Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Seks
‘My warm huwelik is nou seksloos’
Foto ter illustrasie. Foto: iStock

Ek vertel my storie omdat ek dink, hoop en glo dat daar nog vroue soos ek daar buite is.

Só begin Elaine Hugo* van Randburg haar vertelling oor die sekslose huwelik waarin sy haarself bevind.

“Seks was ’n groot deel van ons huwelik voordat ons seuntjie gebore is. Ek is nie goedkoop nie, maar ek en my man het voor ons huwelik al seks gehad. Baie. Ons kon ons hande nie van mekaar afhou nie.

“Hy sou aan my borste vat as ons in die kar ry, deur die dag vir my speelse boodskappe stuur en soms selfs ’n sexy foto. Ja, soos Margharet. Ons huwelik was warm en oor naweke het ons soms sommer twee of drie keer per dag omgang gehad. Dit was ’n groot fokus in ons huwelik . . . en nou is daar niks.”

Terwyl sy swanger was, was haar seksdrang baie hoog, vertel Elaine. “Ons was tot laat in my swangerskap nog seksueel aktief. Ek onthou hoe my man op pad hospitaal toe gesê het hy is baie bly oor die baba, maar dat hy ook baie bly is om sy vrou terug te kry. ‘Ek kan nie wag om weer liefde te maak nie,’ was sy woorde.

“My seuntjie is nou twee jaar oud en ons huwelik het al sy vuur verloor. Ek wil nie so lewe nie. My huwelik is stukkie vir stukkie besig om uitmekaar te val. Seks is 10% van die huwelik as dit reg en in plek is, maar dis 90% van jou probleme as dit nie reg is nie.”

Elaine sê dat haar huwelik deur konflik oorheers word. “Ons baklei oor alles. Van wie met ’n mes vol Marmite in die botter gekrap het tot oor hoe om ons kind groot te maak. Ek stop dikwels in die middel van ’n bakleiery en loop weg, want ek weet dit gaan nie oor die Marmite nie en ook nie oor die kind nie, maar oor ons. Oor die frustrasie wat ons beleef omdat ons nie by mekaar kan uitkom nie. Oor die magteloosheid omdat ons albei naby aan mekaar wil wees, maar ek kan net nie so ver kom om hom toe te laat nie.”

Sy beskryf die situasie as ’n nagmerrie waaruit sy wil wakker word. “Soms dink ek môre-oggend gaan alles beter wees. Ek gaan beter voel en nie meer soos ’n skulp toeslaan wanneer hy aan my raak nie.”

Voor my swangerskap was ek mooi. Ek het moeiteloos in ’n bikini gepas en ek kon sien wat my kaal liggaam vir my man doen.

Haar man het egter onlangs opgehou om toenadering te soek. “Ek moet sê hy het baie moed gehad, ek sal baie lank terug al opgegee het. Hy vat nie meer aan my nie. Ons lê soos lyke langs mekaar in die bed.”

Die rede vir haar optrede is dat sy skaam voel oor haar liggaam, sê sy. “My rekmerke lyk soos ’n padkaart wat teen my maag oploop tot oor my borste. My borste hang en die los vel om my maag wil nie verdwyn nie.

“Ek het al alles probeer. Ek eet gesond, oefen drie keer per week en drink baie water. Dis nie dat ek net gaan stilsit en sê dis hoe ek nou lyk nie.

“Voor my swangerskap was ek mooi. Ek het moeiteloos in ’n bikini gepas en ek kon sien wat my kaal liggaam vir my man doen. Nou is dit weg. Ek sal nooit weer iets dra wat my maag wys nie. Selfs nie ’n top met ‘n lae hals nie, al sit die rekmerke aan die onderkant van my borste.”

Elaine vertel dat sy eendag ’n vriendin in haar vertroue geneem het en haar van hul probleem vertel het. “Sy het so met my geraas dat ek nie die moed gehad het om ’n sielkundige te gaan sien nie. Ek weet dat die probleem in my kop is, maar nadat sy daardie dag vir my vertel het hoe ondankbaar en egoïsties ek is, kon ek nooit genoeg moed bymekaarskraap om dit weer met iemand te deel nie.

Dit word nie vanself beter nie. My huwelik is die getuienis daarvan.

“My arme man leef nou in ’n liefdelose huwelik omdat ek nie wil hê hy moet sien en voel hoe my liggaam verander het nie.”

Elaine sê dat sy die besluit geneem het om haar storie in die media te vertel om haarself verantwoordbaar te maak. “Ek móét professionele hulp kry, want die probleem het te groot geword om dit self op te los. En dit sneeubal en het reeds soveel ander probleme veroorsaak dat iemand my, en ons, sal moet help om alles los te torring en van voor af te begin.

“My baby blues het nooit verbygegaan nie, dit het net erger geword en omgesit in ’n toestand waar ek nou myself en my liggaam haat. Ek voel depressief en afgemat. Ek kan nie langer so aangaan nie.

“Nadat hierdie storie verskyn, gaan ek die oproep maak. Ek gaan deurdruk. En hopelik lees iemand dit en besef dat sy vroeër, eerder as later, moet hulp kry. Dit word nie vanself beter nie. My huwelik is die getuienis daarvan.”

Wanneer moet jy hulp soek?

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) moet vroue ná die geboorte van ’n baba hulp soek as hulle hartseer, angstigheid, moedeloosheid en irritasie ervaar en die simptome meer as twee weke aanhou.

Ander waarskuwingstekens is dat ’n vrou nie haar lewe soos voorheen kan hervat en normaal funksioneer nie en sy nie alledaagse situasies kan hanteer nie.

Behandeling kan onder meer medikasie vir angstigheid en depressie, psigoterapie en deelname aan ’n ondersteuningsgroep insluit.

*Besoek Sadag se webtuiste vir meer inligting.

* Skuilnaam is gebruik om die verteller en haar familie te beskerm.

Meer oor:  Randburg  |  Seks  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.