Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Bring die blomme na binne

Die maklikste manier om met die natuur in voeling te bly sonder om die koue te trotseer, is met ’n huisblomplant.

Danksy moderne kweektegnieke en hipermoderne kweekhuise kan ons kies en keur uit menige blomgunsteling soos kalanchoes, siklame, asaleas en orgideë, om net ’n paar te noem.

Die voordeel van die kouer maande is dat die blomme van baie huisplante veel langer hou as in die somermaande. Jy maak dus ’n goeie belegging in blomkleur as jy nou ’n blommende huisplant koop.

Usambaraviooltjie

Reëls vir huisblomplante

Hou by hierdie basiese reëls en jy sal die plesier en waarde uit jou huisblomplante put.

Water: Te veel daarvan is soms die rede waarom huisplante doodgaan. Die sleutel tot sukses is eenvoudig in jou tassin geleë. Druk jou vinger in die grond om te voel of die boonste laag droog is. Die goue reël vir die meeste huisblomplante is grond wat nooit heeltemal uitdroog nie. As dit dus droog voel, is dit waarskynlik en moet jy natmaak. In die winter is dit beter om lou water te gebruik, nie yskoue kraanwater nie.

Lig: Tegnies verlang verskillende plante verskillende ligtoestande, maar moenie dat dit ’n kopseer word nie. Kies ’n plek met baie natuurlike lig naby ’n venster, maar oppas vir skroeiende sonlig wat inskyn of om plante te na aan die glas te sit waar dit snags baie koud kan word.

Siklaam

Lugbeweging en trekke: Huisplante hou van die beweging van vars lug om hulle, maar nie in die vorm van ’n voortdurende koue trek oor hul blare en blomme nie.

Dreinering: Ons wil almal ’n mooi blomplant in ’n sierlike dekpot sonder dreineergate uitstal – dit beskerm ook meubels teen waterskade. Dit is goed, mits jy die plant uit die dekpot uithaal om nat te maak, en die water goed laat uitloop voordat jy dit weer vertoon. Doen die natmakery sommer in die kombuiswasbak sodat die potte goed kan dreineer.

Plante moet nooit toegelaat word om met hul “voete” in die water te staan nie – dit hou die grond deurweek en veroorsaak verrotting.

Liefdevolle sorg: Voed huisblomplante tweeweekliks met ’n wateroplosbare misstof en hou aan om dooie blomme en ou blare te verwyder om meer blomme aan te moedig en hulle netjies te hou.

Blommende wintergunstelinge

Kalanchoe blossfeldiana

Siklame

Siklame is geliefd om die kleurryke blomme aan vlesige stingels sowel as die mooi blare met silwerkleurige vlekke. Dis ’n bolplant waarvan talle hibriede te kry is – van groot tot dwergagtig – in ’n uiteenlopende kleurreeks.

Maak siklame altyd van onder nat deur die onderkant van die pot vir sowat 10 minute in ’n bak water te laat staan. Moet nooit water op die blare, blomme of kroon van die plant laat kom nie; dit sal die plant laat vrot.

Asaleas

Die beste ding van die skaduliewende asalea is dat dit van kleins af begin blom. (Dis waarom potplantkwekers soms hul kwekerypotte met ’n bos sterk bewortelde plante vul wat van soveel blomme oortrek is dat jy nie die blare kan sien nie.) As jy ’n paar asaleapotte saam in ’n groot mandjie of sierhouer “plant”, sal jy ’n kitskothuistuintjie hê om jou hart op te beur.

Warm wenke: Hou jou binnenshuise asaleas op ’n koel plek, met baie natuurlike lig om hulle so lank moontlik aan die blom te hou. Hulle hou van grond met ’n suur pH en hul vlak wortels hou van ryk grond, wat klam bly.

Bedek hulle met veen of selfs gedroogde bloemistemos om te keer dat hulle te vinnig uitdroog.

Voeg ook jou ou teeblare by die deklaag.

Cimbidium-orgidee

Kalanchoe

Kalanchoe blossfeldiana (“Flaming Katy”) is ’n uiters gewilde potplant oor die wêreld heen.

Baie hibriede van hierdie plant word in vensterbokse, in potte of buitenshuis in warmer klimate geplant. Daar is ’n magdom verskillende kleure op die mark — sommige baie helder, ander meer subtiel soos wit en liggeel.

’n Vorm met dubbelblomme word onder die naam “calandiva” verkoop.

Anna Celliers

Cimbidium-orgidee

Dié soort orgidee blom gewoonlik geil in die wintermaande en wanneer hulle klaar is, kan hulle buite onder ’n boom gehou word om dit volgende jaar weer te doen.

Usambaraviooltjies

’n Gelukkige usambaraviooltjie in volle blom het die magiese krag om jou hart te steel. Ongelukkig het hierdie plante soms ’n slegte naam omdat hulle sommer ophou blom en heeltemal neuroties raak die oomblik wanneer jy hulle huis toe bring.

Ek reken hulle haat dit om rondgeskuif te word; gesels dus vriendelik met hulle en troetel hulle liggies. Kundiges sê die plante wil ’n omgewing hê met voortdurende hitte en genoeg maar nie te veel lig nie. Maak hulle altyd van onder nat deur die plant ’n hele rukkie in ’n bak lou water te laat staan, en laat dit deeglik dreineer.

Nog ’n probleemoplossing: Voeg al om die ander natmaaksessie ’n goed gebalanseerde wateroplosbare misstof teen halfsterkte by die water. Hou die harige blare stofvry deur hulle liggies met ’n sagte tandeborsel te borsel.

Meer oor:  Anna Celliers  |  Blomme  |  Tuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.