Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Anna Celliers : Vier koel weer met vullertjies
Sewejaartjie (Syncarpha argentea).Foto’s: Geoff Redman
Skaduplakkie (Crassula multicava).
Seeroogblommetjie (Hypoestes aristata).
Aanteelrosie (Crassula capitella).

Ons tuiniers het mos immer ’n paar kaal kolle om te vul met loof en kleur en gelukkig is daar dié tyd van die jaar mooi goed om te plant in plekke soos droë skaduwee en op sonnige rotstuine. Hier is ’n klompie tawwe tienies wat jy maar met ’n geruste hart grond toe kan stuur.


Seeroogblommetjie

Die haastige seeroogblommetjie (Hypoestes aristata) blom geil vanaf Mei, so net asof dit ons wil troos omdat die winter op pad is.

Die groot voordeel van hierdie gewillige meerjarige is dat dit baie goed geskik is vir ligte skaduwee onder bome waar dit sommer gou die grond sal bedek met digte groei. Dit sal wel ook in volson groei. Die blare is sag en harig en die pienk of malvapers buisblomme krul skerp terug en herinner aan papierlint. Vandaar ook die ander volksnaam, lintbos.

Die plant se blomme lok ’n verskeidenheid bye en insekte wat natuurlik weer insekvretende ­

voëls lok.

Sorg vir vrugbare, goedgedreineerde grond en gereelde water in die somer. Snoei skerp terug ná die blomtyd.

Sewejaartjie

Syncarpha argentea is ’n ongewone plant, die delikate en pragtige blommetjies is algemeen tussen klipperige koppies in die veld in die Oos-Kaap te sien. Dit is egter deesdae vrylik beskikbaar in kwekerye.

Hierdie is ’n geharde klein blom vir volson in grond wat baie goed dreineer. Alhoewel dit baie droogtebestand is, hou dit ook van gereelde water in die tuin, en sal dan ook baie meer blomme maak wat maande aan die plant bly. Die blomme is papieragtig en fyn met helderpienk knoppies wat oopvou en later verbleik na sagte pienk en wit met heldergeel kele. Die loof is silwergrys en die plant word net sowat 40 cm hoog.

Elke plant sal jou vanaf Mei tot November beloon met kleur. Snoei dit bloot terug ná die blomtyd. Hierdie is ’n perfekte kandidaat in rotstuine, in sonnige beddings, en ook in potte.

Skaduplakkie

Gedink ’n vetplant sal nie in die skadu groei nie? Wel, die skaduplakkie of feetjie-crassula (Crassula multicava) doen dit moeiteloos. In die blomtyd wat vanaf Julie tot September is, sal wolke pienk stervormige blommetjies in groot blomhofies bokant die ronde vlesige blare verskyn en dan is daar ’n soom van kleur om ’n mens se bome en skadu-areas.

Die plant is verspotmaklik om te kweek en sytakkies skiet gou wortel waar dit in kontak met die grond kom. Dit is ’n haastige groeier wat ewe goed in volson groei.

Hou dit redelik goed nat in die somer en sny die dooie blomme af ná die blomtyd om die plante netjies te hou. Die blomme kan deur strawwe ryp beskadig word, so wees versigtig om dit nie op kwesbare plekke wat erg blootgestel word te plant nie. Volwasse grootte is ongeveer 20 cm x 30 cm.

Aanteelrosie

Die aanteelrosie (Crassula capitella) is ’n vurige vetplant met vlesige stamme en smal gepunte blare wat vanaf ’n vars appelgroen op ’n jong stadium na ’n vurige oranje en later posbusrooi verkleur.

In die koel maande is dit omtrent ’n gesig om te aanskou en jy kan dit in groot getalle op sonnige rotstuine, tussen grasse en aalwyne en ook in potte plant.

Dis maklik om die eienaar van baie aanteelrosies te wees omdat die plant so gaaf voortplant. Elke sytakkie met ogies aan sal wortel skiet as dit naby die grond kom.

In ligte skaduwee, gaan die loof slegs appelgroen bly. In die somer verskyn lang ritse spierwit blommetjies aan slanke stele.

Die plant hou nie veel daarvan om te blom nie, en gaan agteruit daarna. Dis dan tyd om dit skerp terug te snoei en selfs weer te plant in grond wat met kompos verryk is.

Dit is baie droogtebestand en kan selfs net elke twee weke natgegooi word. Ryp pla hierdie vetplant wat natuurlik in al ons provinsies voorkom, nie juis nie maar sneeu wel. Grootte is tussen 15 cm en 40 cm hoog met ’n verspreiding van 1 meter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.