Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
‘Droogte stop by die tuinhek’

’n Karoo-tuinier laat hom of haar nie onderkry deur die erge droogte nie - veral nie op die dorp Bedford nie, skryf Mariska Spoormaker.

Teetyd in die tuin op die plaas Donkerhoek tydens die Bedford Tuinfees wat vanjaar vir die 15de agtereenvolgende jaar aangebied is. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck

Al wat groen kan wees in die droogteverpletterde Karooveld is ’n groengeverfde paal of ’n John-Deere-trekker, maar selfs dít sien’n mens nie langs die R63 oppad na die jaarlikse Bedford Tuinfees aan die voet van die Kaggaberg (deel van die Winterbergreeks) nie.

Die kraaie op die telefoonpale gaap van die hitte. Bees en skaap drom saam om voerbakke; die veld is lankal stukkend. Bome gee die gees en gryp met kaalgestroopte takke na ’n lug waar die reënwolke net nie wil kom nie.

In 2016 al is daar gepraat van die ergste droogte in ’n honderd jaar. Drie jaar later woed die droogte steeds, maar die jaarlikse Bedford Tuinfees (waarvan die meeste plaastuine is) blom elke Oktober, want hier geld die Karooboere se goue reël: “Die droogte hou op by die tuinhek.”

Kim van Niekerk (regs) en Katie Fritz van die plaas Albertvale in hul tuin ‘gevul met vrede en liefde’. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck

’n Skuiling teen die droogte

Catherine Knox, lid van die tuinfees se komitee, verduidelik hoekom dit só is: “Hierdie is ’n harde omgewing, veral in droogtejare. So, wanneer die boer uit sy verdorde veld huis toe kom, is die plaaswerf met die hoë bome, struike en plante ’n skuiling teen die droogte, ’n balsem vir die siel.”

Tog is 2019 se tuinfees – die 15e agtereenvolgende – ’n prestasie vir Bedford, want selfs fontein- en boorgatwater het begin opdroog.

“Onthou, Bedford en omstreke spog met rateltaai individue – ons cope,” sê Catherine. “Ons maak ’n plan.”

Sowat vier weke voor die tuinfees hét die reën gekom. Nie baie nie, maar darem.

“Wanneer dit reën, reën dit in jou siel,” sê Cathy.

“Eers het ongeveer 18 mm reën geval en daarna was daar nog ’n paar ligte reënbuie. Gelukkig was dit sagte, verspreide reëns en nie donderbuie nie. Die water kon wegsak in die grond. Dit was wonderlik om te sien hoe die natuur op die reëns gereageer het. Die bome het dadelik begin bot, die veldblomme het in ’n see van kleure dankie gesê.”

Die wilde granaat (sommiges noem dit Karoogranaat) het inderdaad kol-kol langs die N10 en R63 geel in die blom gestaan.

Glen Ross se plaastuin spog onder meer met tientalle soorte kleurvolle roosbome. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck

Wat ’n mens ook met vanjaar se Tuinfees opval, is die papawers wat hul kleurespel in dieprooi, oranje, geel, pers en ligpienk speel.

Die blommende papawers het die besoekers behoorlik aan die praat: “Hoekom plant hulle papawers tussen die groente?”

“Ek hoor papawers berook die grond; dan groei die ander plante goed. Dit lok vriendelike insekte.”

“Lyk my papawers aard goed in Karoogrond. Waar kan ek saad kry?”

Cathy sê die papawers was hoeka vanjaar ’n pasella by die fees. “Gewoonlik het die papawers klaar geblom wanneer die Tuinfees aanbreek, maar hierdie jaar het hulle laat geblom omdat die reën laat gekom het.”

Maar of dit nou reën of nie, Bedford sal jaarliks in Oktober Tuinfees hou, sê Cathy.

“Benewens die pragtuine, is van die fees se sterkste kenmerke die besoekers wat jaar op jaar terugkeer. Die fees is skaars verby of die meeste verblyf is reeds bespreek vir volgende jaar.”

Gaan sommer vir die hele naweek Bedford toe, want die Tuinfees strek oor drie dae – Vrydag, Saterdag en Sondag. Buiten vir die tuine, is daar ook demonstrasies, toere, streekdisse, interessante koopgoed en uitstallings.

Nog ’n hoogtepunt van die fees is ’n besoek aan Bedford se Bongweni-township om die blom- en groentetuine van die mense wat daar woon te bekyk.

Die essensies van goeie tuinbou saamgevat in die demonstrasie-tuin. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck

‘Vrede gaan die verstand te bowe’

Die eerste stop is op die plaas Albertvale, ’n skaapplaas naby Bedford. Dit is net 12 km soontoe. Tog voel die grondpad, met sy droogteverpletterde veld aan weerskante, baie langer. Tot die lemme van die windturbines op die horison staan stil.

Dit is nog vroegoggend, maar die son steek al wanneer ’n mens uit die kar klim.

Hierdie Karoomense wat nog kans sien vir boer én tuinmaak in hierdie harde wêreld kom skynbaar uit ’n genepoel waar die DNS van ysterdraad gemaak is. Dit is asof ’n mens in ’n tydkapsule klim om binne sekondes van een wêrelddeel na ’n ander te reis, want hier loop jy op kronkelpaadjies in die koelte van hoë bome deur ’n lushof van plante, blomme, struike én groente.

Die hoenders se gekekkel en gekraai verskaf salige agtergrondklanke. Reuse artisjokke beur tussen die lower uit; roosmaryn, laventel, papawer en roos lok die bestuiwers nader. Die Bybelse frase: “ ’n Vrede wat alle verstand te bowe gaan” draai saam met ’n mens se gedagtes deur hierdie tuin.

Kim van Niekerk, die boervrou van Albertvale, glimlag hieroor en haar glimlag maak haar oë nog sagter: “Ek is bly jy voel die siel van die tuin. Hier is baie liefde.”

Absoluut! Elke jaar gee tuinliefhebbers gehoor aan dié roepstem. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck

Albertvale se organiese tuine het jare gelede onder die vrouehand van Ola van Niekerk tot stand gekom en word vandag deur twee stelle vrouehande in stand gehou – dié van haar skoondogter, Kim, en dié van Katie Fritz (55) wat as huiswerker op die plaas begin het en sedertdien skouer aan skouer met Kim in die tuine werk.

“Die gesonde grond en gesonde plante en groente hou my gesond. Ek was nog nooit in die hospitaal nie,” sê Katie. “En ek sukkel ook nie met stres nie.”

Sy praat oor al die plante, kruie, blomme en struike wat wil lyk asof dit bars van lewenskrag.

“Die plante voel ons liefde,” verduidelik Katie, “en alles is organies.”

Kim en Katie volg belangrike organiese beginsels, soos kompostering, erdwurmtee en biodiversiteit, in Albertvale se tuine.

In die Caltex Bio-Tuin word groente op kreatiewe maniere gekweek. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck

Terwyl ’n mens daar staan, vergeet jy van die Groot Droogte. Dan verstaan jy hoekom so baie Karooboere glo die droogte moét by die tuinhek ophou.

Maar hoe kry hulle die water hiervoor?

“Die ou mense wat eerste die plaashuise kom bou het, het die landskap eers deeglik verken. Al die ou plaashuise is gebou waar daar waterbronne is,” antwoord Cathy.

Dit is veral die plaastuine wat ’n mens trek, maar op die dorpie Bedford self is daar ook ’n fees van tuine om te sien, naamlik die Lang Tuin, die Caltex Bio-Tuin, Eagle Hout se herwinningstuin met sy eko-bakstene (ou plastiek tweeliter koeldrankbottels gevul met onherwinbare stukkies plastiek), die Rosarium en Maasström.

Die kwik styg al hoër op die pad om die plaastuine van Cavers en Donkerhoek en ook die Mill-krieketgronde, 15 km noordoos van Bedford, te besoek. Dit is ongelooflik hoe sommige mense weier om aan die wanhoop van droogte oor te gee.

“Op Bedford en in die omliggende streek was daar nog altyd ’n sterk kultuur van tuinmaak,” sê Cathy.

’n Oomblik van stille nostalgie . . . die meeste tuine spog met kronkelpaadjies en interessante hoekies soos dié. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck
Die tuin op Albertvale is ’n groen oase. Die plaashuis is omring deur organiese blom-, struik- en groentetuine. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck
’n Stoel vir kontemplasie in Eagle Hout se herwinningstuin met sy eko-bakstene in die voorgrond. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck
’n Oomblik van stilte in die leersame en inspirerende demonstrasie-tuin. Foto: Mariska Spoormaker en Heillie Combrinck

‘Dit sal altyd weer reën’

“Tydens droogtes klou ons vas aan die wyse woorde van ’n ou inwoner: ‘Dit sal altyd weer reën, ons weet net nie wanneer nie.’ ”

Mariska Spoormaker
Mariska Spoormaker

Dié woorde bly deur ’n mens se klop draai terwyl jy die afstande tussen die plase op grondpad verby verdorde veld ry.

As jy in ’n goeie reënjaar na Bedford se Tuinfees sou kom, sou jy nooit werklik besef het hoé besonders hierdie tuiniers van Bedford en omstreke is nie.

Die boervroue praat onderling oor die wilde diere wat hul vrees vir mense verloor en plaaswerf toe kom op soek na kos en water, hoe die bietjie reën net betyds gekom het om finale boedel oorgee te keer en hoe dankbaar dier én natuur op die reën reageer.

Laatmiddag op die grondpad terug na die N10 verdwyn die plaastuine van Belmont, Glen Ross, Eildon, Huntley Glenn en Skelmkloof in die truspieëltjie. Wild wat gewoonlik diep in die veld bly, wei vlak langs die pad, want die veld se kosvoorraad is te min. ’n Mens sal nooit hierdie Bedford Tuinfees in die helse droogte van 2019 vergeet nie – die kleur- en lowerryke hoop teen die wanhoop, en die les wat daaruit geleer kan word: Groen denke én doen kan jou help om deur ’n droogte te kom.

Moet weet:

Waar? Barnacles is geleë in Elizabethweg 1, Seaview, Port Elizabeth.

Kontak: Skakel 041 378 2058 of besoek die Barnacles Facebookblad vir die spyskaart en vir meer inligting.

Sake-ure: Die restaurant kan van Maandag tot Saterdag van 09:00 tot 21:00 en op ’n Sondag van 09:00 tot 15:00 besoek word. Gesluit op Kersfees en Nuwejaarsdag.

Nog iets? ’n Beperkte aantal besprekings word vir ’n Sondag geneem. ’n Kurkfooi van R30 is betaalbaar.

Meer oor:  Mariska Spoormaker  |  Bedford  |  Droogte  |  Tuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.