Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Draf tuin se indringers só kaf

Pampasgras se wuiwende blompluime veroorsaak erge ongemaak in mense se neuse en oë.

Het jy plante in jou tuin wat as indringerspesies gelys word? Koop of verkoop jy dié plante onwettig?

Het jy geweet dat daar plante is waarop handelsbeperkings geplaas is? Die amptelike onkruid-en-indringerlys is redelik omvattend en ons het verlede week gekyk hoe die plante gekategoriseer word en na van die spesies wat in die kategorieë val.

Hier is nog ’n paar spesies wat gereeld in huistuine raakgesien word:

Pampasgras (Cortaderia selloana en C. jubata)

Kategorie 1b

Vroeër is dié reuse-grasse op mynhope geplant om hulle te stabiliseer, maar hulle was ook die lieflingplante van tuiniers wat grasagtige “fokusplante” wou hê in ’n era waar die keuse daarvan maar ietwat beperk was. Fanatiese blommerangskikkers het hulle ook aangeplant vir hul lang, veeragtige pluime.

Die plante word reusagtige polle wat ondersteun word deur groot ondergrondse wortelstelsels, wat dit uiters moeilik maak om hulle uit te wis. Dis hoegenaamd nie ’n maklike plant om meganies te verwyder nie, aangesien die terugkurwende smal blare uiters skerp rande het wat gou bloed trek.

Die silwerwit tot pienkerige blompluime is ewe geniepsig en veroorsaak erge allergieë en irritasie van die asemhalingstelsel.

Herhaalde toedienings van ’n sistemiese onkruiddoder kan uiteindelik die hele plant uitwis. Alle dele daarvan moet verwyder en verbrand of baie diep begrawe word.

Fonteingras (Pennisetum setaceum)

Kategorie 1b

Siergrasse in die Pennisetum-genus is natuurlik steeds gesogte tuinplante, maar dis die steriele moderne hibriede wat nie skade aanrig nie, so moenie almal voor die voet verdoem nie.

Dis die spesies P. setaceum en P. villosum wat so graag langs versteurde areas en langs die paaie voorkom wat indringers is.

Baie van hulle groei ook in tuine en op sypaadjies. Die polvormende grassoorte met hul dun halms en stekelrige pluime in roomwit, pienk of pers pluime kan beheer word met onkruiddoder.

Die luisboom is een van die mees gehate indringers en kan maklik beheer word as die wil daar is.

Luisboom (Solanum mauritianum)

In die genus Solanum is daar eweneens tuinhibriede wat met ’n geruste hart geplant kan word en ’n struik soos die kiesieblaar (Solanum rantonnetii) met sy persblou blomme is baie gewild.

Maar die luisboom, wat ’n groot struik of klein boompie is met groot viltagtige blare en klein trossies pers blomtrosse op die groeipunte van sytakke gevolg deur geel bessies, is ’n uiters gevaarlike kalant.

Saailinge van hierdie spesie dring doodeenvoudig oral in en sal selfs in ’n stroom groei. Saadvretende voëls blyk baie lief te wees vir die vruggies (as dit nog groen is, is dit giftig!) en dis dalk hoekom dié pesplant so verstrekkend indring oor die land heen.

Dis maklik om beheer toe te pas deur opkomende saailinge uit te pluk en ouer plante terug te sny en met ’n breëspektrum-onkruiddoder te behandel en ook op te volg daarmee totdat die plante vrek is.

  • Bron: Random Harvest Indigenous Nursery, randomharvest.co.za. Meer inligting: environment. gov.za en invasives.org.za.

Meer oor:  Plante  |  Tuin  |  Indringerplante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.