Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Droom van ’n duisend bome

Nie eens ’n pynlike tragedie – ’n moord en ’n onopgeloste saak – kon ’n jong, inspirerende seun van Willowmore se droom vir groen en skadu op sy tuisdorp kelder nie, skryf Mariska Spoormaker.

Wanneer die lente aanbreek, sal daar op Willowmore amper ’n duisendvoud witstinkhout-, olyf-, witkaree-, boerboon-, mopkop- en bottelborselbome in bot staan.

Elkeen van dié bome is ’n klein deel van die groot droom wat Sean Kroon tien jaar gelede as 12-jarige gehad het om ’n 1 000 bome op sy tuisdorp te plant. Op sy 22ste verjaarsdag op 9 Junie is nog ’n boom geplant en is dié droom op sowat ’n 100 bome na bewaarheid.

Sean Kroon in sy ouers se tuin op hul plaas buite Willowmore. Foto’s: VERSKAF

Die eerste boomplantprojek het in 2010 in Knysnastraat, Willowmore se hoofstraat, begin. Dié bome se wetenskaplike naam is Robinia, maar die inwoners noem dit die mopkoppe.

Hierdie mopkoppe, wat skuiling bied teen die moordende Karooson, het nie toevallig in Knysnastraat beland nie. Deeglike navorsing vooraf het dié bome, wat in Engels mop heads genoem word, as die ideale kandidate uitgewys omdat hulle vinnig groei en nie plaveisel lig nie, verduidelik Joanne Kroon, boervrou van Finchley Farm net buite die dorp.

“Nou die dag kom ’n ou tannie na my toe en sy sê: ‘Jy weet, mevrou, ek stap met my inkopies van die een mopkop na die ander mopkop en ek staan in die skaduwee en die son is warm en ek staan so onder die boompie en ek sê dankie, ek kan darem van boom na boom na boom amper al die pad huis toe loop in die skaduwee.”

Sean Kroon het siviele ingenieurswese gestudeer toe hy doodgeskiet en van ’n rekenaar en selfoon beroof is.
Sean Kroon (links agter) saam met die hele span wat in 2014 bome geplant het in die woonbuurt Lovemore, Willowmore.

Joanne verduidelik dat haar seun, Sean, se droom van 1 000 bome vir Willowmore ’n jarelange aanloop het.

“In 1996 het ons na die plaas net buite Willowmore toe getrek. Vir my was dit ’n vaal dorpie. Ek kon sien ander mense het projekte begin, maar dit is nie volgehou nie. My ouma het my altyd geleer: as jy oor iets wil moan, doen iets omtrent die saak of bly liewer stil.”

Joanne het stilgebly en ’n paar verfraaiingspogings met aalwyne, malvas en ander vetplante by die dorp se hoofingange begin aanpak. Oor naweke, wanneer hy by die huis van sy skoolkoshuis op Graaff-Reinet was, het Sean saam met sy ma gewerk.

Die eerste saadjie

Sean se inspirasie vir ’n Willowmore onder boomskaduwee het in 2010 gestalte gekry toe hy saam met sy ma, Joanne, en pa, Michael, verskillende lande in Europa besoek het.

“Ons het begin raaksien wat die mense in die klein dorpies doen om hul dorpe te verfraai en toeriste daar te kry. Op daardie stadium was Sean 12 jaar oud en hy het vir my gesê: ‘You know Mom, we can make a difference and beautify Willowmore.’ Hy het ook gesê dat hy teen die jaar 2020 ’n 1 000 bome in Willowmore geplant wil hê.”

Terug uit Europa het die “Groot Vergroeningsplan” begin. Die mopkoppe in Knysnastraat is, nadat die nodige munisipale toestemming daarvoor gekry is, gou daarna geplant.

Op daardie tydstip was Willowmore deel van die Baviaans-munisipaliteit onder DA-bestuur. Ewald Loock, die oudburgemeester, het Sean se droom vir ’n boomgroen Willowmore gedeel.

As padvinder (scout) het Sean Kroon (in die middel) in 2014 bome in Lovemore, ’n woonbuurt in Willowmore, geplant as deel van ’n gemeenskapsprojek. By hom is sy twee padvinder-vriende, Sinombongo Tibane (links) en Mazizi Jantjies.
’n Onbaatsugtige Sean Kroon het sy gemeenskap gedien, maar was ook soms sku vir die kamera.
Danksy die toewyding van sy ouers, vriende en familie, leef Sean se droom van ’n groen Willowmore voort.

Tien jaar later kan Joanne steeds nie uitgepraat raak oor die munisipale ondersteuning en die span van vyf mans, ses van die Openbare Werke Program (EWP) wat met die eerste boomplantprojek gehelp het nie.

“Ons sou nooit die projek kon deurvoer sonder daardie manne nie. Dit is een ding om te sê jy gaan 1 000 bome plant, dit is ’n ander ding om die gate te grou, want dit is pik- en koevoetwerk deur harde aarde en klip. Dan moet die gate gevul word met kompos en goeie grond, die bome moet gereeld natgelei word, al sulke dinge.”

Sean, wat skoolgegaan het op Graaff-Reinet by Union High, het vertel hoe mooi die sportveld daar vir hom is, omring met bome. Met ’n tuisnaweek op Willowmore het hy na die sportgronde in Waza Park gegaan, rond gekyk, plaas toe gegaan en vir Joanne gesê: “Mom, the perimeters of the sportgrounds must be planted with trees.”

Nóg bome en geld is ingesamel en nagenoeg 60 bome is daar geplant.

In 2012 het Sean en ’n klomp van sy skoolvriende oor ’n langnaweek aan die einde van April 40 bome in ’n park in die Lovemore-woongebied geplant. Die ouer gedeelte van Willowmore het baie bome, onder meer bloekom- en peperbome, maar Sean se mikpunt was om die meerderheid bome te plant in die woonbuurte waar daar min of geen bome was.

Hy het self ook boomsade versamel en laat ontkiem vir sy boom-droom van 1 000 bome vir Willowmore.

“Hy het dit in swart sakkies laat ontkiem . . . hier ’n boompie gekry, daar ’n boompie gekry en dit eers groter laat groei voordat hy dit gaan uitplant het,” sê sy ma. “Elke naweek het Sean sy vriende saamgebring plaas toe en dan het hulle sy bome in sakkies gesien of sy vetplantversameling. Hy wou net bome plant. Sy visie om van Willowmore ’n boomskaduwee-dorp te maak, was definitief uniek aan hom, hy het ’n liefde daarvoor gehad.

“En as een van die geplante bome doodgaan, het hy in sy vakansietye net nuwe bome gaan plant. In Desember 2016, nadat hy matriek voltooi het, wou hy net weer saadjies ontkiem om meer en meer bome te plant.”

Mopkoppe versier vandag Willowmore se hoofstraat. Foto’s: verskaf

In dieselfde jaar het die Baviaans-munisipaliteit egter die veel groter Dr. Beyers Naudé geword en moes Willowmore agter groter dorpe soos Graaff-Reinet in die spreekwoordelike ry staan wanneer dit by dienste en geld vir spesiale projekte gekom het.

“Dit was dus ’n groot uitdaging vir ons, want die nuutgeplante boompies moet elke week water kry – ons kry nie naastenby genoeg reën nie.”

Sean het juis ’n voorliefde vir watertoevoer, erosiebekamping en veldrehabilitasie gehad en hy het baie van sy eksperimente op die familieplaas gebou, getoets en geplant.

In 2017 het hy ’n Kovsie-student geword om siviele ingenieurswese te studeer.

Niemand het getwyfel dat sy 1 000 bome voor 2020 op Willowmore geplant sou wees nie – en net só het almal geglo hy sou ’n briljante waterplan vir die bome bedink.

Waar eens ’n leë sypaadjie voor Willowmore se stadsaal was, staan nou groot groen mopkoppe wat ruim skadu gooi.
Die stadsaal van Willowmore – met ’n leë sypaadjie – voor die mopkoppe geplant is en skadu gooi.

Joanne bly ’n lang ruk stil en sê dan: “Ongelukkig, op 1 April 2017, is my seun, wat op daardie stadium 18 jaar oud was, voor sy studentehuis in Bloemfontein doodgeskiet en van sy skootrekenaar en selfoon beroof. Dit was ’n ongelooflike moeilike tyd vir ons.

“Hulle het twee doppies gekry van die skote wat op die toneel afgevuur is, verder niks nie. Daar was nie ander leidrade nie. Die vermoede was dat dit ’n man was wat op sy eie gewerk het. Drie jaar later is dit . . . I suppose it’s what they call a cold case. Saaknommer 47/04/2017 – murder and house robbery. Dis nou hoe dit is.”

Joanne en Michael doen nie navrae oor enige vordering in die moordondersoek nie.

“As die mens môre gevang word, dan moet jy hof toe gaan en dan moet jy die persoon wat ons geliefde van ons af weggeneem het in die oë kyk.

“Ons wil nie daai persoon sien nie. Ons seun is weg en al vang jy die persoon, gaan hy nie jou kind terugbring nie. Hy gaan jou nie laat beter voel nie.

“Al sou hulle my ’n vuurwapen gee en sê ek kan die persoon ’n 1 000 keer skiet, gaan dit ons nie beter laat voel nie.

“Maar al Sean se vriende het geweet hoe lief hy vir bome is en met sy herdenkingsdiens het mense net bome gebring.

“En sy ander oudskoolmaats van Union High het geld ingesamel en ’n groot klomp geld vir ons kom gee vir boomplant op Willowmore.

“Met sy eerste verjaarsdag ná sy dood (9 Junie 2017) het ’n klomp van sy skoolmaats gekom en ons het op daai dag 45 bome op Willowmore geplant – die meeste om Waza Park se sportveld en ’n paar by Lovemore.”

Vir Joanne en Michael is veral dié bome baie besonders omdat Sean se familie, sy vriende en Michael se Elsenburg-vriende al daardie bome geskenk het.

“Vir ons is dit nou soos bome van herinnering. En wanneer sy vriende steeds ná sy dood kom kuier het, het hulle ook weer bome gaan plant om die Waza Park-sportveld.

“Uit die nagenoeg 100 bome wat nou daar is, is die meeste deur sy maats geplant.

’n Bekende gesig op die dorp – Michael Kroon se ‘rooi trekkertjie’ wat met die dorp se rioolwater die bome gereeld natmaak.
Op 9 Junie vanjaar het Sean se ouma, Moedi (90), vir hom ’n witstinkhoutboom geplant.

Met Madiba se 100ste verjaarsdagviering in 2018 het EWP-werkers gehelp om die 100 bome wat die Union High Class of 1977 geskenk het in die nuutgeboude Down-woonbuurt by elke huisie waar die mense ’n boom in hul erf wou hê, te plant.

Van sy vriende het in die jaar nog bome in Waza Park gaan plant.

“Dit is nou in die mense se erwe omdat die natmaak op munisipale grond deesdae so ’n groot uitdaging is.

“Dis regtig moeilik om die bome nat te maak. My dierbare man het sy trekker en tenkwa beskikbaar gestel en ons kry nou water van die rioolplaas. Al die bome word deesdae natgemaak met die rooi trekkertjie en die rooi wa.”

Meer as drie jaar ná die moord op Sean kom sy vriende steeds kuier. Boomplant is al vir hulle so natuurlik soos mond uitspoel ná tandeborsel.

“Sean het regtigwaar ’n besondere vriendekring gehad, dit was die klas van 2016. Hulle was van gr. 1 tot matriek saam op skool, hulle was soos ’n hegte familie. Ek dink hulle was ’n groep stoutgatte wat die skool seker hoofbrekens gegee het, maar buite die skool het hulle baie goed gedoen.”

Op 1 April 2018, ’n jaar ná Sean se dood, het die vriende weer gekom om bome te plant. Met die herdenking van sy 20ste en 21ste verjaarsdae, het sy vriende en familie ook weer kom bome plant. “Dit is ’n unieke vriendekring wat sy droom laat aanhou lewe,” sê Joanne.

Met die herdenking van Sean se 22ste verjaarsdag, verlede Dinsdag, kon sy vriende weens die Covid-19-grendelstaat nie kom nie.

Sy ouma, Moedie (90), was egter daar en sy het wéér, soos al die jare sedert die moord op Sean, ’n boom ter herinnering aan haar kleinseun geplant.

’n Wonderkind vir ’n seisoen

Met Sean se verjaardag plant van sy vriende altyd nog bome. Van links is sy ouma Moedie (Susan Bell), sy pa Michael, sy ma Joanne, en sy vriende Loyiso Swartbooi, Tommy Cheminais en Kwezi Ansa. Voor is sy vriende Shakes Xosa, Damon Rubidge en Lorana Rubidge.
Michael en Joanne Kroon, Sean se ouers, plant met elke moontlike geleentheid ook ’n ‘Sean-boom’.

Joanne sê hulle kon nog nie by Sean se 1 000 bome uitkom nie. Die kwaai droogte het ’n stokkie in die wiel gesteek en daar is van die bome wat doodgegaan het en vervang moes word.

“Maar ek is baie, baie dankbaar dat die meerderheid van die bome nog staan – daar is nie vandalisme nie en die gemoed van Willowmore se mense is wonderlik – hulle waardeer die bome.”

Willowmore se boomplantprojek sal aangaan, sê Joanne, al maak die droogte en beskikbare water dit al hoe moeiliker.

“Ons gaan nie ophou nie. ’n Boom is ’n lewendige ding, hy vertel ’n storie, hy bring ’n wonderlike atmosfeer na enige dorp.”

Op Willowmore sal elke boom ook die storie vertel van ’n klomp mense wat ’n veldkind se boomdroom tot groot hoogtes laat groei – ’n veldkind wat sy eerste lewenslig ná 14 jaar se gebede aanskou het.

“Ek en Michael was 14 jaar getroud voor ek swanger geraak het met Sean.

“En ek het altyd by die Here gepleit vir ’n kind, al is dit net vir ’n seisoen – en die Here het vir my ’n kind gegee. Vir ’n seisoen. Partykeer wil ons hê dit moet langer wees, maar dit was sy seisoen gewees. Ek het altyd geweet dat hy ’n wonderwerkkind en ’n geskenk van die Here af is. In sy lewe van 18 jaar het hy regtigwaar baie gedoen en as ek deur Willowmore ry, dan sien ek hom in alles.

“Soos ek in die strate ry en ek sien al die bome wat hy direk of indirek geplant het, dan bied dit vertroosting dat ons seun so ’n groot verskil gemaak het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.