Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Abelia, kleurvolle staatmakers

Meerjarige loofstruike wat heeljaar iets te bied het, is die raamwerk van ’n tuin waarteen die seisoenale plante hul kort rolle afspeel. Abelias vorm deel van die staatmakergroep.

Die mooi loofkleure van Abelia - grandiflora ‘Kaleidoscope’.

In koue klimate en ook plekke waar groeitoestande soms uitdagend is, soos kustuine, kan jy staatmaak op Abelia x grandiflora (glansende abelia). Hierdie tuinhibried is immergroen en word ’n mildelike 2 x 1,5 m groot met lang, ontspanne sytakke wat aan die plant ’n geronde, bosserige voorkoms gee. Die klein, ovaalvormige blaartjies is donkergroen en glansend, met ouer sowel as jong blare wat soms ’n brons tint het. Daar is ook heelparty nuwer hibriede wat pragtige bont blare het.

Die blomhofies verskyn in trosse klokkievormige wit blomme met ’n sagte pienk tint met skutblare wat rosig pienk tot ligpers kan wees.

Die goue loofkleur van die koue en rypbestande Abelia ‘Francis Mason’.
Die blomme van die glansende abelia se skutblare is ’n rosige pienk of pers. Die plante bly lank aan die blom.
Anna Celliers

Hoewel daar geen tekort aan blomme is nie, word hierdie struik nie primêr geplant as blomstruik nie, maar eerder as ’n betroubare agtergrondplant tussen ander inwoners van ’n randakker.

Dit groei gewillig en moeitevry in volson of ligte skaduwee en is ’n baie goeie keuse om te plant as ’n informele heining.

Abelias blom van die vroegsomer tot laat in die herfs. Die struike kan ter wille van netheid of beheer in die laat winter of vroeg lente gesnoei word om nuwe bosserige groei aan te moedig. Abelias is gehard teen koue en ryp en die loofkleure van die soorte met bont blare verhelder pragtig in die winter. Hulle is ook windbestand en groei goed aan die kus in ’n effense beskutte posisie.

Kweekwenke

Plantplek: Volson verhelder die bont loofkleure van sekere soorte pragtig, maar oggendson en middagskadu is ewe gaaf. Hierdie plante groei ook goed in klein tuine waar daar wisselende son- en skadupa­trone gedurende die dag is.

Grondsoort: Enige grondsoort is geskik, mits daar goeie dreinering is. Plantgate moet mildelik verryk word met kompos en beenmeel.

Waterverbruik: Abelias is nie watersuipers nie, maar hou nie van lang periodes van droogte nie. Jong plante moet aanvanklik elke dag natgelei word in warm weer, maar as hulle eers gevestig is, kan die grond maar ’n bietjie uitdroog tussen natlei-sessies. 

Voeding: Voed die plante elke jaar in die lente met ’n algemene, stadig vrystellende misstof.

Ander mooies om te plant

Abelia - grandiflora ‘Francis Mason’ (ook bekend as die goue abelia), se blare is soms heeltemal ougoud en soms gespikkel in geel en groen. In koue weer is daar opmerklike bronsverkleuring. Die slanke sytakke met hulle mooi blaarkleure hou baie lank in ’n vaas wat van hierdie hibried ’n gunsteling onder blomkunstenaars maak. Tuiniers in die koue Karoo gebruik hierdie struik dikwels as lae tot medium hoogte heiningplant omdat dit so goed reageer op taamlike ingrypende snoeiwerk. Die blomme is dieselfde as dié van A - grandiflora.

Abelia - grandiflora ’Cardinal’ het mentgroen blaartjies met smal wit rande en nuwe loof is ’n pienkerige bruin. Die klein blommetjies is spierwit. Die plant is ook pragtig in ’n pot en kan in ’n digte balvorm gesnoei word. Grootte is ongeveer 1,5 x 1,5 m.

Abelia - grandiflora ‘Kaleidoscope’ is ’n dwerghibried (70 x 90 cm) met immer verkleurende loof. Nuwe groei in die lente is heldergeel aan die rande met ligte groen senters. In die somer verkleur die heldergeel na goudgeel en diepgroen. In die herfs verander die geel na oranje en in die winter is die plant ’n vurige rooi. Die kompakte groeiwyse van ‘Kaleido­scope’ is perfek vir moderne klein tuine.

In 'n neutedop
  • Maklik om te kweek in enige grond.
  • Lok bye en skoenlappers.
  • Pes- en siektevry.
  • Mooi winterkleur.
  • Geskik om in potte te plant.
  • Saggeurige blomme van die somer af tot herfs.
  • Geskik as formele of informele heiningplante.



Meer oor:  Anna Celliers  |  Blomme  |  Tuine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.