Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Tradisietuin in blom
Die kroukiebaan op die tweede terras van die tuin by die Westminsterlandgoed naby Tweespruit in die ­­Oos-Vrystaat .Foto’s: Lientjie mentz
By die perdestalle is die Queen Anne-horlosie met ’n weerhaan.
Rose soos hierdie My Granny-rose blom steeds in die tuin.

Dit gebeur nie sommer dat ’n tuin langer as 110 jaar die styl en karakter behou wat die oorspronklike argitek in gedagte gehad het nie.

Dit is wel die geval met ’n tuin wat deur sir Herbert ­Baker uitgelê is by ’n sandsteenhuis wat hy in die Oos-Vrystaat ontwerp het. Die groot huis op die Westminsterlandgoed tussen Tweespruit en Ladybrand is ’n besonderse stukkie geskiedenis wat steeds bewaar word, danksy die toewyding van ­Helen en Rupert Fitzmaurice.

Die tuin is met die hulp van die tuinboukundige Gertrude Jekyll, ’n kennis van Baker, uitgelê.

Kort ná die einde van die Anglo-Boereoorlog is Britse Boere as deel van Lord Milner se plan in die omgewing van onder meer Ladybrand gevestig. Bendor Grosvenor, die tweede hertog van Westminster, het met die aanmoediging van Milner ’n plaas naby Ladybrand gekoop wat in 18 plase van 1 000 morg (sowat 1 542 ha) elk verdeel is en aan setlaars toegeken is. Grosvenor het Baker genader om die groot huis op die landgoed te ontwerp. Die huis is in 1904 voltooi.

Wat die tuin betref, het ­Baker hom ’n reeks terrasse voorgestel met een waarop ’n kroukiebaan aangelê kon word.

Op die volgende terras moes daar ’n roostuin en bosbessies, pergolas en ’n sonwyser wees met malvas, krismisrose en agapante wat oor die sandsteenmuurtjies tuimel.

Die hertog se dogter lady Mary Grosvenor was later die eienaar van die landgoed en sy het so eenmaal ’n jaar ongeveer drie maande lank die landgoed kom besoek. Sy is in die jaar 2000 oorlede.

Helen se oupa Charles Thatch­er was die bestuurder van die landgoed. Sy seun ­Michael (Mike) Thatcher het by hom oorgeneem en vandag is Helen en Rupert aan die stuur.

Helen, wat op die landgoed grootgeword het, vertel sy kan goed onthou hoe die tuin vroeër jare gelyk het. Daar was byvoorbeeld gesnoeide struike agter die huis in die vorm van hase, honde en perde na aanleiding van die perde en honde waarmee hier in die Engelse tradisie jakkalse gejag is.

Sy het voortgegaan met die tuin in sy oorspronklike tradisie. Omdat baie van die aangeplante dennebome nou oud is en omval, word hulle vervang met inheemse bome soos olienhout en witstinkhout wat in beskutte dele geplant word.

Die kroukiebaan word steeds onderhou en daar word nog gereeld op dié baan gespeel.

Daar is steeds heelwat rose in die tuin, maar ook groot bosse syselbos, vlinderbos, ­laventel en ander kleurvolle aanplantings op die verskillende terrasse.

Aan die een kant van die huis is daar ’n groente- en kruietuin wat aan ’n Engelse herehuis se kostuin herinner. ) Bykomende inligting uit ­Colonial Houses of South ­Africa deur Graham Viney.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.