer het aan Cosmopolitan gesê dat sowat 1% van die deelnemers gesê het dat hulle altyd postseks-disforie ervaar.

Op grond van die studie se uitslae, meen die navorsers dat dit moontlik ook ’n algemene verskynsel onder mans mag wees. Aangesien die studie een van die eerstes oor die onderwerp is, is dit egter moeilik om te bepaal hoe algemeen die verskynsel is. “Ons weet nog baie min hieroor omdat dit dermate in teenstelling is met die algemene persepsie oor hoe seks moet wees. Ons dink egter dat dit algemener is as wat mense dink.”

Hy sê dat deelnemers die gevoel beskryf het as ’n gevoel van woede of skaamte en ’n verlies van die self. Sommige het ook gesê dat hulle hierdie gevoelens ’n dag lank ervaar en dit ook beskryf as ’n gevoel van heimwee en om uit plek te voel in jou eie liggaam.

Van wat die navorsers tot dusver kon aflei, is daar nie ’n verband tussen postseks-disforie en intimiteit in hegte verhoudings nie. Die studie het gefokus op seks tussen gelukkige paartjies.

Schweitzer en sy span doen nou ’n aanlyn opname om meer insig oor die verskynsel te bekom.

“Mense ervaar ’n wye reeks reaksies ná seks,” het hy aan die Brisbane Times gesê. “Sommige mense hou daarvan om vasgehou te word, terwyl ander alleen wil wees.”

Hy verduidelik dat ’n beter begrip van die voorkoms van postseks-disforie kan help om oorsake en moontlike oplossings daarvoor te vind. “Ons hoop dat heteroseksuele, sowel as homoseksuele mans en vroue, aan die opname sal deelneem.”

Volgens Schweitzer neem die opname sowat 30 minute om te voltooi en sluit dit vrae oor geestesgesondheid, mishandeling en ervarings met hegte verhoudings in.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.