Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tuine
Enige tuin het plek vir ’n boom

Voor dit kom by bome koop vir ’n klein tuin, behoort daar goed besin te word oor die plant se volwasse grootte en sy wortelstelsel. Bome met slanke groeiwyses en ligte blaarkrone is ’n goeie opsie omdat hulle nie die beskikbare ruimte heeltemal sal oordonder nie.

Witpeer (Apodytes dimidiata) is ’n immergroen boom wat maklik gesnoei kan word om ’n digter en slanke vorm te behou .

Witpeer (Apodytes dimidiata)

’n Immergroen boom wat maklik gesnoei kan word om ’n digter en slanke vorm te behou. Die blare is glansend en heldergroen met ’n dowwe bleekgroen onderkant. Die bas is glad en liggrys en ’n massa geurige wit blommetjies verskyn van September tot April. Al word die boom oortrek met trosse swart bessies met bloedrooi uitgroeisels – waarvoor die voëls baie lief is – is dit nie ’n morsige boom nie.

Bronne verskil oor die grootte, maar 5 m x 4 m buite hul natuurlike woudhabitat blyk die norm te wees. Die wortelstelsel is nie aggressief nie.

Dit is goed vir gematigde klimate, hoewel dit ook ligte ryp, wind en koue en nat winters verduur.

Keiappel ( Dovyalis caffra )

Die ovaal blare is glansend en voel leeragtig – gewoonlik ’n goeie aanduiding van ’n geharde plant. Lang, skerp dorings skuil tussen die blare wat ’n skelm twee keer sal laat dink om oor jou grensmuur te klim. Die bome is eenslagtig en met meer as een in jou tuin of in die omgewing van verskillende geslagte, sal jy die heldergeel vrugte wat in Februarie kom, kan geniet.

Grootte is ongeveer 4 m x 3 m met ’n vriendelike wortelstelsel. Hierdie is ’n goeie veiligheidsplant – plant sommer ’n ry van hulle.

Drolpeer (Dombeya rotundifolia), is ’n juweel in enige tuin en ’n vinnige groeier.

Keiappels groei oral – in winderige tuine, op droë plekke, in die subtrope en in koue rypgeteisterde gebiede. Dis wys om jong bome op sulke plekke vir die eerste paar jaar met rypdoek te beskerm.

Vanwykshout (Bolusanthus speciosus )

Dis ’n bladwisselende, meerstammige boom met dik sytakke en glansende, neerhangende blare. Die bas is diep gegroef en die hoofstam het uitstaande karakter wanneer die boom volwassenheid bereik. Groot trosse pers blomme word in die lente en vroegsomer gedra wat herinner aan dié van ’n wisteria.

Sy grootte is ongeveer 7 m x 6 m. Hierdie boom met sy penwortelstelsel is ’n stadige groeier, maar grond wat goed dreineer, gereelde water en bemesting kan die groeitempo verhaas. Die boom is rypbestand as volwasse boom, maar jong plante moet vir ’n paar jaar met rypdoek beskerm word.

Laventelboom (Heteropyxis natalensis) is bladwisselend, maar behou van sy blare in subtropiese dele.

Laventelboom ( Heteropyxis natalensis)

Die plant het ’n netjiese blaarkroon met neerhangende glansende donkergroen blare wat eers geel en later roesrooi verkleur in die herfs, voordat hulle afval. Die boom is bladwisselend, maar behou van sy blare in subtropiese dele. Die blare en takkies het ’n subtiele laventelgeur as hulle gekneus word en geurige roomkleurige blommetjies verskyn in die laatsomer tot herfs.

Dit is rypsensitief, maar baie aanpasbaar in gematigde dele. Beskut jong bome aanvanklik in die winter. Dit word sowat 5 m x 6 m groot. Die wortelstelsel kan ’n impak hê op bousels as die boom te naby aan hulle geplant word

Anna Celliers

Drolpeer (Dombeya rotundifolia)

’n Juweel in enige tuin en ’n vinnige groeier. Wanneer die boom nog sonder sy groot blare met hul growwe tekstuur in die laatwinter of lente oortrek staan met wit of babapienk bloeisels, is dit ’n lieflike gesig om te aanskou! Later trek die knoetserige stamme met hul amperswart bas weer al die aandag. ’n Mooi karaktertrek is die belofte van lente wat kom as die liggeurige, massa bloeisels verskyn wanneer die weer nog ysig is.

Dit groei in die winterreënstreek tot aan die kus, in die droë binneland, in subtropiese tuine en in die gematigde dele van die Hoëveld – eintlik oral mits dit goed versorg word en in ’n jong stadium teen swaar ryp beskut word.

Dis ’n goeie skaduboom vir die somer. Dis sowat 6 m x 4 m groot en het ’n penwortelstelsel.

Meer oor:  Anna Celliers  |  Boom  |  Tuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.