Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Dié bome se blomme is pragtig

Die gewone koraalboom (Erythrina lysistemon) het die goeie gewoonte om sy knobbelrige (soms stekelrige) kaal takke van laatwinter tot die lente vol knalrooi blomme te maak.

Ná dié spogvertoning (hulle is nie suinige blommers nie), wat iewers in Oktober tot ’n einde kom, het die klimopagtige blare in ’n netjiese trio op slanke blaarsteeltjies reeds begin uitloop en sit jy mettertyd met ’n koelteboom van so om en by 6 m tot 8 m hoog, met ’n netjiese kroon.

Die bome is bladwisselend met dik hoofstamme en kort sytakke vol doringagtige uitgroeisels. Die kroon is ylerig en spreidend. Die groot trosse buisblomme is baie nektarryk en lok ’n verskeidenheid insekte wat weer die vleisetende geveerdes lok om te kom weglê. Saadpeule verskyn soms saam met die blomme of agterna, en is swart en bars aan die boom oop om die giftige helderrooi sade bloot te lê.

Vroeër is die bas en blare vir allerlei kwinte en kwale gebruik.

Die bome is pragtig op die agtergrond van struikbeddings, in groot rotstuine tussen aalwyne wat ook saam blom, of as eksemplaar in ’n grasperk. Hulle het egter ’n aggressiewe wortelstelsel en moet minstens 5 m van bousels en grensmure af geplant word.

‘n Kuskoraalboom met salmkleurige blomme.

Beste klimaat

Die gewone koraalboom kom wydverspreid voor, van die Oos-Kaap tot Limpopo, en dan verder in Angola, Botswana, Zimbabwe en noord tot in Tanzanië.

Sy habitat sluit in kusruigte, grasveld en bosveld, dorre streke sowel as somerreënstreke met hoë reënval. In dorre streke is dit ’n klein boompie van ongeveer 5 m hoog met dieselfde verspreiding, maar in vogtige klowe kan dit tot 10 m hoog word. Die bome is sensitief vir koue en swaar ryp.

Kweekgebooie

  • Plantplek: Volson
  • Grond: goed dreinerende sanderige of leemgrond.
  • Water: medium- tot min waterverbruik wanneer dit goed gevestig is. Die bome hou in die algemeen nie van baie water in die winter nie.
  • Bemesting: Kompos in die plantgat en as deklaag om jong bome is voldoende.
Die kleinkoraalboom is perfek vir klein tuine en blom gereeld deur die somer.

Pasop hiervoor

Klein wespes lê soms hulle eiers onder die blare en laat dit “vratterig” lyk. Dis nie skadelik vir die boom nie. Larwes val ook nou en dan die boom aan, maar kan met sistemiese insekkorrels verjaag word as dit nodig is.

Nog spesies om te plant

Kuskoraalboom (Erythrina caffra) is ’n middelslag- tot groot bladwisselende boom met ’n regop groeiwyse, ’n geronde kroon en ’n sterk stam wat met gesplete grys bas bedek is. Die trosse helderoranje blomme wat van Junie tot Augustus aan die takpunte verskyn, het teruggebuigde kroonblare. Dit is ’n uitstekende skaduboom vir groot tuine met ligte tot matige winterryp.

Breëblaarkoraalboom (Erythrina latissima) is ’n stewige klein tot middelslag- bladwisselende boom met ’n spreidende groeiwyse. Die hoofstam en groter takke is met growwe grys bas met diep oorlangse splete bedek. Nuwe groeistingels is bedek met wollerige hare en gekromde stekels wat mettertyd verdwyn.

Die mooie blomme van die gewone koraalboom.

Die blare is groot, dik en leeragtig en bestaan uit ’n groot blaar en twee kleiner syblare. Die nuwe groei is sag en fluwelig.

Die dramatiese blomme in wye trosse aan die punte van stomp takke is helderrooi met opvallende wit hare. Groot, wollerige saadpeule dra oranjerooi sade in die herfs. Dit is ’n statige eksemplaarboom vir rypvrye tuine.

Kleinkoraalboom (Erythrina humeana) is ’n pragtige boompie vir klein tuine wat selde hoër as 4 m word. Die blare is gewoonlik langer as dié van ander spesies en gelob en puntig. Die skarlakenrooi blomme is lank, vertoon indrukwekkend en word van die lente tot die herfs gedra, soms meer as een keer per jaar.

Suikerbekkies en bye is lief vir die nektar. Die kleinkoraalboom is bestand teen ryp en raak rustend in die winter in koue klimaatstreke wanneer dit min of geen water moet kry nie.

In ’n neutedop

  • Maklike groeiers.
  • Waterwyse bome.
  • Pragtige blomme in die winter en lente.
  • Erythrina-spesies kan maklik van geweekte saad, steggies of stamstegge voortgeplant word.
Meer oor:  Plante  |  Bome  |  Tuine  |  Tuinmaak  |  Lente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.