Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Die natuur se volmaaktheid

Ná die vaalheid van die winter verlang ons na lenteblomme en al die pragtige skakerings van groen wat nuwe lewe in die tuin bring.

Bring die groen terug: JJ van Rensburg, medeontwerper van die tuin.

Toe JJ van Rensburg, gasheer van die gewilde Groenvingers-insetsel Saterdagoggende oor RSG, gevra is om ’n vertoontuin vir vanjaar se Lentefees by Garden World te ontwerp, het hy besluit op ’n groen, welige en dromerige tuin, in teenstelling met die gebruik van vetplante wat sterk en droogte-verdraagsaam is.

“Ons is stroomop teen die nuutste tendense,” sê JJ skertsend. “Ons wou die groen, sagtheid en vryheid terugbring.”

JJ en sy span – sy vrou, Magriet, en kollega Frans Ferreira saam met die landskapskrywer Grant Gove – het die outydse gevoel van ’n Ierse dal, vol geheimsinnigheid, mis en mos, geskep.

Hul tuin het ’n gesogte platinumprys ontvang en is een van die People’s Choice-gunstelinge. Die 17 tuine is tot 2 September oop vir die publiek.

JJ meen hul klein tuin kan maklik binne ’n groter tuin pas waar ’n mens ’n “klein, rustige ruimte wil hê – ’n plek om asem te haal en deel van die natuur te voel”.

Hoewel die varings, mos, ornamentele grasse en grondbedekkings meer water benodig, is daar uitsonderlike tuine met boorgate en tuine met ’n klam hoek wat ideaal vir sulke plante is.

Vreedsaam – die strelende geluid van water wat in die rotsdam vloei.

Die plantkeuses wys hoeveel verskillende kleure groen daar bestaan; dit kan interessant en gevarieerd wees. In teenstelling met blomme wat net ’n seisoen hou, lyk die blaartuin amper die hele jaar goed.

Goueblaarplante, soos Carex “Evergold”, helder die tuin op, maar die ster van die skouspel is beslis die fluweelagtige lemmetjiegroen Ierse mos wat tussen die groot plat rotsstapels geplant word. Verrassend genoeg benodig hierdie mos son om te floreer, asook baie water en nie skaduwee nie.

Ander plante wat bydra tot die weligheid is die dwerg­aspersie- varing “Green Ripple”, Liriope “Evergreen Giant” en veeragtige boomvarings.

’n Rotsmaanhek nooi besoekers in die prentjie mooi tuin in.

Blomme word gebruik, maar met subtiele kleure – ’n ligte suurlemoenkleurige wildeleeubekkie, malvapers gipskruid en die klein wit Australiese viooltjie as ’n grondbedekking. Wit en malvapers Cuphea (valsheide) is ’n pragtige vuller wat die hele jaar deur blom.

Die fokuspunt van die tuin is die rotsmaanhek wat die binneste heiligdom raam, en die oog word ook getrek deur die klipfontein (’n eggo van die maanhek) waaruit die water in die rotsdam loop. ’n Natuurlike klipmuur omsluit die tuin, met varings wat tussen die hoeke, krake en krane in die landelike, mooi vervaardigde klipwerk­spruit geplant is.

Dit het sowat 20 ton klip en gruis geneem om dié indruk te skep wat deur Africa Stone n Tile gebou is. Die dammetjie kombineer rooi baksteen met Delmas-rots om die vergete tuin te skep.

JJ se keuse van blaarplante

  • Ierse groenmos (Sagina subulata) is ’n laaggroeiende grondbedekking wat op water en ryk grond floreer.
  • Siergras (Carex “Everillo”) wat sowat 50 cm hoog groei met ligte goud- tot roomkleurige blare wat ’n dramatiese trefkrag aan skaduryke kolle gee.
  • Dwergbiesie (Cyperus prolifer) is ’n inheemse, laaggroeiende riet wat ’n goeie byvoeging by ’n fontein of dammetjie maak.
  • Die Tasmaniese boomvaring (Dicksonia antarctica) is me­dium­groot en lewer baie blare wat tot 1,2 m lank word. Dit het donkergroen blare en ’n stewige stam.
  • Pennyroyal-mentgrondbedekker (Mentha requienii) het klein blare, is baie dig en het ’n sagte kruisementgeur wanneer dit gevryf word.
  • Dwerggeel maagdeblomme (Vinca minor “Gold Illumina­tion”) is ’n laag groeiende grondbedekking wat vinnig versprei met groot kleurkontras, met heldergeel blare en pers blomme.
  • Australiese viooltjie (Viola hederacea) is ’n fantastiese grondbedekking met klein blou en wit blomme, vinnig groeiend en lonend.

Die Lentefees is by Garden World in Beyers Naudé-rylaan in Muldersdrift. Dit bied ook die wonderlike uitstalling Suid-Afrika – ’n wêreld in een land, kindertuine en opvoedkundige tuine. Besoek gardenworld.co.za.

Meer oor:  Tuine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.